About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

In die Doolhof

Die artikel is uit die Junie 2011 uitgawe van die Rooi Rose

Toe ‘n mynmagnaat vermoor in sy motor in ‘n spogvoorstad van Johannesburg aangetref is, het joernalis Mandy Wiener nie ‘n idee gehad dat die gebeurtenis sou lei tot die oopvlek van opspraakwekkende komplotte en haar topverkoperboek nie. Sy het met Ilse Salzwedel gesels

Met die lees van Mandy Wiener (28) se topverko-per “Killing Kebble” kom jy diep onder die indruk van haar deeglikheid. Jy sou die soort deeglikheid en omvattende navorsing dalk van ‘n veel ouer joernalis verwag. Sy lag toe ek dit noem. “Ek is ‘n perfeksionis, en pedanties.”

Hoe goed sy is, word verder beklemtoon toe sy terloops vertel dat sy die boek in drie maande geskryf het en huis gebou het saam met haar aanstaande. En sommer in dieselfde tyd getrek het.

Ons gesels dae na haar boek uitgereik is, en net ‘n week na haar troue. Nogal ‘n week om te onthou, want haar boek was nog skaars ‘n dag op die rakke toe is die eerste oplaag uitverkoop. Sy lag lekker, beskeie oor die sukses.

“Ja, ek is eintlik veronderstel om op wittebrood te wees, maar nou ja. Ek is regtig geseend met dié dat die boek juis nou uitgereik is.” (Die week tevore is bendebaas Cyril Bheeka in ‘n sluipmoord doodgeskiet, en nog ‘n prominente lid van die Suid-Afrikaanse onderwereld, die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir, wat glo ‘n moordlys met Bheeka se naam op gehad het, in hegtenis geneem.)

Mandy se opgang in die mediawereld was skouspelagtig. Na ‘n graad in joernalistiek aan die Universiteit van Johannesburg, het sy verkeersnuus vir die radionuusnetwerk Eyewitness News geskryf. Toe word sy en ‘n ander junior verslaggewer op ‘n redelik eenvoudige sending gestuur: Gaan klop aan die voordeure van ‘n paar Houghton-inwoners om te hoor wat hulle van die wateronderbrekings in hul gebied dink. So gese, so gedaan. Toe hulle die slagoffers van ‘n gewapende rooftog in een van die huise word, het Mandy kop gehou en die record-knoppie op haar opnemer gedruk. En huis toe gegaan met die “klankbaan” van die soort traumatiese misdaad wat al talle mense se lewe vir ewig verander het. En natuurlik was dit ‘n veel sterker nuusstorie as waarvoor sy oorspronklik gestuur is.

Katy Katopodis, hoof van Eyewitness News, sê die voorval het haar laat besef hierdie junior verslaggewer is vir groter dinge bestem. Mandy onthou die rooftog as daardie oomblik in haar lewe toe sy sonder twyfel geweet het sy is gebore om ‘n joernalis te wees.

Sy is veel meer as die Kebble-joernaiis. Waar ‘n storie in Johannesburg breek, kan jy maar weet Mandy Wiener is op pad. So het ons haar hoor verslag doen uit die middestad van Johannesburg waar ‘n babadogtertjie pas in gewapende onluste op haar ma se rug doodgeskiet is. Sy het ook uit Khutsong verslag gedoen terwyl geweld oral om haar losgebars het. Byna, dink ek, soos die harde-baard-joernaliste van twintig jaar gelede.

“Ek is,mal oor ‘n scoop. En oor die adrenalien. Daar is niks soos adrenalien wat deur jou are bruis as jy van die toneel af verslag doen terwyl ‘n storie hom om jou ontvou nie.”

Toe sy gestuur is om verslag te doen oor die dood van Brett Kebble in, wat vermoed is, ‘n mislukte motorkaping, het sy geen idee gehad hoe daardie eenvoudige opdrag haar lewe sou verander nie.

Sy het geweet hy was ‘n hoeprofiel-myn-magnaat, berug (vir sekere saketransaksies) en bekend (en bemind) vir sy oop hand vir onder meer kunsprojekte. “Ek het nie die vaagste benul gehad van die omvang van sy sakebedrywighede of die stories daaragter nie.” En natuurlik ook nie van die katnes wat sy dood en die Skerpioene se ondersoek daarna sou oopkrap nie.

Dit was ‘n koue aand in September 2005, en die kapingsteorie het in baie kringe opslae gemaak. “Baie mense het geglo hy is om politieke redes doodgemaak. Ander het gedink dit was ‘n sluipmoord uit die onderwereld, nog ander dat dit selfmoord was.”

