About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

20 Wenke vir ‘n Eenvoudiger, Groener Lewe

Green living

Om groener te leef, is dikwels ook om eenvoudiger te leef. Corné Coetzee het na maniere gaan soek wat groen, eenvoudig en nie te ingewikkeld is nie

Niks is eenvoudig nie, lui die wrang gesegde. Dit beteken eintiik dat jy altyd ‘n prys betaal, of dat daar altyd n vangplek is. As ons elektrisiteit in ons huise, skole, hospitale, flieks en ‘n motor vir elke gesinslid wil hê, moet ons baie van ons keuses inboet.

Werklike vars, organiese kos, byvoorbeeld, is skaars en duur. Dit kos ewe veel om ‘n strykyster of ‘n paar skoene te laat regmaak as om nuwes te koop. Stilte, ‘n stadiger pas, ‘n lewe – of soms net wegbreekkanse – na aan die natuur is vir die meeste van ons onbereikbaar. Maar baie van ons keuses is nog ons eie. Ter wille van die planeet en ter wille van ons kinders en hul kinders moet ons ‘n bietjie meer dink oor die keuses wat ons maak.

1. Beplan

Enigiets is makliker as jy dit beplan – van ‘n bank bestuur tot ‘n baba bad – skryf Shirley Conran in haar boek oor huishou, Superwoman. So ook met groener leef. Ja, dit gaan meer dinkwerk kos. By al jou ander take moet jy jou ritte, maaltye, inkopies en ook jou begroting beplan. Maar bietjie vir bietjie maak jy die kopskuif en later word dit al eenvoudiger om die groener keuse te maak.

2. Eet gereeld

‘n Werklik eenvoudige maal met net twee of drie bestanddele: gekookte of gebakte aartappel met olyfolie of botter en roket of basiliekruid, of ‘n sny vars brood met niks behalwe regte botter en dalk ‘n knypie sout nie.

3. Eet stadiger

Wees meer bedag op wat jy eet. Nie vir verslankingsdoeleindes nie. Die doel is om die eenvoudige skakel tussen die aarde, haar wonderbaarlike groeikrag en dit wat ons liggame voed, terug te kry. In Ortodoks-Joodse huise word daar voor elke gang van die Sabbatsmaal gebid. Dis om die mense om die tafel herhaaldelik daaraan te herinner dat die voedsel ‘n gawe is.

4. Kweek jou eie groente

Selfs mense wat nie erg is oor tuin-maak nie, kan by iets soos slaaiblare begin. Probeer babaspinasie-saad in die hande kry. Die gehibridiseerde spinasie groei maklik en vinnig en is ‘n heerlike toevoeging tot slaai, toebroodjies of kitsroer-braaie.

5. Eet in seisoen

Die ketting tussen die plaas en die kos op jou bord is dikwels ongelooflik lank en ingewikkeld. Behalwe dat groente wat buite seisoen is van ver af aangery of selfs aangevlieg is, verloor jy ook alle kontak met die aarde se seisoene as jy enige tyd van die jaar vars aarbeie of swartbessies eet. Hou nóu jou oë oop vir vars aspersies wat so na moontlik aan jou huis gekweek is. Die wonderlke lentegroente se delikate smaak gaan baie vinnig verlore as hulle duisende kilometers ver in koeltrokke vervoer word.

6. Doen dit self

Die meeste van ons het al vergeet van self doen. Dis bevredigend en bemagtigend om self in te lê of te vries. Wat voedingswaarde betref, is vries gesonder as inlê.

7. Bak brood

‘n Winkelbrood bevat by die twintig byvoegings, stabiliseerders, karamel (vir kleur by bruinbrood) en dies meer. Om jou eie brood te bak, is wonderlik terapeuties, om nie te praat van indrukwekkend nie.

8. Mikrogolf

Die waarskuwings oor bestraling en radioaktiewe kos was toe nooit waar nie. Groente behou meer vitamiene as dit in die mikrogolf gaargemaak word en die korter gaarmaaktye bespaar ook elektrisiteit. ‘n Skorsie, byvoorbeeld, kan deurgesny word en snykant na onder vir enkele minute gemikrogolf word, afhangende van hoe jonk hy is. Soetmielies ook. Kitskos.

9. Skoonmaakmiddels

Koeksoda, boraks, wassoda, wit asyn of suurlemoensap en suiwer seep (soos wat jy koop vir wolgoed) kan die basis vorm van byna alles wat in jou huis skoongemaak moet word. Boraks is giftig (jy kan dit as miergif gebruik), maar almal is bio-afbreekbaar. Hier’s ‘n resep vir ‘n eenvoudige algemene skoonmaakmiddel: Meng 11 t koeksoda, 2 t boraks en 2 t wit asyn met 800 ml tot 1 liter water. Of koop organiese skoonmaakmiddels by gesondheidswinkels of Woolworths.

