About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Lekker Zef – Bekendes se Opinies oor Nuwe Afrikaanse Musiek

Ons is darem nie almal so nie. So Zef nie. Of is ons? Ilse Salzwedel het gaan hoor wat bekendes dink van die sogenaamde Zef-Musiekbeweging.

Vanjaar was nie net die jaar waarin miljoene Suid-Afrikaners sokker ontdek het nie. Dit was ook die lekker Zefjaar toe zef cool geword het, en ‘n paar kletsrymers die Suid-Afrikaanse musiektoneel getref het en groot rimpels op die plaaslike dam gemaak het. Die hoof rolspelers wat die land aan die gons het, is Jack Parow en Die Antwoord.

Jack Parow (28) se bekendste handelsmerke is sy pet met die lang sonflap, sy strokies-prent-slaapbroek en sy hangsnor. En kan hy rap! Of kletsrym, soos jy in suiwer Afrikaans sê. Sy regte naam is Zander Tyler, en hy is passievol oor Afrikaans. En vir ‘n outjie wat sê dat hy nog nooit uit Belville was nie, moet dit wonderlik wees om danksy sy nuutgevonde roem nou die wêreld te kan sien. (Hy toer later vanjaar na Europa, Australië, Nieu-Seeland en Japan.)

Hy was in Durbanville op skool, hou van rugby, en woon nog by sy ma. Zander/Jack doen al die afgelope dekade sy musikale ding, maar het vanjaar, na nege jaar, eers in Afrikaans begin kletsrym. Sy bekendste liedjie is “Cooler as ekke” en die video daarvan op YouTube is tot met die skryf van hierdie artikel al meer as 821 000 keer in sewe maande gekyk.

Aan die ander kant van die spektrum, ver verwyderd van Jack Parow se humor, kry ons Die Antwoord met hul meer aggressiewe, skokkend-uitdagende aanslag.

Die Antwoord bestaan uit die klein-botteltjie-gif blondine met die versnipperde kort kuifie, Yo-Landi Vi$$er, Ninja, alias Waddy Jones (gebore Watkin Tudor Jones), en DJ Hi-Tek, die outjie by wie se “phat-rap-rave-beats” (overgesetsynde elektronies gemanipuleerde musiek) alles begin het.

Tegnies gesproke is Die Antwoord nie ‘n Afrikaanse groep nie. Hulle kletsrym meestal in Engels, maar baie van die slang in hul liedjies is so Afrikaans as kan kom.

Dis nie net Yo-Landi se heliumstemmetjie of Waddy se tatoeëermerke wat die aandag trek nie, maar ook die, uhmm, sê maar ietwat fleurige taalgebruik. Nie fleurig soos in taal wat jy voor jou ma of die predikant sal gebruik nie – fleurig soos in gekrui, gewaagd, en ja, dalk kommin. Lekker zef, my bra.

Maar iets doen hulle reg, want hul You-Tube video is al meer as 5,3 miljoen keer gekyk (‘n groot deel daarvan nog voor hul musiek op CD beskikbaar was). Interscope, dieselfde platemaatskappy wat groot name soos Black Eyed Peas, Lady Gaga, 50c en Eminem bemark, het dadelik kennis geneem van die trio van die suidpunt van Afrika, en vir hulle ‘n multi-miljoen dollar kontrak aangebied.

Die Antwoord het aan die begin van die jaar op die toneel gebars met “Enter the Ninja”. Hul musiek was slegs op die Internet beskikbaar, maar voor jy kon sê “zef” is hulle na ‘n groot internasionale musiekfees genooi. Hulle is tans op ‘n uitgebreide oorsese toer, al verstaan hul miljoene aanhangers nie ‘n snars van die Afrikaans wat hul musiek so ‘n unieke geur gee nie.

Musiekkenners meen Die Antwoord was ‘n slim bemarkingsbesluit.

Is hulle regtig so zef? Die wat weet, wil nie sê nie. Al wat ek kon vasstel, is dat Waddy en Yo-Landi ‘n paartjie is (party sê hulle is getroud, maar hul webwerf ontken dit), dat hulle met ‘n Jeep ry en ‘n dogtertjie het met die naam Sixteen wat vanjaar begin skoolgaan het. Of Ninja regtig in die tronk was soos hulle op hul webwerf beweer? Blykbaar nie. Hy is glo eintlik ‘n gegradueerde wat jare lank al aan sy musikale deurbraak werk. En wie sou kon dink Yo-Landi het klassieke musiekopleiding gehad?