Vyf jaar later het sy in haar boek nie net die gebeure van die aand gerekonstrueer nie, maar ook die verskillende stukke van ‘n baie uitgebreide, ingewikkelde legkaart op ‘n eenvoudige manier vir die gewone leser uitgepak. Sy was immers daar elke keer wanneer ‘n nuwe kinkel in die Kebble-kabel ontvou het. In die hofsaak het sy die gebruik van Twitter as sosiale nuusbron gevestig met uiters insiggewende twiets oor wat in die hofsaal aan die ontvou was. Luisteraars na die Eyewitness News-nuusnetwerk is op die punte van hul stoele gehou met al die intriges en opspraakwekkende feite wat uiteindelik ook tot die skuldigbevinding van Jackie Selebi, nasionale polisiekommisaris, sou lei. Die ondersoek na Selebi sou ook die einde van die Skerpioene beteken, want dit het die sluimerende wrywing tussen hulle en die polisie op die spits gedryf en oudpresident Thabo Mbeki het besluit om die eenheid te ontbind. (Maar geweier om Selebi af te dank, al was daar afdoende bewyse van sy onregmatige optrede.)

Kebble se dood het ook die regerende party in ietwat van ‘n slegte lig gestel, want net maande tevore het hy in ‘n dokumentere TV-program allerlei bewerings gemaak teen een van die faksies in die ANC. Dit op sigself sou ‘n mindere joernalis dalk laat besluit het om nie vyf jaar van haar lewe aan ‘n hofsaak te wy nie.

Die feite wat in die hof ontvou het, was byna vreemder as fiksie. Mandy se vertellings lees soos misdaadfiksie – as dit as storie voorgele is aan ‘n uitgewer, sou hulle dalk gedink het al die intriges kan onmoontlik nie binne een storie voorkom nie.

Sy slaag meesterlik daarin om die moord op die sosiale vlinder Hazel Crane, die Israelse Mafia en ander ewe vreesaanjaende karakters, dwelmkartelle, nagklubdeurwagte op steroiede, sluipmoordenaars, smokkelsindikate, motorfietsbendes, ‘n korrupte polisiebaas en ‘n wannabe Mafia Don met mekaar te verbind sonder om ooit die storie van Brett Kebble uit die oog te verloor. En sonder om een maal kant te kies of die storie sensasioneel te maak – ‘n sonderlinge gawe in ‘n mediawereld waar sensasie verkoop.

Vir haar navorsing het Mandy nie net deur hofrekords en koerantberigte gelees nie, maar onderhoude gedoen met elke moontlike rolspeler in die ingewikkelde verhaal. Sy het ure bestee om die volle verhaal te hoor by mense soos Mikey Schultz, Nigel McGurk en Faizel “Kappie” Smith, die drie mans wat volgens hul eie erkenning gehuur is om Brett, glo op sy versoek, te vermoor. Die afgelope vyf jaar het sy ook vir Glenn Agliotti, wat aangekla was van die moord op Kebble, baie goed leer ken – in so ‘n mate dat hy haar dikwels met eksklusiewe nuus vertrou het. “En ek aanvaar volle verantwoordelikheid daarvoor dat ek horn aan Twitter verslaaf gemaak het,” se sy laggend.

Sy het ure bestee om die volle verhaal te hoor by mense soos Mikey Schultz, Nigel McGurk en Faiza “Kappie” Smith, die drie mans wat volgens hul eie erkenning gehuur is om Brett, glo op sy versoek, te vermoor

Die enigste mens wat nie met haar wou praat nie, was Ingrid Kebble, Brett se weduwee. Hieroor klink Mandy opreg spyt. “Dis jammer, want Brett is nie meer hier om hom teen die skinderstories te verdedig nie, en dit sou goed gewees het as sy in ‘n mate namens hom kon praat.”

Die skinderstories oor die sakeman lees soos iets uit ‘n rolprent: bedrog, manlike prostitute, uiters vreemde vriende, skelm vennote …

Dat die boek publikasierekords opstel, is geen verrassing nie – veral in ‘n land waar misdaad soms nie eens ‘n rimpel op die dam maak nie.

Die prestasie is glad nie sleg vir ‘n plattelandse meisie van Polokwane nie. “Ek kom uit ‘n gewone, middelklas- Joodse gesin. Ek weet nie regtig waar my belangstelling in joernalistiek vandaan kom nie. Dis seker maar omdat die radio in ons huis altyd aan was. Daar was ook altyd tydskrifte en koerante. Ek het ‘n foto waar ek as baba in my stootkarretjie sit terwyl ek ‘n Newsweek ‘lees’.”

