About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

‘n Oosterse Moedersdag-teetafel

Daar is iets spiritueels aan tee drink wat mense nog altyd gesellig laat kuier het.

table settingDis vandag vir baie van ons steeds ‘n laenis vir die siel. Vir Ma se Dag kan jy ‘n verskeidenheid tee by ‘n spesialiteitsteewinkel koop sodat elke gas teen haar eie pas vir haar ‘n brouseltjie in delikate erde- of potysterpotjies kan maak.

teatrayHou die spyskaart lig en sierlik met klein happies vol aromatiese geure en smake.

Pak ‘n verskeidenheid tee saam met klein porseleinkoppies en erdeteepotjies op ‘n mooi skinkbord uit.

Sit vars vanielje bondeltjies en ook kaneelstokkies uit wat as roerstokkies gebruik kan word en die tee sommer ook geur.

Maak jou eie teesakkies met sagte moselienlap of sy en werk met borduurgare klein blomtosseltjies van papier aan die sakkies vas om dit uithaalslag te vergemaklik.

Fortuinkoekies

maak 12

Skryf dankie-sê boodskappe vir Ma op strokies papier en draai hulle in fyn fortuinkoekies toe.

  • 2 eierwitte

    fortuinkoekies
    Fortuinkoekies bekoor altyd: die woorde en die soet smelt saam op jou tong
  • 80ml (1/3 koppie) strooisuiker
  • 80ml (1/3 koppie) koekmeel, gesif
  • vanieljegeursel
  • 45ml (3 eetlepels) botter, gesmelt

Voorverhit die oond tot 160°C. Sny ‘n 8 cm-sirkel uit asetaat (transparantpapier). Gebruik die deel met die gat in. Sny papier-tjies van 12 cm x 12 cm en skryf Moedersdag boodskappe daar-op.

  1. Klop die eierwitte tot sagte punte vorm. Klop die suiker geleidelik by.
  2. Vou eers die meel in, dan die vanielje en botter.
  3. Sit die asetaat stensil op ‘n bakplaat met ‘n silikoonmat (silpad). Skep ‘n plat eetlepel van die deeg in die middel van die stensil. Smeer plat en egalig, herhaal. Maak twee koekies op ‘n slag. Verwyder die stensil en bak vir sowat 5 min. tot die kante begin verkleur.
  4. Hou die bakplaat in die oond om die koekies langer buigbaar te hou. Maak die koekies met ‘n palet-mes los. Sit ‘n boodskap papiertjie in die middel van elke sirkel, vou toe om ‘n haltmaan te vorm en vorm oor die rand van ‘n koppie sodat die halfmaan koekie op sy rugkant oor die koppie hang. Laat afkoel. Herhaal met die res van die deeg.

Teejellies

teejellie

Genoeg vir 6

Koop ‘n geurige Ceylon-tee soos Vanilla Rose en maak die mooiste jellies daarmee.

  • 20 ml (4t) poeiergelatien
  • 125 ml strooisuiker
  • 500 ml water
  • 10 ml (2t) roostee (ons het Origin se Vanilla Rose gebruik)
  1. Laat die gelatien vir 5 min in 60 ml (¼ koppie) water week tot dit soos ‘n spons lyk.
  2. Verhit die water en suiker in ‘n klein kastrol oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos is. Voeg die tee by en laat trek vir 1-2 min.
  3. Roer die gelatien by die warm vloeistof tot dit gesmelt is. Gooi in 6 mooi jellievormpies met ‘n inhoudsmaat van 90 ml.
  4. Sit in die yskas vir minstens 2 uur of tot geset.

Delikate Dimsum

Maak 10

voutjies

Dimsum is delikate bondeltjies wat gevul word met ‘n verskei-denheid vulsels. Ons het ‘n eenvoudige, vinnige weergawe gemaak wat smul-lekker smaak.

  • 20 gaar garnale, skoongemaak en doppe verwyder
  • 5 ml (1t) fyngekapte knoffel
  • 5 ml (1t) fyngekapte gemmer
  • 5 ml (1t) fyngekapte brandrissie
  • 10 ryspapiersirkels
  1. Verhit ‘n kastrol met water tot kookpunt, verlaag die temperatuur en laat liggies prut. Sit ‘n bamboes stomer van dieselfde grootte bo-op.
  2. Meng die garnale, knoffel, gemmer en rissie.
  3. Laat week 1 ryspapiersirkel op ‘n slag in ‘n bakkie met koue water tot dit sag word – dit gebeur binne sekondes, moenie laat lê nie.
  4. Sit 2 garnale in die middel van die ryspapier en vou die kante van die ryspapier boontoe om ‘n bondeltjie te maak wat soos ‘n geldsakkie lyk.
  5. Stoom die dimsum vir 30 sekondes in die bamboes stomer. Lig versigtig met ‘n paletmes uit.
  6. Sit voor met Chinese stokkies en sojasous as doopsous.

