Sarah Brightman, Robbie Williams, Jimi Henrix, Madonna en Dido is maar enkele kunstenaars wat reeds jare lank oor engele sing.
Byna al hierdie liedjies het die internasionale treffersparade gehaal, romantiese ballades wat sag op die oor is en die emosies so ‘n bietjie kielie.
Maar nou het die 42-jarige Laurinda Hofmeyr ‘n lied oor ‘n engel getoonset wat geen van die rosige kenmerke van die oorsese musikante se beter pogings het nie. Die gedig wat sy getoonset het – “‘n halwe engel” – is deur Breyten Breytenbach geskryf. Hy het sy reputasie gestand gedoen en die gedig is ‘n komplekse stuk werk. Breyten het liries geraak oor haar vertolking daarvan. Hy het die musiek wat Laurinda na ‘n vers bring, as ‘n diepgang-twee-gesprek beskryf: “Sy bevraagteken die teks, en uit daardie benadering kom ‘n tweesang. Sy sorg vir die teks soos ‘n Boeddhis na ‘n gewonde soldaat of ‘n blinde ou vrou sou omsien.”
Naas haar goeie oor, het Laurinda ook ‘n groot liefde vir die woord. Sy onthou haar eerste gewaarwording van die roerende krag van die woord toe sy as kind geluister het na gedigte wat die spesiale mense in haar lewe voorgedra het.
Musiek was een van haar skoolvakke en in die komposisieklas moes sy dikwels ‘n paar versreels uit gedigte toonset. In standerd agt het sy op ‘n dag Die Groot Verseboek oopgeslaan, op soek na iets om te toonset. Sy het op die bekende gedig van H, A. Fagan, “Ek het ‘n huisie by die see” besluit. “Dit was die enigste gedig wat ek verstaan het,” se sy laggend. ‘n Paar jaar later, in Laurinda se tweede universiteitsjaar, het Laurika Rauch die liedjie opgeneem. Dit was gou ‘n treffer.
Laurinda het probeer om haar eie lirieke te skryf, maar sy het algaande besef dis eintlik die delf in reeds bestaande gedigte wat haar die meeste plesier verskaf. Sy het haar liefde vir die Afrikaanse woord herontdek en opnuut haar visier op goeie gedigte gestel en dit getoonset
Laurinda besef dat Breyten se gedigte nie altyd maklik verstaanbaar is nie, juis daarom geniet sy ‘n produksie soos Verse in al my vingers waarby sy tans saam met vier ander akteurs betrokke is. Dis’n program wat Juanita Swanepoel saamgestel het oor Breyten se lewe en werk.
“Ek weet dat onvolmaakte mense soms wonderlike goed laat gebeur. Soos my pa altyd gesê het, ‘Die Here kan ‘n reguit hou met ‘n krom stok slaan.’ “
“Hoewel ek glo my Breytenbach-toonsettings kan op eie bene staan – ek sluit heelwat van hulle in my programme in – kom die woorde soveel meer tot hul reg as dit in konteks gehoor word. Op hul eie kan sommige gedigte soms ‘n bietjie weird klink as hulle gesing word.” Sy glimlag ondeund.
Oor “‘n halwe engel” gesels Laurinda graag. “Breyten se gedigte is baie visueel en sensueel. Agter die skoonheid en soms kru-heid van sy woorde lê daar altyd ‘n groot rykdom van betekenisse om te ontgin.”
Laurinda is ‘n realis met die gees van ‘n kunstenaar. Sy het haar eie verstaan van Breyten se gedig. ‘n Gedig oor die liefde, eindelose horisonne, die bloed van versoening en drome van ‘n huis vol sterre.
Of engele waarlik bestaan, is nie iets waaroor sy wonder nie. “Ek weet wel dat onvolmaakte mense soms wonderlike goed laat gebeur. Soos my pa altyd gesê het, “Die Here kan ‘n reguit hou met ‘n krom stok slaan.”
“Tog is ek baie bewus van ‘n teenwoordigheid van iets wat die oog nie kan sien nie. Maar of engele bestaan of nie, hier waar ons nou is, gaan die essensie oor mense. Ons gemeenskap met mekaar, ons gee van onsself aan mekaar, ons nagmaal met mekaar. As ons aan onsself sterf en mekaar kan vergewe soos daar vir ons gesterf en vergewe is, word verhoudings heel en ons word verlos en vry … “En as dit ‘n mite is, is dit die waarste mite wat ek nog gehoor het.”
Om meer oor Laurinda se musiek te wete te kom, stuur ‘n e-pos na trekeende@mweb.co.za
Hierdie artikel is verkort. Dit uitgehaal uit die Desember 2009 publikasie van Rooi Rose.