By UJ was sy joemalis vir RAU Radio, waarna sy haar by die baie gewilde 702-radiospan aangesluit het. Behalwe die skryf van verkeersnuus, het sy ook ‘n bietjie sportnuus geskryf. En snags luisteraars se oproepe vir moontlike uitsending gesif. “Jy het geen idee waarna jy alles in die nag moet luister nie,” onthou sy met ‘n lag.

Die vreemde kombinasie van ervaring het haar waarskynlik deeglik voorberei vir wat sy moes doen om Kebble se verhaal te kon vertel. Want dit het geduld geverg, en sy moes ‘n uiteenlopende klomp mense se vertroue wen. Dis op stuk van sake nie elke tweede joemalis wat by ‘n selferkende moordenaar aan huis kuier om sy verhaal te vertel nie. Wat was die vreemdste gebeurtenis tydens die skryf van die boek? “Seker om in News Cafe in te stap waar Mikey Schultz tussen ‘n klomp van sy vriende sit om hom ‘n vertroulikheidskontrak te laat teken. Hy het dit geteken, maar as Mickey Mouse.”

Sy vind dit fassinerend dat so baie karakters uit die skadukant oop en bloot tussen ons leef. “Jy sal nie glo hoe baie van hul transaksies word oor etes in bekende restaurante beklink nie! Hulle sit in koffiewinkels om ons en kuier. Ons besef nie die omvang hiervan nie.”

Wat het die boek haar geleer? So skryf sy self in Killing Kebble: “Ek het die inherente waarde van konsepte soos lojaliteit en vertroue geleer. Vir baie van die mense waarmee ek onderhoude gevoer het, weeg iemand se woord baie swaarder as ‘n regsdokument of handtekening.” Hulle het hul stories vertel”, skryf sy, met die geloof dat sy dit objektief, korrek en met integriteit sal vertel. “Ek hoop ek het dit gedoen.” Onthou, verduidelik sy, in die wereld waaruit Schultz, McGurk en Smith kom, vertrou jy nie ‘n joernalis met jou storie nie, want dit sal waarskynlik sensasie word of verdraai word.

Vrees sy nie vir haar lewe na al die opspraakwekkende onthullings nie? Sy kyk my half verbaas aan. “Almal vra my dit, Hoekom moet ek bang voel? Ek voel glad nie onveilig nie. Ek het my boek deursigtig geskryf en vertel bloot almal se stories. Ek speel nie regter nie, maar los dit vir elke leser om self te besluit.”

Ons groet, want ‘n volgende joemalis wag reeds om haar te sien. En ek weet dat daar, na die boektoer (en hopelik ‘n kans om die wittebrood in te haal) ongetwyfeld nog baie groot stories op Mandy Wiener wag. Haar soort joemaliste is baie yl gesaai.

SO SKRYF SY OOR HULLE

Mikey Schultz, wat uiteindelik die sneller getrek het, is ook gevra om Daniel Nortier, ‘n Kaapse sakeman, te vermoor in ‘n poging om die wankelende Kebble-sakeryk te red.

Maar Mikey kon dit nie oor sy hart kry nie. Hy vertel hoe hy Kaap toe gevlieg het en by die huis verbygestap het om te besluit of daar ontsnaproetes is as hy sou besluit om hom in die oprit voor sy huis te skiet. Toe hy besluit om ‘n paar foto’s te neem vir latere beplanning, het hy ontdek hy het nie ‘n kamera nie, en na ‘n nabygelee apteek gery om ‘n weggooibare kamera te gaan koop.

Terwyl hy terugstap na sy motor, gebeur die ding wat hom laat besluit het hy kan nie die moord pleeg nie. “(Sy) jong kinders en hul ma het uitgestap gekom, en dis toe dat ek daarteen besluit. Ek het vir myself gese as daardie ou kinders het, wil ek dit nie doen nie.” Hy het Nortier nooit vermoor nie.

Mandy doen dwarsdeur die boek baie moeite om ‘n volledige prentjie van Brett Kebble te skets. Sy het met almal gepraat, van sy naaste personeel tot familie, vriende, medejoemaliste en ook Roger en Guy Kebble, sy pa en broer.

Sy gaan haal die verhaal by sy kinderdae as die kind van ‘n mynwerker, en slaag daarin om hom uit te beeld as meer as die skelm sakeman wat maatskappye onder sy beheer uit meer as R900 miljoen bedrieg het. So leer jy ‘n man ken wat eens die moderne Barney Barnato genoem is, die “oogappel van die mynbedryf”, ‘n vrygewige weldoener wat onder meer ruimskoots vir die kunste gegee het. Jy lees oor sy charisma en joviale persoonlikheid, en van sy gekultiveerdheid. “Hy het baie van ‘n klomp goed geweet, van sigare tot wyn en kaas,” vertel Laura Sham, sy persoonlike assistent.