Hoekom luister mense na hulle? Ek hou die meeste van Andrew Miller, ‘n plaaslike kenner van die jeug en kultuur, se verduideliking: “Dit bied vir voorstedelike kinders en mense van advertensie-agentskappe ‘n groot, veilige lens op die ghetto-kultuur. Die soort mense wat daarvan hou om konseptueel met sulke dinge te speel, maar wat hul broeke sal natmaak as hulle ooit regtig in ‘n ghetto beland.” (www.bizcommunity.co.za 24/5/2010.)

Maar wat dink bekendes wat behoort te weet? Is hierdie verskynsel regtig nuut, en is dit nie maar net die jonges se Voëlvry nie?

Ian WesselsIan Wessels, gewilde RSG-omroeper en aanbieder van Loslip, het sy (reguit) mond behoorlik vol gehad oor wat zef is en wat nie.

“Valiant Swart sing in een van sy liedjies dat ons almal eintlik maar ‘n bietjie zef is. Hy’s waarskynlik reg, maar jy sien die zef baie makliker in ander mense raak as in die spieel.

“Die begrip ‘zef’ laat hom ook nie sommer objektief bekyk nie. Kyk om jou na die motors by ‘n rooi verkeerslig en jy sal sien die chroom mags waarvoor die een ou gril, is die ander een se trots.

“Kan musiek zef wees? Ek scheme so,maar wat maak dit so?

“Niks is immers goed of sleg nie, maar wat ons dink, maak dit so. ‘n Mens dink dadelik aan die lirieke wat dalk nie aan streng Calvinistiese norme voldoen nie, maar alles is tog op ‘n manier relatief. Gemeet aan die norme van die tyd was dit redelik voor op die wa om destyds prontuit te verklaar: ‘Ek ry op my perd, my blink vosperd en ek kom om jou te haal.’ En as jy glo die man moet die jagwerk doen, vergeet dit: ‘Want jy het gesê as ek jou wil hê, dan moet ek jou kom haal.’ Om te wat? Die samelewing respekteer al van die grotman se tyd af ‘n man wat weet wat hy wil hê … al was hy toe nog nie ‘n ‘loslappie’ genoem nie.

“Het jy ooit iemand op ‘n radio-inbelprogram hoor kla as ‘Liewe Lulu’ speel en die vraag word summier gestel: ‘Sal jy vanaand by my kom doedoe?’ Om te wat? Seker nie omdat die stomme kind tot die dood toe uit-geput is nie?

“Die punt wat ek wil maak, is dat ons soms iets toejuig as ‘n sekere kunstenaar op die maat van ‘n vrolike deuntjie daaroor sing, en ander kere maak ons daardie selfde ding af as zef of kommin as ‘n ander kunstenaar daaroor sing. Is dit nie dalk ‘n bietjie dubbele standaarde as jy jou mantel so na die wind draai nie?

“Wie onthou nog die dae toe elke rock-groep in baie mense se oë direkte afstammelinge van Satan was? Hande op, diegene wat ooit die boodskappe gehoor het wat jy sou hoor as jy die plaat agteruit speel. Ek wonder nou nog wat het die eerste dominee besiel om sy platespeler so deur sy agterent te trek.

“Ek hoor op die Woordfees op Stellenbosch van iemand wat navorsing gedoen het – vir ‘n meestersgraad nogal – oor die struktuur van Afrikaanse musiek teenoor die van Engelse liedjies. Die bevinding was dat die meeste Afrikaanse liedjies dikwels net drie drukke bevat, terwyl die gemiddelde Engelse liedjie meer as twee keer soveel het. Hou ons dalk net nie van baie note nie?

“As jy in gedagte hou dat een van die betekenisse van zef en kommin eenvoudig is, maak dit nogal ‘n sak deurmekaar toffies oop. Dink daaraan dat die Klipwerf Orkes oor twintig jaar met elkeen van twintig pogings goue status bereik het. Sommige boereorkeste neem ‘n hele CD in een sessie op – insluitende vier nuwe komposisies met die eerste take1. Dit gebeur spontaan en sonder beplanning. Had digters maar sulke opdringerige muses! Tog noem niemand boereorkeste zef nie – ten minste nie in stoere Boerevolk-geledere nie – of is dit omdat instrumentele musiek nie zef kan wees nie?

