About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Mamma Charlize

Deur: Margaret Gardiner. Photos:  Inpra/Rex Features, Margaret Gardiner, Elite Photo Agency, Gallo Images en Getty Images. Artikel uit die Augustus 2012 weergawe van Rooi Rose Tydskrif.

Charlize is verlief en sy naam is Jackson. ‘Hierdie seuntjie is vir my soos ‘n stukkie hemel,’ sê sy oor die baba wat sy vroeër vanjaar aangeneem het. Sy het die wêreld verras maar vir haar was dit vanselfsprekend dat sy eendag sal aanneem.

Charlize by die Arundel-Kasteel buite London waar die onderhoud gedoen is.Charlize glimlag breed toe sy by die saal van die Arundel-kasteel net buite Londen instap. Sy dra ‘n broek van Rag and Bone, ‘n Band of Outsiders-baadjie, Jimmy Choo-stewels en sy straal van geluk. Daar is ‘n warmte aan haar wat jou dadelik opval. Sy het meer energie en maak meer grappies as gewoonlik.

Charlize het ‘n reputasie as een van die manne, maar met die media is sy effens terughoudend – jy kry gewoonlik net die nodige inligting en niks meer nie. Maar nie vandag nie. Sy terg en vertel stories en laat ons skaterlag. Waar kom al die veranderinge vandaan?

Charlize het ‘n ma geword. Toe ek haar in Desember gesien het, en weer later saam met haar ma op die rooi tapyt by die Golden Globes, het sy niks laat deurskemer van haar planne om aan te neem nie. Toe die nuus middel-Maart breek, het ek het verwag dat sy teësinnig sal wees om enige inligting oor die kind uit te lap. Maar dis nie die geval nie. Charlize is verlief, en sy naam is Jackson. Hy is van Afro-Amerikaanse afkoms en die middelpunt van haar lewe.

Hoe het moederskap jou lewe verander? Hoekom het jy besluit om ‘n kind aan te neem, want jy het nooit laat blyk dat jy sal wil aanneem nie?

Charlize en Jackson kort na sy aanneming.Hoe ongeskik van my, sê sy, en lag lekker! Dis waar wat elke ma jou vertel. Moederskap is ongelooflik. Terloops, ek dink ek was nog altyd eerlik met jou en het vir jou gesê ek wil eendag kinders he. Ek het altyd geweet ek sal aanneem. Altyd. Dit was nie vir my ‘n laaste uitweg nie. Al was ek in ‘n verhouding of het reeds my eie kinders gehad, sou ek steeds ‘n kind aangeneem het.

Elke ma sal vir jou sê of jy deur ‘n swangerskap gaan en of jy aanneem, dis nie iets wat jy ligtelik opneem nie.

Die aannemingsproses duur lank en is emosioneel uitmergelend. Dis nie asof ek op ‘n môre wakker geword het en teen vieruur die middag het ek ‘n baba gehad nie. Dit werk nie so nie. Ek het net gevoel die tyd is reg. Ek het geweet die proses gaan ‘n ruk duur, maar dit was die moeite werd. Hierdie klein seuntjie is soos ‘n snytjie hemel op roosterbrood.

Kry jy genoeg geslaap?

Dis ongelooflik hoe min slaap ‘n mens regtig nodig het. Dit was seker die grootste verrassing, want ek hou baie van my slaap maar hy het my laat besef dat ek nie regtig soveel slaap nodig het nie. Hy gee my energie. Jy slaap drie uur lank en dan is daar hierdie opwinding, energie en liefde in jou huis. Daardie ou gesiggie! Wanneer ek daardie gesiggie sien, is dit asof ek veertig koppies koffie en twintig uur slaap agter die blad het. Ek is ook nogal beïndruk deur hoeveel ek in my slaap kan uitrig!

My ma het ‘n foto geneem waar ek op die vliegtuig met hom in my arms sit en slaap terwyl ek die bottel steeds teen presies die regte hoek vashou. My vaardigheid het my beïndruk, hoor (lag).

‘Daar is ‘n nuwe opwinding, energie en liefde in my huis

Voor jy ‘n mens-ma geword het, was jy die ma van twee honde. Moes jy hulle op Jackson se koms voorberei en was hulle jaloers toe hy huis toe kom?

