Die spelmeester van kykNET se nuwe realiteitsreeks, ‘Die Foon’, is een van die mees gehate TV-karakters in die land.
Elke Donderdagaand moet ons kyk hoe hy sy mag gebruik en mense die kans gun om R100 000 te wen – mits hulle na hom en sy leidrade luister. En hom veral nie kwaad maak nie – iets wat byna onmoontlik lyk! Maar ‘n onderhoud met Ray Randall (30) het die teendeel bewys: dis nie sý donker kant wat in die reeks na vore kom nie. Sadisties is hy nie, net ‘n goeie akteur wat sy sagte hart moet begrawe as hy die foon optel.
Die Foon is ‘n realiteitsreeks.. Net jy speel ‘n rol. Wie is hierdie spelmeester?
Hy is ‘n moeilike man, maar nie jou tipiese sepie-baddie nie. Hy is effens sadisties en misterieus, die tipiese karakter waarvan mense nie hou nie – ek is glo nou die dag in een van die Sondagkoerante ‘n “knol” genoem. Ek weet nie eens wat ‘n knol is nie, maar dit beteken die karakter werk.
Ek moet erken ek het ook in die eerste episode geskrik en gedink, sjoe, die man is erg. Hy is kwaai. As mense nie na hom luister nie, sal hy sonder skroom vir hulle sê hulle irriteer horn. Ek kan verstaan dat mense nie van hom hou nie, maar ek moet die ou darem ook verdedig. Die kykers moet onthou die spel-meester gee baie geld weg, en hy verwag van deelnemers om te luister en vir die geld te werk. Hy is baie ryk, jonk en hy weet wat hy wil hê. Rykdom het nie net in sy skoot geval nie, hy het nie familie nie en moes sy agtergrond en moeilike omstandighede te bowe kom. Hy het baie hard gewerk en verwag dieselfde van ander mense, veral as hy sy swaarverdiende geld staan en weggee!
Watter ooreenkomste is daar tussen jou en die spelmeester?
Ons altwee hou van die mooi karre waarmee ons ry! (en Ray lag lekker.) En dis dit. Ek is nie ‘n harde mens nie, inteendeel, ek is alles behalwe soos die karakter. Hy ry met ‘n Bentley en ‘n Lotus en ek ry met ‘n Corsa-dieselbakkie.
Het jy al van die deelnemers jammer gekry?
Heeltyd! Maar dit was veral baie erg aan die begin. Ek probeer nou om ná die opname aan die deelnemers te verduidelik dat ek net ‘n rol speel – al is dit wat hulle betref ‘n realiteitsreeks. Sommige wou nie eens luister nie; hulle wou net mooi niks met my te doen gehad het nie. Maar op die ou end is dit net my werk. Die program is gewild. Ons kry baie goeie reaksie van die kykers, maar hulle voeg altyd by: “Dis net jammer van daardie man …”
Watter soort kind was jy?
As n seuntjie was ek nogal baie uitgesproke. En ek het die eienaardigste goed gedoen. Ek het in ‘n baie godsdienstige huis grootgeword. As van my ma se vriendinne kom kuier, was ek ook soms in die geselskap. En het almal bekyk en sou uit die bloute ‘n “gevoel” kry dat ek iets vir een van die gaste moet sê. Ek het opgestaan, die Bybel oopgemaak en sommer net daar waar dit oopgeval het, ‘n versie gekies, dit neergeskryf, vir die persoon gegee en gesê dat sy dit moet gaan lees. Jare later het soveel van daardie mense na my toe gekom en gesê: “Jy besef nie wat dit vir my beteken het nie.” Baie snaaks, want ek het glad nie besef wat ek eintlik doen nie. En my ma het natuurlik gestraal van trots.
Het jy ‘n aanvoeling vir goed?
Ek dink so. Ek is baie sensitief vir mense se emosies. My aanvoeling is gewoonlik ook reg.
