About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

My Pa is ‘n Legende

Deur: Martie Swanepoel. Hoof Foto: Piers Braybrooke. Fotos: Getty/Gallo Images en Marco Borggreve. Artikel uit die Junie 2013 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.

Branderry saam met pa vroegoggend voor skool; ‘n pa wat genoeg lewenservaring het om ‘n ensiklopedie te vul; een wat jou moed inpraat as die trane brand en ‘n pa wie se teenwoordigheid steeds voelbaar is… Bekendes vertel wat dit is wat hul pa’s spesiaal gemaak het.

Amanda Strydom, dogter van Hans Strydom van Jeffreysbaai

Amanda Strydom, dogter van Hans Strydom van JeffreysbaaiSangeres Amanda Strydom het in Port Elizabeth met sy lieflike sjampanjesee grootgeword. Sy sê haar pa is vir haar sinoniem met somer, see, son, wit strande en alles wat standvastig is.

Sy dink met heimwee terug aan kleintyd se branders ry saam met hom. In die somer was hulle al yvfuur soggens op die strand. Hy het hulle altyd vroeg wakker gemaak en dan het hulle voor skool eers langs die see gaan draf. Dit het ‘n heerlike speletjie geword.

“Ons moes aan die hawemuur raak en dan na die groot lewensredder-stoel terugdraf waar ons handdoeke gehang het. Dan is ons baldadig die water in. Baie oggende was dit net ek en my pa en André (haar broer wat intussen oorlede is) in die see. Dit het gevoel asof die hele see net aan ons behoort.

“Ek onthou hoe Pappa geloop en skulpe optel het as ons vakansies op Kabeljous of Jeffreysbaai was. By hom het ek respek en liefde vir die wonder van die natuur geleer. En die wonder van God se liefde.

‘As ek my oë toemaak en die eerste herinnering aan Pappa Hans opdiep, is ek op sy skoot. Ek kan voel hoe sy borskas teen my lyfie vibreer wanneer hy praat. Ons kuier by mense, ek raak al hoe vaker teen sy bors en toe gebeur een van daardie wonderwerke: ek word die volgende oggend in my eie bedjie wakker’

“Ek en André het ons in ons tienerjare doodgeskaam oor Pa so hard in die kerk sing, of dit nou uit die diaken- of ouderlingbank of reg langs ons was. Ons het probeer wegskuif, asof die hele gemeente nie geweet het dis onse pa nie!

“Vandat ek kan onthou, bid hy vir al sy kinders, kleinkinders en familie by die naam. Ek het as ‘n klein dogtertjie altyd so ‘n gevoel van geborgenheid gekry wanneer ons hande vat voor hy bid.”

Hans Strydom het verlede jaar sy tagtigste verjaarsdag gevier. Amanda sê dis ‘n voorreg dat sy steeds by hom kan wees. Sy het weer saam met hom op Jeffreysbaai branders gery en hom dopgehou wanneer hy vuur maak. “Pa weet van ‘n vuur maak.”

Sy lag heerlik wanneer sy vertel hoe hy hom in ‘n rugby- of krieketwedstryd kan inleef. Sy en haar ma verstaan geen snars van sy kommentaar nie, maar dis lekker om hom dop te hou.

En summier sê sy sommer dankie vir sy teenwoordigheid in haar lewe wat ‘n leeftyd se herinneringe meegebring het.

“Dankie vir al die orgidieë wat Pappa na my opvoerings vir my gegee het. Dankie vir Pappa se geduld toe ek nie wiskunde kon baasraak nie. Dankie dat Pappa ingestem het dat ek drama kon gaan swot. Meer nog: dankie dat Pappa my geleer het wat liefde is.”

In 1996 het haar pa vir haar ‘n trompetboom-steggie gegee. Amanda en haar man, Tony het hom geplant en vandag staan daar ses yslike trompetbome in die tuin. Die blomme het die lieflikste geur wat die werf vol hang. Dis ‘n sterk boom wat somer en winter sy trompetblomme voortbring – ‘n standvastige, getroue staatmaker. Sy noem die boom “Pa se boom”.

Erik Holm Jr., seun van prof. Erik Holm, entomoloog

Erik Holm Jr., seun van prof. Erik Holm, entomoloog“Dit maak nie saak waaroor die gesprek gaan wanneer ons familie of vriende kuier nie – dis onafwendbaar dat die gesprek by hom uitkom, gewoonlik met een van daardie draaie wat ons almal laat skater van die lag,” sê akteur Erik Holm jr. oor sy pa, Erik Holm, afgetrede professor in entomologie aan die Universiteit van Pretoria en kenner van argeologie.

Die Holm-kinders, Nike (36), Kora (34) en Erik (32), noem hulle pa “Vata”, Duits vir pa. 

