Deur: Suzanne Venter. Fotos: Leana Clunies-Ross en Johan Wilke. Artikel uit die Mei 2013 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Kinders leer ons om met nuwe oë na die wêreld om ons te kyk. Twee ma’s en ‘n peetma, Aletté-Johanni Winckler, Sumari Schoeman en Nanette van Rooyen het nuut gekyk en geluister na hul kinders se behoeftes en sêgoed en dit in kreatiewe musiek en boeke verwerk.
‘Musiek is baie erapeuties en ons wil dit gebruik om van kleins af ‘n positiewe verandering in babas en kinders se lewe te maak’
Sedert Aletté-Johanni Winckler ma geword het, pla dit haar dat daar nie ordentlike Afrikaanse wiegeliedjies vir babas is nie, en ook niks met ‘n geestelike inslag nie.
“Ons het vir ons kinders Engelse musiek gespeel, maar ‘n mens word moeg vir die Engels,” sê Aletté wat lank met die idee van ‘n wiegeliedjie-CD geloop het.
Hoewel sy ‘n voorkomskonsultant is en mense haar veral as die Sanger Heinz Winckler se vrou ken, is musiek haar eerste liefde, en sy het al dikwels saam met Heinz by sy optredes gesing.
“Kyk, ek sal dit nie waag om ‘n solo-CD op te neem nie, maar my stem is perfek vir iets soos wiegeliedjies.”
Sy het die idee met haar beste vriendin Sumari Schoeman bespreek. Die twee is al 18 jaar lank vriendinne, sedert hulle saam op Hoërskool Generaal Hertzog op Witbank was, en het ook albei musiek as vak geneem.
“Omdat ek nog nie kinders het nie, was ek maar skepties oor die idee totdat ek by ‘n ooievaarstee was,” vertel Sumari, wat onder meer ‘n aanbiddingsleier by His People Kerk in Johannesburg is en dikwels by musiekproduksies betrokke is.
“Daar hoor ek toe hoe die ma’s kla omdat daar nie ordentlike musiek is om hul babas aan die slaap te sus nie, en net daar bel ek vir Aletté en sê ons moet wegspring!”
Aanvanklik wou hulle bekende Afrikaanse geestelike liedjies, soos Joe Niemand se “Ek sal nie bang wees nie” in wiegeliedjies omskep.
“Ek en Sumari het mekaar ‘n paar dae gegee om te gaan skryf en te kyk waarmee ons vorendag kan kom. Elk het nie gedink ek sou dit kon doen nie, maar toe ek eers vlam vat, was daar geen keer nie. Selfs my ma kon nie glo wat sy lees toe ek van die eerste lirieke vir haar stuur nie,” sê Aletté.
Toe sy en Sumari mekaar weer sien, het hulle so baie lirieke gehad dat hulle onmiddellik voor die klavier ingeskuif het en Sumari het met ‘n vaart losgetrek.
“Dit was soos n worsmasjien,”vertel Aletté. “En ons het so lekker saamgewerk. Ek het die lirieke geskryf en Sumari die musiek.”
CD, DVD & Lullabybel
Die CD en DVD bevat vyf oorspronklike wiegeliedjies, vier bekende geestelike liedjies wat in wiegeliedjies omskep is, twee waar Aletté en Sumari klavier speel, ‘n keurspel van bekende wiegeliedjies en ook ‘n liedjie van Christina Perri “A Thousand Years” wat hulle in ‘n Afrikaanse en Engelse wiegeliedjie omskep het. Daar is ook ‘n liedjie van Heinz, “My seun, my seun“, wat hy vir Lian geskryf het. Heinz en Alette se seuntjies, Lian en Simeon, sal ook in die DVD te sien wees.
In die LullaBybel is daar 24 oorspronlike rympies en gebedjies en ‘n CD met vyf liedjies. Al die versies is nie noodwendig geestelik nie, maar by elke stukkie is daar ‘n gebed vir ma’s.
Net die begin
CUM Uitgewers was so beïndruk toe hulle dit hoor dat hulle besluit het om nie net ‘n CD uit te gee nie, maar ook ‘n DVD en ‘n LullaBybel met versies en gebedjies, alles in Afrikaans en Engels.
“n Mens kan Aletté se mamma hart in al die woorde hoor,” sê Sumari.
Sumari het ook ‘n musiek-terapeut se raad gaan vra. En uiteindelik het sy en Aletté dit reggekry om musiek te maak wat daarop gemik is om babas rustig te maak, veilig te laat voel en nie te oorstimuleer nie.