Charlize en Jackson kort na sy aanneming.(Glimlaggend.) Jy is verstommend. Sien? Ons verstaan mekaar. Baie mense sal dink dis ‘n verspotte vraag, maar ek verstaan (lag). Soos ek dit sien, het ek nou drie seuntjies onder die ouderdom van twee in my huis. Ek hou blykbaar van uitdagings. Soms is die baba makliker as die honde. Honde is nes mense.

Dit neem hulle ‘n rukkie om vir die mense in hul lewe lief te word. Maar toe hierdie baba by die huis kom, was hulle dadelik lief vir hom. Hulle maak hom groot (lag)! Is dit verkeerd?

Die eerste aand by die huis het ek en Jackson op die honde se bed gaan sit en hulle het nie stuipe gekry of iets snaaks gedoen nie. Dit was asof hulle wou sê: “Ja, presies.”

Hulle is soms jaloers op hom, maar hoe verduidelik ek vir hulle hy is my baba? Jackson is gemaklik by die twee en klaar lief vir hulle.

Leef jy nou jou eie “happily ever after”?

Ek is baie, baie gelukkig. Ja, dankie.

Het jy al besluit watter soort ma jy gaan wees. Wie is jou rolmodel?

Ek bekommer my soos enige ander ma of ek die regte ding doen, maar soos jy weet, het ek ‘n baie hegte verhouding met my ma. Sy is die beste ouma in die wêreld. Ek doen nie hierdie ding alleen nie. Dis ongelooflik om iemand soos sy te hê, maar aan die ander kant is dit ook vreemd. Ek het nou die dag met ‘n vriendin gepraat wat ook na aan haar ma is. Ek het vir haar gesê dat ek nou soveel meer van my ma hou en ek het nooit gedink dat dit moontlik sal wees nie. My vriendin het saamgestem: “Vandat ek ‘n ma geword het, wil ek met my ma trou.” Dis so vreemd wanneer sulke goed gebeur wat jy nie kan verduidelik nie. As ek na my ma kyk… (sy haal diep asem, glimlag en skud haar kop) dis iets ongeloofliks. Ek is so verskriklik gelukkig.

Wat kan jy ons van die aanneemproses vertel?

Ek is glad nie voorgetrek nie. Die proses was dieselfde as vir enigiemand anders.

Dis ‘n groot besluit om verantwoordelikheid vir iemand se lewe te aanvaar. Dit het my twee jaar geneem om hom te kry. Dit was ‘n geslote aanneming.

Wil jy hiermee ‘n boodskap vir ander enkelma’s stuur?

Margaret gee vir Charlize 'n geskenk wat rooi rose vir Jackson gestuur hetH’m. Ek dink nie enige ma droom daarvan om ‘n enkelma te wees nie. Ek het nooit gedink dat ek eerder ‘n enkelma wil wees nie. Ek het net geweet ek wil ‘n ma wees. Toe ek nog ‘n verhouding gehad het, het ek daaroor gepraat. As ek nou in ‘n verhouding was, sou ek dit steeds gedoen het. Ek is baie gelukkig, maar nie omdat ek nou ‘n kind het nie. Ek het nog altyd my lewe geniet. Ek dink dis baie gevaarlik om ‘n kind te gebruik om die leegheid in jou lewe te vul.

Dit was in my geval nooit ‘n faktor nie.

Ek was nog nooit so gelukkig nie, maar ek voel elke jaar van my lewe so, dalk omdat ek regtig moeite doen om meer bewustelik te lewe. Ek wil nooit op my bed sit en dink: Hoekom het ek nie my twintigs meer geniet nie? Wat help dit ‘n mens wens en hoop vir goed wat in elk geval oor jou pad gaan kom, of iets wat in die verlede gebeur het en wat jy nie kan verander nie? Ek geniet elke oombiik van my lewe, want dit is hoe dit op daardie oomblik is. Ek verknies my nie oor hoe dit moes gewees het nie.

Ek weet nie waar kom dit vandaan nie. Ek probeer nie klink of ek dit perfek regkry nie, maar ek probeer. Ek het nie toe ek dertig geword het, gesê, “Ek wens ek was nou eers 29 nie” – hoewel ek 28 heeltemal gemis het! Ek weet nie hoe dit gebeur het nie (lag). Dis ‘n misterie. Toe ek op ‘n dag my ouderdom op ‘n vorm invul, help my ma my reg: “Nee, jy is 28. Volgende maand sal jy 29 wees.” Ek kon dit nie glo nie!