10. Hersirkuleeer

Die wagwoord met hersirkulering is toeganklikheid. Ontwerp vir jou ‘n eenvoudige stelsel van vyf houers in of na aan die kombuis: een vir kompos, een vir plastiek, een vir blikke, een vir skoon papier of kartonverpakking (behalwe seepbokse, dis moeilik om in die herwinningsproses seep uit papier te kry) en jou gewone vullisdrom.

11. Slaapkamer

Koop lakens van suiwer katoen. Die eenvoudige materiaal is lekkerder om teen jou vel te voel, hou veel langer en kos so die aarde minder aan vervaardiging. As jou lakens op is en jou beursie plat: Sny ‘n ou laken middeldeur en stik die ongeslyte sykante aanmekaar vas. Dit sal waarskynlik hou tot jy genoeg gespaar het vir die beste katoenlakens wat jy kan koop. As jy organiese katoen kan bekostig, des te beter.

12. Badkamer

Koop ‘n waterdigte tydhouer vir die stort om almal daaraan te herinner om korter te stort. Terwyl jy besig is, installeer ‘n stortkop wat suurstof by die water “klits” en jy dan minder water gebruik. Beskikbaar by sommige ysterwarewinkels of Pick n Pay Hypermarkets.

13. Lyfgoed

OIyfolie kan ook as lyfroom gebruik word, selfs vir babas. Smeer ‘n halwe teelepeltjie of minder aan jou hande voordat jy tuinhandskoene of skottelgoedwashandskoene aantrek, of net wanneer jy ‘n ruk lank saliglik niks gaan doen nie. Dit neem ‘n rukkie, maar word heeltemal geabsorbeer.

14. Klere

Dis dalk glad nie vir jou eenvoudig om van jou liefde vir nuwe klere af te sien nie. Maar om duursame, eenvoudige en basiese kledingstukke aan te skaf wat jy met kleiner modebykomstighede afwissel, is werklik beter vir die planeet. Miljoene tonne goedkoop klere van sintetiese materiale beland jaarliks op vullis-hope, wat in die eerste plek tydens die vervaardiging, miljoene tonne koolstofgasse die lug ingestuur het.

15. Tuin

Maak jou grasperk kleiner. Dis die deel van jou tuin wat die meeste water en arbeid nodig het, soms selfs ‘n hele klomp elektrisiteit vir die grassnyer ook. Plant struike, inheemse grassoorte, of vervang ‘n deel deur gruis of rivierklippies. Of maak ‘n Zen-tuin.

16. Onthou van die natuur!

Die meeste soorte kantoorwerk hou mense weg van die natuur. Gevolglik is dit moeilik vir stads-bewoners om empatie met die aarde en haar lot te voel. Bestee elke dag ‘n rukkie in ‘n tuin of ‘n park.

17. Potplante

Dis ‘n wonderlike stresontlaaier om elke paar uur na iets te kyk wat groei en dit werklik raak te sien. Koop vir jou kantoor ‘n plant en leer horn ken en liefkry. Boonop haal die meeste potplante skadelike chemiese stowwe uit wat in minuskule hoeveelhede deur matte, verf en plastiekomhulsels afgegee word.

18. Presente

Koop geskenke oor die Internet, en koop groen. Jy spaar brandstof en jy word nie met ‘n oorweldigende aanbod oorval nie. Webwerwe: www.ewt.org.za; www.panda.org.za en www.eco-products.co.za . Daar is talle, soek gerus ‘n bietjie rond.

19. Vakansies

Dink ‘n slag aan die aarde voordat jy jul volgende vakansie beplan. Hou jou oë oop vir plekke wat organies bedryf word. Vra, voordat jy bespreek, wat die bestuur se beleid ten opsigte van groen bedrywe is.

Eenvoud is die opperste sofistikasie – Leonardo da Vinci

Of sny die reisstap – wat brandstofverbruik beteken – heeltemal uit! Ekologies gesien, is die beste vakansie om by die huis te bly. Die geheim is om allerlei goed te doen wat jy graag op vakansie doen: Middae om lees; ure lank in die son of onder ‘n sambreel lê en dag-droom met ‘n lang glas met iets koels daarin langs jou; jouself ‘n manikuur of ‘n pedikuur gee … Jy kan dit tuis mos net so goed doen.

Of hou ‘n kuiervakansie: nooi jou vriende wat jy maande lank nooit sien nie omdat die lewe al hoe meer gejaagd raak. Of doen al daardie werkies wat eintlik ‘n plesier is, maar waarvoor daar nooit tyd is nie, soos om jou foto’s te orden – en in die proses goue oomblikke te onthou. Of pak ‘n piekniek en gaan na jou naaste natuur-reservaat of botaniese tuin.

20. Eenvoud

Dis iets om na te streef. So het Leonardo da Vinci dit al gestel: “Eenvoud is die opperste sofistikasie.”

Artikel deur Corné Coetzee. Hierdie artikel is uitgehaal uit die Januarie 2010 uitgawe van Rooi Rose.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.