“Musiek is baie terapeuties en ons wil dit gebruik om van kleins af ‘n positiewe verandering in babas en kinders se lewe te maak,” sê Sumari.
“Vir my was dit belangrik dat kinders van babadae af al moet hoor hoe spesiaal hulle vir die Here is, en in hul eie taal. Jou onderbewussyn hoor dit en dit maak hulle rustig,” sê Aletté. “Maar dit gaan nie net oor ‘n geestelike boodskap nie, ook om musiek te maak wat opbouend is en ‘n positiewe invloed op die babas en kleuters het.”
Aletté se twee seuntjies, Lian (3) en Simeon (1), was die inspirasie vir van die lirieke. “Ek noem Lian ‘My oudste Apie’ en vir Simeon ‘My kleinste knapie’ en dit kom in van die liedjies voor. En natuurlik het ek getoets watter uitwerking die musiek op hulle het. Simeon was een aand krapperig en ek het van die musiek in sy kamer gaan speel en hy was gou rustiger.”
Sumari is Lian en Simeon se peetma en leer baie by die twee knape. “Ek is versot op daardie kindertjies! Ek dink wat my veral fassineer, is dat hulle ‘n konstante sense of wonder het. Hulle verkyk hulle aan alles. Ek wil die lewe deur hul oë sien.”
“Ja, kinders verander alles,” se Aletté laggend, “en die wonderlike vreugde wat hulle bring, kan jy met niks vergelyk nie! Hulle is so real; hulle is wie hulle is,” sê Aletté.
Sy het nie kon droom dat ‘n ander loopbaan sou vlamvat wanneer sy kinders het nie.
“Jy dink mos as jy kinders het, sal jy nie meer iets vir jouself kan doen nie, en hier gebeur presies die teenoorgestelde toe. En te danke aan hulle het ek ‘n talent ontdek, en dis iets wat hulle ook eendag met hul kinders sal kan deel,” sê Aletté.
Kreatiewe Stories
Hoeveel keer raak jou kinders nie iets kwyt, of sien iets ongewoons raak en dan dink jy dit sou nou ‘n oulike storie gemaak het nie?
Die skrywer Nanette van Rooyen het nie net daaroor bly dink nie, maar wel stories daarvan gemaak. Sy is al 15 jaar aan die skryf en het aanvanklik kortverhale vir volwassenes geskryf, maar die verbeeldingryke stories in kinderboeke het haar bly fassineer.
Sy het toe haar hand aan een of twee gewaag wat heel goed gevaar het, maar ná die geboorte van haar eerste kind, Sabina (nou 16), en haar ervarings as ma was daar nie keer nie.
“Ek het nou al agtien kinderboeke geskryf. Wanneer ek ‘n kinderstorie skryf. is ek soos Huppelkind! Die woorde vloei maklik en kleurryk en die ritme is gemoedelik. Die hele proses het net al hoe natuurliker geword sedert ek kinders het. Kinders leer jou om met vars oë na alles te kyk en om wyer te dink; buite die boks. Dis vir my so lekker om myself vreesloos te ‘verplaas’ na ‘n ouderdom ver weg van my eie en hul wêrelde te ontdek.
“Wanneer ek volwasse stories skryf, word ek soos die spreekwoordelike Le Diable Penseur – die denkende duiwel en my skryfwerk is meer intüitief, organies en ernstig,” sê Nanette.
Luisterfyn
Sv hou altyd ‘n notaboekie byderhand en skryf haar kinders, Sabina en Leah (9), se interessante sêgoed neer.
“Hulle het net so ‘n ander blik op die lewe, so ek skryf gereeld sinsnedes in my boekie neer, wat ek weet later ‘n storie sal word. Dit het al so ‘n gewoonte geword dat Sabina en Leah ook nou boekies saamdra waarin hulle notas maak en dan hul éie stories gaan skryf,” vertel Nanette laggend.
“Daar kom wonderlike goed uit kinders se monde. Ek en Sabina het toe sy nog klein was eendag in die Kompanjiestuin gaan rondloop en op ‘n kreupel duif afgekom. Sabina het hom so gekyk en vir my gesê, ‘sy naam is seker Bloudans’, net so, en toe het ek besluit om ‘n groot prenteboek met die naam Bloudans (Juta) te skryf.”
