About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Ma, ek wou nog vra …

Deur:  Cornél Dunn en Ilse Salzwedel. Artikel uit die Augustus 2013 uitgawe van rooi rose Tydskrif.

Wanneer jou ma sterf, het jy dikwels soveel onbeantwoorde vrae sonder die vooruitsig om in hierdie lewe ooit die antwoorde te kry. Maar hier vra twee joernaliste tog daardie vrae vir hul ma’s 

1. Ek en my Ma - Mei 1961. 2. Ons verspotte blou swembad was 'n lekker kuierplek. 3. Die susters en die wit Volksie. 4. Soms ry die skuldgevoelens 'n mens...Cornél Dunn se ma is op 14 Februarie 2012 oorlede. ‘n Dag vir ballonne, sjokoladehartjies en liefdesballades, was ook die dag wat my ma gekies het om finaal te groet,” skryf sy.

Terwyl ek toegekyk het hoe ‘n lewensirkel van 82 jaar voltrek word, het ek skielik soveel vrae gehad. Ek het besef dat ek in die 52 jaar wat ek deel van haar lewe was, haar eintlik net as ma geken het. Tog was daar soveel meer: kind, suster, minnares, eggenoot, vriendin.

Toe ek die blomme vir haar troosdiens moes insteek, het ek nie geweet wat haar gunstelingblom was nie. Het sy van kerse gehou? Sou sy van so ‘n diens hou? Wie was sy, as sy nie ma was nie?

Toe ek die teegoed na die diens uitpak, het ek eers gesien hoeveel mense daar was. Soveel gesigte wat ek nie geken het nie; soveel staaltjies oor haar; soveel dinge wat ek nie geweet het nie.

Na haar dood het ek haar fotoalbums rustig deurgeblaai. Hier sit sy op ‘n blinkswart perd met wilde krulle wat oor haar rug tuimel. Daar staan ‘n elegante jong vrou in ‘n noupassende swart rokkie met spykerhakke en rooi lippe. Dis so ver verwyder van die ma wat ek geken het: ‘n vrou wat skoolkar ry en tuinmaak, dienlike skoene, eenvoudige rokke.

My ma het op ‘n bosboustasie grootgeword. Arm van lyf en van hart. Daar was min geld, min vooruitsigte en min omgee. Tog was sy ‘n omgeemens.

Hoe word ‘n mens ‘n omgeemens, Ma? Ek leef in ‘n tyd van oorlewing van die sterkstes. Ek is ‘n enkelouer en broodwinner. Ek draai my vas in verbandskuld, werk en net wees. Wanneer moet ek omgee? Hoekom moet ek omgee?

Ma en pa was 62 jaar getroud. Saam geswoeg om ‘n onderneming te vestig, saam bemin, saam baklei en teen die einde handjies vasgehou wanneer hulle 7de Laan kyk. Hoekom het Ma hom gekies? Was hy die liefde van Ma se lewe? Ek wens ek het die liefde gekies, Ma. Ek wens ek het vir Ma gevra hoe jy jou hart se stem hoor.

Wat is die wondersalfies wat die krake in ‘n huwelik gesond maak, Ma? Wat is dit wat verseker dat julle saam oud word? Ma was onkonvensioneel en met ‘n andersheid wat ek nie heeltemal by Pa kon pas nie, en altyd het sy oë geblink wanneer hy jou sien. Hoe leer jy die hart van jou man? Wanneer plak jy die stukke weer aan mekaar? Wanneer stap jy weg?

Ma was altyd die bemiddelaar in ons nessie. Tussen my en ousus, tussen ons en Pappa, en selfs as God se wil nie sin gemaak het nie. Ek was altyd ma se sensitiewe kind, die een wat nie kritiek of konfrontasie kon hanteer nie. Kan steeds nie. Ek wens ek kon vir Ma vra om my te leer van ‘n reg op ‘n mening sonder onsekerheid of vrees vir verwerping.

