About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Hart vol Mannemoed – ‘n Onderhoud met Jason Hartman

Jason Hartman (29) het my heeltemal onkant betrap.

pic 1Hy is alles behalwe ‘n wannabe, so kom ek gou agter, maar’n doelgerigte musikant met baie musiek en lewens ervaring, ‘n passie vir die natuur en ‘n stoute, skerp sin vir humor. Hy is ‘n gebore Durbaniet en het Afrikaanse, Duitse, Skotse en Franse bloed in sy are. Afrikaans kan hy nie praat nie, maar wel Zoeloe en ‘n bietjie Venda en Shona. “Ek het sedert my kinderdae meer Afrika-tale as Afrikaans gepraat,” vertel hy.

Hy het in Natal op ‘n plaas tussen die berge grootgeword in ‘n goeie huis met goeie waardes. “My pa is ook ‘n musikant en bosbouer en het vyfuur in die oggend opgestaan om te gaan werk, en as hy saans terug gekom het, het hy gaan optree en musiek gemaak.” Sy ouers is geskei toe hy vier was. Sy ma, wat haar eie onderneming in Johannesburg het, was die rots en het hulle almal bymekaar gehou. “Sy is fantasties!”

“Toe ek in matriek was, het ons ‘n paar tawwe jare gehad en om ‘n bestaan te maak het my pa, my boetie en ek ‘n family band begin. My boetie, Scott, was in standerd ses en ons moes hom uit die skool haal. Ons het oral opgetree, van Botswana tot Zimbabwe. Dit was moeilik, maar dit het ons verantwoordelikheid geleer en hoe om professioneel te wees. Ons moes lang ure werk, maaltye oorslaan, dikwels ses dae van die week optree en duisende kilometers reis om dit te kan doen. Ons het byna tien jaar lank so gelewe.”

Hierdie ervaring het Jason baie volwasse gemaak. Dit het hom geleer dat die lewe in ‘n oogwink kan verander en jou heeltemal onkant kan betrap. “Maar as jy deur tawwe tye kom, maak dit jou sterk en leer jou om die lewe te waardeer. Ek wou al soveel keer tou opgooi, maar jy kry krag om aan te hou glimlag, want net soos wat die lewe ‘n slegte wending kan neem, kan dit ook positief draai as die tyd reg is.”

Soos wat nou met die finale uitslag van die Idols-kompetisie met hom gebeur het. Hoe het hy gevoel toe hy hoor dat hy eintlik gewen het? “Ek is mal oor omstredenheid en het gedink dinge kan nogal interessant raak, hoewel ek doodtevrede was met die tweede plek en in elk geval besig was om my eie album op te neem.” Hy glo dat hy baie gelukkig is omdat hy al soveel musiekervaring het. “Die meeste ouens sukkel nadat hulle Idols gewen het, want daarna is hulle skielik weer op hul eie sonder dat hulle die ervaring het om die sukses leer te klim. Ek het reeds my eie band wat baie help. Ek weet wat ek wil hê en hoe om daar uit te kom.”

Hierdie soort toewyding het ook op ander gebiede vrugte afgewerp.  Jason en sy familie is betrokke by verskeie tuinbou-projekte in Tembisa en Diepsloot waar hulle inwoners leer hoe om groente te plant om in hul basiese voedsel behoeftes te voorsien. “Ons het ‘n konsep ontwikkel waar jy vyf soorte groente in ‘n motor band vol kompos kan kweek. Al meer mense wou hê ons moet hulle wys hoe, en in 2000 het ons die idee in plakkerskampe ontwikkel. Ons het al 15 groot tuine in Tembisa waarvoor ons 2 000 bande gebruik het. “Ek hou daarvan om ‘n verskil te maak. Ek voel nou beter as ooit en wil net graag myself wees en suksevol wees,” sê hy terwyl sy stoute kuiltjies bokspring.

*Jason se eerste soloalbum word in September uitgereik. Vir meer inlgiting oor Jason en sy tuinprojekte, kyk by www.jasonsgarden.com

pic 2 Agter die Hartman

Verjaardag: 21 November.

Gunstelingplek: Karkloof in Natal, waar ek grootgeword het. Ons plaas se naam was Demachtenberg.

Gunstelingkos: In die winter hou ek van potjiekos, bredies en kerries. In die somer meer van Mediterreense kos en slaai, vrugte … vars kos.

Watter soort kind was jy? Ek was baie stil. Nie vreeslik stout nie, ‘n bietjie van ‘n loner. Ek het myself besig gehou. Ek het baie daarvan gehou om buite te wees, perd te ry, vis te vang.

Wat laat jou tick? Die natuur en buitelewe. Ek is mal oor die eerlikheid van die natuur – daar is geen pretensie nie. Ek was onlangs in Namibië en sal enige tyd daar gaan bly. Groot, oop ruimtes waar daar niks is nie, laat my hart warm klop. Ek hou nie van geweldig ontwikkelde stede nie. En natuurlik musiek maak.

Is jy ‘n handyman? Ja, ek is mal daaroor om goed met my hande te doen. Ek doen graag leerwerk, maak skoene, beursies – baie primitief, maar ek geniet dit. Dis hoe ons grootgeword het. Op ons plaas was daar nie elektrisiteit en warm water nie, ons het ‘n telefoon gehad as die wind in die regte rigting gewaai het. My eerste werk was ‘n beekeeper op Louis Trichardt, Tzaneen en ander klein dorpies.

Wat maak jou woedend? Onbevoegdheid en verskonings! En natuurlik die verkeer.

Wat laat jou huil? Ontwikkeling. Om te sien hoe ons mooi wêreld vernietig word om plek te maak vir nog meer geboue.

Hoe ontspan jy? Ek gaan vang vis, of gaan berge toe saam met ‘n paar vriende… en dan natuurlik ‘n skuimbad saam met ‘n pragtige meisie.

Is jy die hart en siel van ‘n partytjie of ‘n stille toeskouer? Ek hou beslis van ‘n lekker jol. En dit hang af van hoeveel tequilas ek gedrink het.

Wat in ‘n vrou maak jou kniee lam? Ek hou van sterk, onafhanklike vroue. Vroue wat goed versorg is. lemand wat in beheer is van haarself en haar kan vermaak. My ma is ‘n baie sterk vrou. Ek haal my hoed vir haar af.

Wat moet ‘n vrou vermy as sy jou wil beïndruk? Sy moenie cling en onseker van haarself wees nie. Ook nie oneerlik nie.

En om jou te beïndruk? Doen jou eie ding, vertrou my en wees voorbereid op baie lang ure van passievolle seks!

Hoekom hou jy van vroue? Ek is mal oor hulle. Daar is soveel passie, insig en intuisie en ek hou daarvan as hulle kompleks is. God moet ‘n man wees om iets so ongelooflik te kon maak.

Wat dink jy is belangrik vir ‘n verhouding om te werk? Vir ‘n dak en gebou om goed en sterk te staan het jy stewige pilare nodig wat onafhanklik saamwerk. Elkeen moet homself kan wees en saam moet ons mekaar sterk maak en aanvul.

Artikel deur Suzanne Venter. Foto deur Rober A. Hamblin. Uitgehaal uit die Augustus ’09 uitgawe van Rooi Rose

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.