Vertel meer van jou gesin
“Ek het twee ouer broers, Dennis en Jack. My pa se naam is ook Dennis, en dan is daar natuurlik my ma, Glynda. En ons honde! Ons is almal vreeslik lief vir diere. My ma het eendag met ‘n miniatuurworshond-reuntjie by die huis aangekom, en toe later met ‘n tefie … so het die honde meer geword en die res van die gesin het hul deel gekry. Myne is twee tefies, Levinia en Grietjie. Ek los baie keer my honde by my ouers as ek weggaan, en as ons broers die dag saam by die huis is (ons neem altyd ons honde saam), is daar agt worse wat so deurmekaar vleg! Dis baie lekker. En Grietjie is mal daaroor om te swem en goedjies uit die water te duik. Sy klim boom!
Beskryf jou in vyf woorde?
Optimisties, passievol, saggeaard, soms baie skaam. Ek is emosioneel, vol energie, ek hou daarvan om te kuier en pret te hê, maar ek besef ook die noodsaaklikheid van daardie tye wanneer ek die keersy daarvan ervaar.
Die man agter die spelmeester
- Ray is in die Park Lane-kliniek in Johannesburg gebore.
- Hy was in Paul Roos in Stellenbosch op skool, en Ray en Neels van Jaarsveld (die “eisjh”-man) was in dieselfde klas. Hulle was nie toe vriende nie, maar is nou.
- Lindie Stander, wat die rol van die verpleegster Elize in Binnelanders Sub Judice speel, is een van sy heel beste vriende.
- Ná skool het hy vier jaar lank in Taiwan Engels gegee, en het eers op 26 gaan drama swot.
- As kind het hy aan die Eistedfodd deel-geneem en sing glo nie te sleg nie!
- “Ek haat oudisies! Dis so asof jy na die hoof se kantoor toe moet gaan en jou moet bewys.”
- Ray verjaar op 14 November en volgens horn is hy ‘n tipiese Skerpioen. ‘n Baie passievolle mens wat nou en dan jaloers kan wees. As jy ‘n Skerpioen natuurlik een keer verneuk of seer gemaak het, sal hy jou nooit weer vertrou nie, sê hy.
- Hy is gaande oor alle musiek en sy keuse word deur sy bui bepaal. Op ‘n Sondag-oggend moet dit klassieke musiek wees – musiek wat ook goed werk saam met ‘n glasie wyn as dit lekker stormagtig in die Kaap is. Onder plaaslike kunstenaars is die Parlotones sy gunsteling: “Ek is mal oor die emosie in hul musiek.”
- Ray is gek na rooi wyn maar kan dit nie drink nie, want sy bors trek toe en hy begin jeuk. Hy haat bier.
- Ray is bekend daarvoor dat hy graag poetse bak of sommer net agter die bank wegkruip om iemand skrik te maak. “Ek is mal daaroor om die reaksie te sien, maar spring natuurlik 10 m hoog die lug in as iemand so iets aan my doen.”
- Hy het een keer iemand se motorbande afgeblaas om horn terug te kry toe hy kwaad was, maar voel steeds sleg daaroor!
- Ray hou van fantasie en is ‘n baie groot Harry Potter-aanhanger. Hy het al die boeke in die reeks al drie keer gelees en is gek na J.K. Rowling.
- “Water maak my rustig. Naby my huis is daar ‘n groot rots by die see waar ek altyd gaan sit as ek kwaad is of sukkel met iets, en ná so ‘n halfuur voel ek baie beter.”
- Hy haat magsmisbruik en dieremishandeling.
- “Ek is mal oor sokker! En het weer vir Italië geskree. Ek het Italiaanse voorouers, my ma se ouma was een van daardie kwaai Italiaanse oumatjies!”
- Ray hou van visvang en kan nie wag vir ‘n wegkomkans sodat hy weer ‘n lyn in die water kan gaan gooi nie.
Deur Suzanne Venter. Foto deur Steve Karallis vir kykNET. Hierdie artikel verskyn met toestemming vanuit die August 2010 uitgawe van Rooi Rose.