Ek het vergeet om vir Ma te vra hoe om krismisroossteggies aan die groei te kry; of wat die naam van Ma se rooi lipstiffie was

Ma het my hart geken. Geweet wanneer hy warm klop en onverwags gebel wanneer hy koud en leeg in n donker deel van my lyf lê. Hoe leer jy die taal van jou kind se lyf, Ma?

Ma was buitengewoon verknog aan die witkopbranders van Drieankerbaai en het sonder uitsondering gehuil wanneer Engelbert Humperdinck “Please Release Me” gesing het. Was dit ‘n herinnering aan ‘n deel van jou lewe wat ons uitgesluit het? Was dit trane van ‘n onthou wat nie sy lê wou kry nie?

Ek wens ek kon my beste teegoed uitpak, daardie koppies met die rosies van ouma Mollie. Dalk ‘n stukkie van Ma se geliefde Cremora-tert sny en weer met Ma praat. Sommer oor verlange na my kinders oorsee, of die rooi jas wat ek wil koop. Ek wens Ma kon weer die notaboekie uithaal waarin jy jou begroting so getrou uitgewerk het en my leer hoe om die wolf van die deur af te hou.

Ek het vergeet om vir Ma te vra hoe om krismisroossteggies aan die groei te kry, of wat die naam van Ma se rooi lipstiffie was. Ek wou nog vra hoekom Ouma nooit kom kuier het nie, en hoekom Ma elke jaar met Valentynsdag hartseer was.

Was ek ‘n goeie kind. Ma? Het ek genoeg kom kuier en genoeg gebel? Was jy soms eensaam en alleen saam met Pappa in die groot huis? Toe die winter van jou lewe kom en die dood voor die deur kom staan, was jy toe bang, Mamma?

Hoe hou jy bang op sy plek, Ma? Wat maak jy as jou lewensmaat anderkant toe kyk en jou kind ophou praat? Wat is geluk Ma? Waar in jou hart lê die vrede dat môre sy eie pad sal loop?

En dit bring my by my laaste vraag: Was jy gelukkig, Ma?

Ilse Salzwedel se ma is op 11 Julie 2008 ná motorongeluk dood. “Dit was ‘n verskriklike skok toe my ma sterf terwyl ek en my broer Gerhard haar na die ongeluk probeer help. Eers later sou ek besef dit was ‘n voorreg om in daardie oomblikke by haar te kon wees,” vertel Ilse. Hier is haar brief aan haar ma.

Liewe Ma

1. My ma kort voor haar troue. 2 Susan en Johan herselman - 11 Desember 1954. 3. 'n Trotse ouma saam met een van haar kleinkinders. 4. 'n Gesinsfoto: van links: Gerhard, Marlize en Hendrik Heselman. Ek sit op ma se skoot  Een oggend, omtrent twee weke na ma se dood, het ek daardie cliche-oomblik beleef waarvan ‘n mens net in stories lees: die gebroke heldin word wakker, maar weier om haar oë oop te maak sodat die dag nie moet begin nie. Ek was gebroke, maar nie n heldin nie – beswaarlik ‘n oorlewende. Want al het ek die motorongeluk oorleef en Ma nie, was alles swart in en om my.

Daar was so baie vrae. Al die gewone vrae: hoekom so jonk, Ma was maar 73? En is ‘n mens se beurt regtig jou beurt, of sou Ma nog geleef het as ons nie daardie dag op dáárdie pad gery het nie?

Maar daar was ook baie ander, Ma. Party eenvoudiges, soos die metode van Ma se potpoedingresep waarvoor ek altyd sommer gou gebel het. Ek onthou dat dit gevoel het of my wind uitgeslaan is toe ek een Sondag vir Pa die poeding wou maak, en skielik besef ek het nooit die metode neergeskryf nie. Die gedagte dat ek Ma nooit weer kon bel nie, was verskriklik.