“My pa is die veelsydigste mens wat ek ken.

Hy kan alles doen, hoewel hy dit nie sal erken nie en dan doen hy dit goed daarby.”

Erik sê onder die magdorn goed wat hy by sy pa geleer het, is vasbyt die belangrikste: vasbyt aan die goeie en die laat gaan van die slegte.

Hy sê toe hy destyds in die hospitaal was na die ongeluk waarin hy sy nek gebreek en sy dae so donker was dat niks meer sin gemaak het nie, kon net sy pa ‘n ommekeer in sy gemoedstoestand bring.

Erik het in Augustus 2007 naby Secunda in ‘n dam met troebel water geduik om ‘n bal te gaan haal waarmee hy en ‘n klomp kinders gespeel het. Hy het sy vyfde nekwerwel in die ongeluk gebreek en is sedertdien ‘n kwadrupleeg. Erik speel die rol van Rian Malherbe in Binnelanders.

Sy pa het met ‘n paar woorde weer positiewe lug en lig in Erik se seile geblaas: “Seun, die lewe is te swaar vir enigiemand om te dra wanneer jy probeer sin maak daaruit deur vir jouself te lewe. Al hoe ons oorleef, is om vir ander te leef en te sien en te voel hoe hulle dieselfde vir ons doen. Daar is niks anders wat ons bestaan die moeite werd maak nie.”

Hy noem sy pa ‘n “walking, talking story book”: “Om te probeer vertel waar hy oral was en wat hy al alles beleef het, is ‘n onbegonne taak.

“Hy skryf tans aan ‘n biografie en glo my, selfs hy sukkel om sy lewe in een boek in te pas. In sy geval sou ‘n ensiklopedie ‘n beter keuse gewees het.”

Erik kan nie oor sy pa praat sonder om oor sy humorsin te praat nie. Hy het by sy pa geleer lag: “‘Lag vir swaarkry; lag vir foute; lag vir gatslae maar ook vir sukses – lag vir die eerste plek; lag vir die mal wêreld en sy mal bewoners,’ is sy uitgangspunt.

“My pa se humor het hom al baie in die sop laat beland. Hy is op ‘n keer in die media aangehaal toe hy gesê het vegetariers is erger as vleiseters, want hulle pik op weerlose wesens wat nie eens kan skree of weghol nie. Hy het daarna aan Beeld erken dat dit hom groot plesier verskaf om diegene wat hulself te ernstig opneem, belaglik te maak. En dis presies die rede hoekom ek soveel bewondering vir my pa se soort humor het.”

As hy sy pa voor sy geestesoog sien, sien hy hom amper altyd met sy pyp in die mond, sy skewebek-glimlag en ‘n vonk in die blou oë wat meer gesien het as wat die meeste mense ooit sal kan verstaan.

Anri van der Linde, dogter van musikant Johan van Rensburg

Anri van der Linde, dogter van musikant Johan van RensburgSy onthou hoe hulle saam op die bankie by die lughawe sit toe sy na matriek die eerste keer as model Europa toe moes gaan.

“So tussen die trane van die ‘groot tot siens’ was my pa soos altyd rustig en kalm – hy praat mooi en reguit. Dis hoe hy is. Draai nie doekies om nie en sê ‘n ding nes hy is.”

Haar pa, Johan van Rensburg van Noot vir Noot-faam het haar verseker dat hy en haar sangeres-ma, Rina Hugo, trots is op haar en dat hulle vir haar wag.

“Hy het gesê ek kan enige tyd terugkom, selfs môre as dit nie vir my lekker is nie! Ek kon hom nie in die oë kyk nie, want ek huil maklik. Toe kyk ek maar na sy hande.”

Dis hande wat sy tussen duisende ander sal kan uitken – daardie einste klavierhande wat ‘n klein blonde dogtertjie se hare soms voor skool moes kam, vasmaak of vleg.

“Ek onthou hoe hy baie keer wanneer my ma vir optredes lank weg was, sonder om te oe of te aa ingespring het en die rol van ma oorgeneem het. Hy het my geduldig met somme en take gehelp.”

As sy haar oë toemaak en aan haar pa dink, sien sy hom waar hy doodgelukkig in sy musiek-ateljee op die boonste verdieping van haar ouerhuis sit en werk, sy beker tee langs hom en die nuus op RSG soms hoorbaar op die agtergrond.

“Die glitz and glamour van ‘n lewe in die kollig is iets wat nie ir hom bestaan nie en ek is dankbaar dat hy en my ma ons ook so grootgemaak het. Om elke Vrydagaand op die TV agter die Noot vir Noot-klavier te wees, is mos net ‘n werk – dit maak jou nie beter as enigiemand anders nie.”