Haar twee dogters was ook die inspirasie agter Nanette se twee mees onlangse boeke, die prenteboek, Leah se meermin, en haar eerste tienerboek, Ek was hier (albei Lapa).
“Ek het jare gelede ‘n reeks leesboeke vir graad een en twee by Juta gepubliseer. Elke boek het op ‘n spesifieke letter gefokus. Sabina was destyds mal oor die see en dit het gelei tot die boekie Sollie die skipper, wat op die letter ‘S’ gefokus het. Aan die einde van die boekie was daar ‘n dolfyn wat ek ‘Sabina’ genoem het.
“Toe ek die boekie jare later vir Leah lees, was sy bitter ontstoke dat ek nog nie ‘n boek met haar naam geskryf het nie, en ek het besef ek sal moet plan maak! Sy het ‘n fassinasie met meerminne, en vandaar die prenteboek Leah se meermin. Sy het inderdaad vir my die slot geskryf!” sê Nanette.
Natuurlik moes sy toe ook vir Sabina ‘n boek skryf… ‘n tienerboek. En dit was ‘n uitdaging.
“Jy moet nooit jou lesers onderskat nie, veral nie ‘n tiener nie! Hulle is ‘n onvergewensgesinde teikenmark. Maar uiteindelik was die pad wat ek met daardie boek geloop het baie leersaam en interessant. Ek het soveel meer van my dogter se wêreld begryp.
“Ek het eendag op baie mooi stensilillustrasies in een van Sabina se skryfboeke afgekom en gesien dat sy ook goeie animé-sketse (Japannese strokiesverhaalstyl) doen. Een van haar vriende het ook vir my ‘n boek oor die Bristolse graffiti-kunstenaar Banksy gegee. Dit alles het my op die spoor van graffiti en straatkuns gebring en ek het besluit om die boek daarom te beplan. Meer navorsing het my by ‘n Engelse kunstenaar uitgebring wat ‘ekologies korrekte’ straatkuns bepleit het en ek het baie daarvan gehou, want ek wou nie ‘n boek oor die ontsiering van ons omgewing skryf nie. Buitendien is dit giftig om spreikanstof in te asem, so ek het van die ekologiese elemente ook ingewerk.
“Uiteindelik het dit ‘n liefdesverhaal vir tieners geword waarin straatkuns die ‘liefdes-briewe’ geword het,” sê Nanette.
Sy bieg dat dit ‘n uitdaging bly om aldag sin te maak van haar kinders se doen en late, selfs al klim sy deur haar stories in hul koppe in.
“Jy moet altyd twee tree terugstaan voor jy jou onbegrip vir hulle wys en baie luister en luister en nogmaals luister. Ek leer baie uit sketse wat my kinders maak. Soms laat ek my deur hul liggaamstaal eerder as hul woorde lei, en ek dink ook nie jy moet altyd skuldig voel as jy nie vir hulle begrip het nie. Geen verhouding kom met ‘n instruksieboekie nie.
“Dis ‘n interessante ontdekkingstog om te sien hoe hulle ouer word, ontluik en individue word. Die moeilikste is om te besluit waar die balans is tussen wat jy moet toelaat en terughou. Maar ek sal dit vir niks verruil nie, my kinders het my lewe verander en verryk,” sê Nanette.
Sy glo ma-wees beteken nie dat jy nie meer drome en ideale vir jouself kan hê nie.
“Dis vir my belangrik dat my dogters moet sien hoe ek as individu ook ‘n lewe het. Daar rus ‘n onus op ‘n ouer om ten minste te probeer om vir hul kinders interessant te bly. ‘n Ma se selfstandigheid behoort vir haar kinders ‘n voorbeeld te wees. En eendag as hulle uit die huis is, wil ek graag hê hulle moet terugkom na ons toe omdat ons vir hulle ‘n bonus is en nie net ‘n wasmasjien of ‘n koskas nie.”
Die stories
Leah se meermin
Die pragtig geïllustreerde boek handel oor die meisietjie Leah wat sien hoe die sement meermin in hul tuin snags lewend word. Sy gaan gesels met haar en gaan op ‘n daaglikse soektog om vir die meermin kos te kry.
Ek was hier
Die eietydse storie speel hom in Groenpunt, Kaapstad, af. Die twee hoofkarakters, Frankie en Milan, gebruik graffiti- en straatkuns om mekaar te laat weet dat hulle van mekaar hou. Musiek speel ‘n groot rol in die boek en daarmee het Nanette haar deur Sabina laat lei.