“Is dit so dat zef musiek aan die toeneem is? Indien wel, wat sou die dryfveer wees – dalk die vryemarkstelsel se vraag en aanbod wat naarstiglik probeer om in die behoeftes van groeiende getalle zeffers te voorsien? As Gatswaai Treffers Volume 317 nie goed genoeg verkoop het nie, sou hulle mos nie volume 318 vervaardig het nie, of hoe?

“Op Loslip kry ek e-posse van mense wat na die voorspelbare formule van rymelary sonder ‘n sinvolle boodskap – op die maat van nog ‘n Duitse bubblegum tune – as ‘hemelse klanke’ verwys en die kunstenaars aanraai om ons Hemelse Vader te dank vir hul godgegewe talent. (Terwyl ek soms dink dis eintlik ‘n straf om soos party te klink.) Dus: terwyl sommige mal is oor die musiek, word ander mal van die musiek!

As ons almal dan ‘n bietjie zef is, sou ek liewer zef en oorspronklik wou wees as ‘n tweederangse na-aper. In ‘n see vol vis was die eerste ou wat kans gesien het vir ‘n oester mos ‘n pionier, of hoe bokkie?

“Wat onderskei hierdie ‘onskuldige’ rympies van die van Jack Parow of Die Antwoord? Dalk die angel in die stert? Hoekom speel radiostasies wat nooit met ‘n tang aan ‘n Afrikaanse liedjie sal vat nie, skielik hierdie musiek? Omdat dit so zef is? Nee, stellig nie. Die antwoord is eerder omdat hulle dink hul luisteraars sal daarna wil luister. Geen ander rede nie. En hoekom dink hulle die luisteraars sal dit wil hoor? Omdat dit anders is. Dis dalk zef vir sommige, maar dis anders genoeg om mense hul ore te laat spits. Baie dink dis oorspronklik, kreatief, vernuwend en dalk selfs dapper. Dit praat in ‘n hedendaagse idioom wat op ‘n manier sonder die valsheid van pretensie is. Dit sit nie voor in die kerk en knyp die kat saans in die donker nie. Dalk is Jack Parow die moderne man wat weet wat hy wil hê, en wat hy wil sê. Byna soos Casper de Vries vir wie mense lag omdat hy die goed sê wat hulle dink, maar te lafhartig is om te sê.

“As almal wat musiek maak heeltyd probeer om soos ander suksesvolle kunstenaars te klink, raak dit gou vervelig. Dis ongelukkig die roete wat vele talentlose hoopvolles inslaan. Hulle wat onthou word, waag met eie style en hul kreatiwiteit borrel spontaan in nuwe rigtings uit en steek bestaande grense oor.

“As ons almal dan ‘n bietjie zef is, sou ek liewer zef en oorspronklik wou wees as ‘n tweederangse na-aper. In ‘n see vol vis was die eerste ou wat kans gesien het vir ‘n oester mos ‘n pionier, of hoe bokkie?”

Party mense wou Anton Goosen dekades gelede braai oor die kommingeit van sy Boy van dieAnton Goosen Suburbs. Hy meen zef is ‘n nuwe kulturelve beweging.

“Die Antwoord en Jack Parow vermag wat die Suid-Afrikaanse rap-groepe voor hulle nie kon nie deur bloot na ons samelewing te kyk en dit as dryfkrag en inspirasie te gebruik. Alle lande het sogenaamde trailertrash, of zeffers dan, as ‘n subkultuur.

“My eie ‘Boy van die Suburbs’ het gehandel oor die zef deel van die Afrikanerdom, en voor dit was daar ook ander sulke songs. (‘My boetie die ‘prentice panelbeater’ ens).

“Mense wat die fenomeen genoem Die Antwoord nou vergelyk met Zoid, Fokofpolisiekar en Voëlvry, sit die pot heeltemal mis. Die Antwoord se liedjies is nie skoktaktiek nie – dis slim sosiale kommentaar.

“Die Antwoord se Watkin Jones, voorheen Max Normal, het die beweging baie intelligent uitgewerk en bemark, en die meeste musikante waarmee ek dit al bespreek het, gun horn die sukses op sy jarelange pogings. Jack Parow se ‘Cooler as ekke’ is volgens my op standaard met enige ander Afrikaanse musiek wat sosiale kommentaar betref. Hy en Die Antwoord het die eerste keer in dekades vir vernuwing in Afrikaanse musiek gesorg.