Brett se hegte verhouding met sy kinders word ook belig. Hy het vanwee sy sakebedrywighede die helfte van die week in Johannesburg, weg van sy gesin in Kaapstad, gewoon. So lui die hartroerende SMS tussen hom en Hannah, een van sy dogters, skaars twee weke voor sy dood: “DEAR DAD IM 10 | feel great but it don’t feel rite wish u wer here.” Waarop Brett, in Johannesburg antwoord: “Dear Hannah. You are correct that I shud b w u tnite. Sorry my baby. I DO LOVE YOU! Xxx Dad”.

Faizel "Kappie" Smith, Mikey Schultz en Nigel McGurk by Mikey se troue in 2003.
Faizel “Kappie” Smith, Mikey Schultz en Nigel McGurk by Mikey se troue in 2003.

Mandy skryf sonder omhaal oor bekende politici wat direk by Brett se beursie baat gevind het (in die vorm van groot bedrae kontant en saketransaksies) sodat hy sy invloed op die regerende party kon uitbrei.

Hy het lede van die ANC Jeugliga, onder meer die huidige minister van sport, Fikile Mbalula, rojaal onthaal, en ook vir hulle voorafbetaalde selfone gekoop waarop hy direk met hulle kon kommunikeer. Die bestuurder van sy huishouding, Andrew Minnaar, vertel van partytjies waar Mbalula “in omtrent ‘n uur” ‘n bottel peperduur Johnny Walker Blue Label sou opdrink. Sy vrygewigheid het, volgens sy maatskappye se boeke, ook nie by duur whisky gebly nie, maar selfs huise en motors ingesluit. (Die beweringe van politici wat by Brett se vrygewigheid baat gevind het, is ook deur Roger en Guy Kebble bevestig.)

Die rol wat John Stratton, Brett se 72-jarige regterhand, in Brett se ondergang en uiteindelike dood gespeel het, word ook in detail belig. Terwyl die Kebble-ryk reeds baie wankelrig was en daar nie geld was om al die rekeninge te betaal nier, het Stratton steeds maandeliks sy salaris van honderde duisende rande getrek.

Clint Nassif (wat uiteindelik betaal is om die assisted suicide te reel waarin Brett sou sterf) vertel hoe die Kebbles en Stratton sy hulp ingeroep het om van mededingers en selfs regslui “ontslae” te raak teen R2 miljoen per kop. (Die uiteindelike prys op Brett se kop sou ook R2 miljoen wees, maar sy drie moordenaars het maande gesukkel om hul betaling uit Clint Nassif te kry.)

Stephen Sander, Nassif se vennoot, het in die hof getuig dat hy sy opdragte net van Stratton gekry het, nie van Brett nie. Hy het selfs onder eed getuig dat Stratton hom ook op Brett, Guy en Roger Kebble laat spioeneer het. Enkele maande voor Brett se dood moes hy op Stratton se aandrang ‘n profiel oor Brett opstel. Hy was glo baie ontsteld omdat Brett na bewering “R400 miljoen uit rekeninge geneem het sonder om hom (Stratton) te vra”. Ironies genoeg is Stratton se hulp ingeroep om Brett te help om sy maatskappy-finansies uit te pluis. Hy het voor die verhoor Australie’ toe gevlug en nooit in die verhoor getuig nie. Daar bestaan ook nie ‘n uitleweringsooreenkoms tussen SA en Australie nie.

Sou Brett se geskiedenis anders verloop het as sy paaie nooit met die van Stratton gekruis het nie?

Die moord op Brett en die “three bumbling assassins” (soos Schultz, McGurk en Smith in ‘n stadium in die media beskryf is) word in detail gerekonstrueer. ‘n Mens kan nie help om die arme Brett jammer te kry nie. Die eerste aand word die moord uitgestel na die volgende aand, en die tweede aand oorverhit die drie moordenaars se motor op pad na waar hulle Brett moet vermoor. Omdat hulle nie selfone by hulle het nie, kon hulle nie vir Brett laat weet nie. Die ry intussen op en af in die strate op soek na hulle, iets waaroor hy volgens Nassif woedend was.

Die volgende aand sou Brett wel sterf. Maar eers nadat die vuurwapen wat Mikey gebruik het, twee keer nie wou vuur nie. So vertel Mikey oor Brett se laaste oomblikke: “He looked at me to say, ‘What the fuck are you doing? Please get this over with.’ Like, you could see he was not in a good place.”

• Nassif, Schultz, McGurk en Smith het uiteindelik vrywaring gekry vir die moord op Kebble in ruil vir hul getuienis in die hofsaak teen Glen Agliotti. Agliotti het weer vrywaring gekry vir sy getuienis in die saak teen Selebi.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.