Noudat sy ook ‘n ouer is, verstaan sy beter wat in haar pa se wêreld aangegaan het toe sy en haar boet Riaan grootgeword het.

“Daardie oomblik toe die klok op my troudag lui en ek by my pa inhaak voor ons die kerk binnestap, was die ‘kersie op die koek.’ Dit was ‘n voorreg, ook omdat hy iemand is na wie ek regtig opsien.”

En nou speel hy net so ‘n groot rol in haar kinders se lewe:

“Ek word wakker in my ouers se huis op hul wegbreekplaas en kry my pa op die stoep. Dis vroeg die oggend, RSG weer saggies op die radio en hy sit en verduidelik met dieselfde rustigheid van destyds vir my kinders, Enzo (4) en Annabella (2), van die voëls en die sterre en alles waarvan hulle ook al wou weet. Wat ‘n groot geskenk is dit nie dat my kinders ook hul ‘Oupa Tieng-Tieng’ kan ken nie!”

Haar pa is eerlik, hy kan regtig luister, sy geloof, humorsin, eerlikheid, manier van dinge uitpluis, uitpraat en uitvoer, sal sy altyd onthou en in haar eie lewe probeer toepas.

Gérard Korsten, dirigent en seun van Sanger Gé Korsten

Gérard Korsten, dirigent en seun van Sanger Gé Korsten“My eerste duidelike onthou van my pa was toe ek so drie of vier jaar oud was. Wanneer hy sy operarolle ingestudeer het, het hy altyd ‘n pianis gehad wat hom in sy ateljee begelei het. Ek is toegelaat om na die oefeninge te luister, op voorwaarde dat ek stil sit. In daardie stadium was hulle besig met Verdi se II Trovatore en daardie musiek het van toe af in my kop gebly…”

Dis die internasionaal bekende dirigent Gérard Korsten se eerste herinneringe aan sy pa, Suid-Afrika se geliefde tenoor Gé Korsten, wat in 1999 oorlede is.

“Vir my was hy net Pa. Hy het my meestal ‘Boetie’ genoem. Hy was ‘n goeie pa vir ons vyf kinders – baie streng maar altyd regverdig. Toe sy sangloopbaan vlamvat, het ons my pa nie baie gesien nie. Ek onthou hoe ons vyf kinders altyd by die hek gewag het wanneer hy na ‘n lang toer huis toe gekom het!” Dit was vir hulle niks lekker om ‘n bekende pa te hê wat op straat herken word nie: “Ons kon nooit normale dinge doen sonder dat mense hom bestorm het vir foto’s en handtekeninge nie. Dit was moeilik!”

Van die beste lesse wat hy by sy pa geleer het, is perfeksionisme in jou werk: “Hy was ‘n perfeksionis. Alles wat hy gedoen het, moes net reg wees. Middelmatigheid kon hy nie verdra nie. My pa was baie gesteld op goeie maniere.”

Maar hulle het ook soms pret gehad. “Ek onthou toe my ouers my in Cleveland, Amerika, besoek het toe ek daar studeer het. My pa het ‘n kar gehuur en ons het saam met my beste vriend, Charlie, die stad ‘n bietjie gaan verken. Daar was ‘n verskriklike sneeustorm en omdat my pa nie mooi geweet het hoe om in die sneeu te bestuur nie, het ons natuurlik vasgeval! Ons het letterlik ure lank gespook om die sneeu weggeskoffel te kry en het die hele tyd gelag.”

“Ons het altyd ‘n goeie verhouding gehad – miskien omdat ek al op 17 uit die huis is om te gaan studeer.

‘Ek is toegelaat om te gaan luister. Hy het in daardie stadium Verdi se “Il Trovatore” ingestudeer – musiek wat van toe af altyd in my kop gebly het’

Wanneer daar probleme was, het ons daaroor gepraat en na oplossings gesoek. Eintlik was hy vir my meer soos ‘n vriend as ‘n pa.

“Dit het vir my baie beteken dat hy my ondersteun het toe ek besluit het om klassieke musiek my loopbaan te maak. Maar hy was baie eerlik ook – hy het my gewaarsku dat dit baie harde werk en dissipline verg om ‘n voltydse musikus te wees. Dit was my pa se droom om ook ‘n dirigent te wees. Hy het nie die moontlikhede gehad om sy droom waar te maak nie, daarom het hy myne ondersteun.”

Hy mis sy ouers. Sy ma, Elna, is verlede jaar oorlede. “Ek dink hulle sit daar bo êrens en drink ‘n lekker glasie rooiwyn saam. Soms, wanneer ek êrens ‘n konsert dirigeer, het ek die gevoel dat hy daar is, en luister!”

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.