Zef-kunstenaars and hul aanhangers wys dat ons musiek groei en nie gaan stil-staan het by boudestamp-trefferliedjies nie

“Ek wil graag ‘n vergelyking tref tussen Lenny Bruce, ‘n komediant van die laat jare sestig, en hierdie fenomeen van sogenaamde zef-musiek. Lenny se groot punt was dat woorde net simbole is. Toilet is byvoorbeeld ‘n skoon porseleinbak – dit is die beeld in ons gedagtes wat vuil is. Die Antwoord en Jack Parow maak die beeld om die woord dood en bewys hoe betekenisloos dit eintlik is.

“Ek dink nie zef-kunstenaars of hul ondersteuners is anti-Calvinisties nie. Ek dink hulle voel vere – soos dit hoort in ‘n vrydenkende, moderne demokrasie. Ek weet nie hoe lank die verskynsel gaan oorleef nie, en dit maak nie saak nie. Maar ek weet dat ek by my vertonings mense van 3 tot 73 kry wat weet van musiek en wat hiervan hou. En dit is wat tel, want dit bewys dat ons musiek groei en nie gaan stil-staan het by boudestamp-trefferliedjies nie.”

Dan RobertsDan Roberts, een van die meesterbreine agter Radio Kalahari Orkes, bieg dat hy ‘n aanhanger is.

“Toe ek die ouderdom van hul aanhangers was, het ek gedink The Clash was die beste groep in die wereld en dat punk-musiek koning was! Baie mense het destyds gedink dit was net ‘n geraas.

“Ek kan sien dat zef nie vir almal is nie, maar op die oomblik is dit die klank van die jeug. Rock het maar taamlik vervelig geraak – dieselfde ou love songs met dieselfde ou akkoorde. Hierdie zefmusiek is iets nuuts. Belangriker: dis soos vuvuzelas, ons eie klank, deel van die klanke van Suid-Afrika. Ons moes so lank na die geraas van die res van die wêreld luister. As jy ‘n bietjie op die Internet rondkyk, sal jy sien hoe luister hulle nou na ons! Wat sê dit van ons volkie? Dat ons doodnormaal is, en veral, dat ons genoeg selfvertroue het om na ons eie musiek te luister.”

Steve Hofmeyer was minder vleiend in sy kommentaar.Steve Hofmeyer

“Dis verblydend dat elke stukkie kitsch uit my klerekas oornag modieus geword het sonder dat ek daaraan geraak het.

“Bruce Beyers van Agter Elke Man was die grootste agent van zef, en ek moes ure lank baklei met die trendies dat ek nie rerig zef is nie. Vandag is ek jammer ek het so baie tyd en energie gemors.

“Maar daar is daardie foto van my met die mullet-takhare, kopband, legwarmers en naeltjiebroeke op my rak …

“Wat sê dit van ons ou volkie dat zef-musiek so in die mode is? Dis natuurlik slegs die ironie wat in die mode is. Soos in ‘n postmoderne oefening. Ek sien net sekere kunstenaars dit dra.

“Dis vreeslik kief, selfs anti-establishment, om jou ouers ‘n hou op die snoet te gee waaroor hulle hul koppe is skaamte kan laat sak. Op straat is dit nie in nie, hoewel, in sekere streke was dit seker ook nooit uit nie. Maar ek’s bevrees die trailertrash-refleksie is een van ons minder oorspronklike idees. Die Yanks doen dit al jare. Ek hou nie van musiekbewegings geskoei op kostuum nie.”

Johrne' Van HuyssteenJohrné Van Huyssteen van die groep ddisselblom reken zef is net in ‘n mens se kop.

“Ek dink zef is net in jou kop. Uiterlik is wat vir een ou mode is vir die ander ou zef en andersom. Vir elke zef ou is daar ‘n ander zef ou, en dit is meer as net hoe jou kar en klere lyk.

“Zef is die nuwe cool, maar daar is een ding wat nooit moet gebeur nie. Moenie gaan van zef na zeffer nie. Dis uit.”

Teks deur Ilze Salzwedel. Hierdie artikel verskyn vanuit die September 2010 uitgawe van Rooi Rose.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.