As ek nadink oor my lewe, dink ek ek is baie geseën. Morgan Freeman het in ‘n onderhoud gesê: “Die lewe ontvou presies soos dit veronderstel is om te gebeur.” Ek stem heeltemal met hom saam.

Baie jong ma’s vra raad by hul broers en susters.

Ek doen dit met my ma. Ek het ook baie vriendinne wat babas van dieselfde ouderdom het, of selfs ouer. Ons is soos susters. Wanneer ons uitgaan, haal ons foto’s uit en sê goed soos: “Kyk net hoe lyk hy in sy klein wit kortbroekie.” Ons is pateties (lag).

Watter eienskappe is vir jou belangrik in ‘n man?

Hy moet ‘n sin vir humor hê en ‘n goeie mens wees. Ek stel nie in ‘n sekere soort man belang nie. Ek wil nie ‘n mooi man hê wat nie ‘n goeie mens is nie. Ek hou van lag en sal nie regkom met iemand wat nie saam met my kan lag nie. Dis die twee belangrikste goed. Goeie ouens met ‘n sin vir humor moet versigtig wees, want ek is op julle spoor!

So dit maak nie saak hoe hy lyk nie?

Ek lei ‘n aktiewe lewe en ek wil verkieslik ‘n maat hê wat ook aktief is. Ek gaan hom nie elke Vrydag weeg nie (lag). As jy ‘n aktiewe lewe lei, sal jy gesond en fiks wees.

Verkies jy ‘n man wat die deur vir jou oophou of iemand wat goed in die huis regmaak?

Kan ek nie een kies wat albei doen nie (lag)? Ek dink ‘n mens kan. Ek wil een hê wat albei doen.

Jy is lank en beeldskoon. Dink jy dit skrik mans af dat jy baie sterk en selfstandig kan voorkom?

(Lag) Wil jy vir my sê ek het nie eens ‘n kans nie?

En daarby is jy nog blond ook.

Daar is 'n nuwe opwinding energie en liefde in my huisEk dink nie ek is so moeilik nie. Ek het ‘n sterk oorlewingsdrang, maar my kwetsbaarheid is nie vir my ‘n probleem nie. Dit is ook nie vir my moeilik om hierdie kant van my bloot te stel nie. Ek dink nie vroue moet te hard oorkom nie. Dis nie natuurlik nie. Ons is veronderstel om sag en vroulik te wees, maar tog ook na ons self te kan omsien. Ek kan ‘n vertrek binnestap sonder om bang te wees. Ek het nie ‘n man nodig om vir my te sorg nie. Ek voel nie asof my lewe nie waarde het as ek nie in ‘n verhouding is nie. Ek is baie onafhanklik, maar ek is nie hardkoppig nie. Ek hou nie van vroue wat hulself so voordoen nie.

Hoe voel jy oor ouer word?

Dis onvermydelik. Dis lê vir ons almal voor. Ek kan nie oordeel nie, dis te moeilik. Dis nie net die ydelheid nie. Wanneer jy ouer word, gee jou lyf ook in. Jy kan nie meer baie oefeninge doen of ‘n pakkie op ‘n dag rook nie. ‘n Mens word bewus van jou eie sterflikheid. Dis nie net ‘n Hollywood-ding nie. Dis vir vroue uit enige gemeenskap moeiliker om ouer te word as wat dit vir mans is. Ons praat almal daaroor. Skoonheidsmaatskappye maak nie net hul geld in Hollywood nie – vroue wêreldwyd wil mooi wees. Daar word vir ons gesê ons waarde – dit wat regtig saak maak – lê in hoe ons lyk. Jy kyk nie net op ‘n dag in die spieël en merk so in die verbygaan op: “Sjoe, ek word oud” nie. Dis ‘n knaende kwessie. Mense wil nie oud word nie, want dan het hulle minder waarde – vir hulself en in die gemeenskap.

Daar is ‘n gesegde wat sê dat mans soos goeie wyn verouder – hulle raak beter met die ouderdom. Vroue is soos geplukte blomme. Ons verlep. Ek dink dis nogal waar, maar ons kan dit verander deur waarde te heg aan iets wat groter en belangriker as skoonheid en jeugdigheid is.

Die Chinese het ‘n gesegde dat die lewe vir vroue tussen 35 en 37 stop en vir mans tussen 40 en 43.

Wat weet die Chinese nou eintlik (lag).

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.