Nou was net Pa nog by my, maar hy was ‘n dop, Ma. Alzheimer se siekte het hom lank voor sy dood gevat. Of nee, eintlik het hy daardie dag op die grondpad saam met Ma doodgegaan, al het ons hom 15 maande later eers begrawe. Wat beteken ek kon vir hom niks vra nie. Nie oor enige van die dorpe waar julle gebly het voor ek gebore is nie. Nie wie die mense was op die swart-wit foto’s in die sjokoladeblik met die kappertjies op nie. Nie wie saam met Ma poseer het vir een van daardie straatfotograwe wat ‘n mens in die ou dae in groot stede gekry het nie. Ma lyk sjiek, en laf tussen jou twee vriendinne. Julle klere laat my dink aan die van Carrie en haar vriendinne in Sex and The City. Ma was beeldskoon, modelmateriaal. Het Ma nooit gedroom oor verspeelde kanse nie? Ek weet Ma het die grootstad se lewe gemis toe julle ná jul troue die platteland vol getrek het agter Pa se werk aan. Wat het Ma nog opgeoffer waarvan ons nie weet nie?

Ek het so min van Susan Elizabeth Herselman, gebore Vrey, geweet. Wat sou Ma wou word as die Tweede Wêreldoorlog en ‘n weduwee-ma nie veroorsaak het dat Ma as 13-jarige al in ‘n fabriek moes gaan werk nie? Dalk ‘n maatskaplike werkster? Ek onthou Ma se deernis met mense, veral dié met af vlerke. Dalk ‘n onderwyseres? Ek weet darem Ma het Sondagskool gegee voor julle getroud is en Ma ons vier se ma geword het. Of miskien iets met diere? Dankie dat Ma my ‘n liefde vir viervoetiges geleer het.

Vandag vertel ek ander se stories in my boeke, maar ek het nooit al Ma (en Pa) se stories opgeskryf nie. Hoe ironies. Ek wens ek het meer geweet van jul kinderdae – ek weet julle het albei bitter arm grootgeword, maar wat het julle gespeel? Wat was julle gunstelingkos? Wou julle eendag die wêreld sien? Watter drome het julle gedroom toe die lewe nog oop voor julle gelê het?

Saam met die dankie sê vir ons vier se opvoeding en geleerdheid, wil ek ook weet: hoe op aarde het julle dit gedoen? Daar was altyd geld vir sporttoere en blokfluitlesse en jaarlikse vakansies, daar was altyd heerlike kos… Ek weet vandag dit kon nie maklik gewees het nie. En ek weet ongetwyfeld dat huisvrou-wees ‘n baie ondankbare werk is.

Dit het my ontstel toe ons met die huis se oppak deur julle goed gegaan het, en ek gesien het hoeveel mooi goed Ma vir die spreekwoordelike dag van môre gespaar het. Van julle trouge- skenke, soos koekborde en silwer, het ek net met verjaarsdae en groot dae gesien. Hoekom het Ma dit nie meer gebruik nie? Ma hét so baie van mooi goed gehou!

Dankie, Mamma, vir ingeval ek dit nie genoeg gesê het nie. Het Ma geweet dat Ma die gom was wat ons almal bymekaar gehou het? Ons het dit eers na Ma se dood regtig besef.

En dan, die vraag wat ek amper te bang is om te vra: wat was Ma se drome vir my? Ek weet ek het ook maar lekker verkeerd gekies, maar danksy julle opvoeding was ek sterk genoeg – en die Genade groot genoeg – dat ek en die kinders nou weer regtig gelukkig is. En die meetsnoere het loopbaangewys in mooi plekke geval vir my. Ook, en veral, omdat julle my die pad Huis toe geleer het, en geleer het van hard werk en onafhanklik wees. (En natuurlik omdat Ma my as sesjarige gedwing het om te leer lees omdat Ma  nie lus  was vir stories lees nie.)

Ek is nie meer kwaad oor Ma so voortydig weggeneem is nie, want ek weet jy is die hartseer gespaar om Pa te sien agteruit gaan en pynlik sterf. Ek weet julle is nou saam, en dis vir my genoeg troos.

Tot ons weer sien, met al my liefde!

Ma se laatlam

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.