Kwarteleiers met Swart Sesamsout

kwarteleiers

Maak 18 eiers

Kwarteleiers lyk tog te fraai op nessies van dodder.

  • 18 kwarteleiers
  • 125 ml (½ k) Maldon-sout
  • 125 ml (½ k) swart sesamsaad
  1. Bring ‘n kastrol halfvol met water tot kookpunt.
  2. Tel die kwarteleiers versigtig in die water en kook vir 2 minute vir hard gekookte eiertjies. Haal uit die water en pak uit op ‘n nessie.
  3. Meng die sout en sesamsaad en sit in bakkies saam met die eiers voor.
  4. Sit ‘n leë bakkie langs die nessie vir die doppies. Elke gas dop sy eiertjie af en eet dit saam met die swart sesamsaadsout.

Florentines

Maak 18

florentines

Hierdie koekies lyk soos kant wat met juwele versier is en is heeltemal verslawend.

  • 95 ml (1/3 k + 1 eetlepel) botter
  • 80 ml (1/3 k) gouestroop
  • 60 ml (¼ k) koekmeel
  • 60 g gekristalliseerde vrugte, gekap
  • 60 g gevlokte amandels, gekap
  • 30 g versuikerde sitrusskil
  • 60 g kersies, in kwarte gesny
  • 100 g(1 blok) donker sjokolade, gekap
  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit ‘n muffinpan met ‘n inhoudsmaat van 180 ml (¾k) met kleefwerende kossproei.
  2. Smelt die botter en stroop versigtig saam in die mikrogolf. Meng die meel, vrugte, amandels, sitrusskil en kersies by.
  3. Skep opgehoopte teelepels van die mengsel in elke holte van die muffinpan. Druk plat en bak vir sowat 10 minute tot goud-bruin. Laat vir 10 minute in die pannetjie afkoel, lig uit met ‘n mespunt en laat verder op ‘n draad-rakkie afkoel; herhaal met die res.
  4. Smelt die sjokolade op die ontvries-stelling in die mikrogolf. Doop die plat onderkante van die afgekoelde Florentines in die sjokolade en laat effens set (sjokoladekant na bo), maak nou met ‘n vurk golfpatrone in die sjokolade en laat heeltemal set.

Krakerige Groente-Bondeltjies

Maak sowat 16

krakerige groente-bondeltjies

Soms word jy lus om ook aan iets vars te knibbel. Die groen-tebondeltjies is heerlik krakerig en kleurryk. Sit voor met soja- of soetrissiesous.

  • ½ klein komkommer, in die lengte middeldeur gesny
  • 1 rooi soetrissie, saadjies verwyder
  • 1 geel soetrissie, saadjies verwyder
  • 5 – 6 mange tout
  • 1 klein pers kool
  • 16 grasuie
  • sojasous en soetrissie sous vir die voorsitslag
  1. Skraap die sade van die komkommer met ‘n eetlepel uit. Sny in dun repies. Sny die soetrissies, mangetout en kool ook in dun repies.
  2. Vorm bondeltjies met die gemengde groente en bind elk met ‘n grasui vas. Jy kan die groente in yswater laat week om hulle ekstra krakerig te maak en mooi te laat omkrul.

Peer-en-okkerneutkoekies

pere

Maak 8

Gedroogde Pere

  • 8 vars pere
  • 80 ml strooisuiker

Koekies

  • 125 ml suiker
  • 125 ml olyfolie
  • 1 eier
  • 375 ml koekmeel
  • 3 ml koeksoda
  • 3 ml kaneel
  • 60 ml melk
  • 80 ml okkerneute, gekap
  • 250 ml peer-stukkies (gebruik die afgesnyde oorskietstukkies van die gedroogde pere)

Voorverhit die oond tot 140 °C.

  1. Sny die vars pere in die lengte in dun lappies. Pak die lappies uit op ‘n silikoonmat (silpad) of bakpapier en sprinkel ‘n bietjie van die suiker oor. Droog in die oond tot die peertjies droog begin lyk maar nie vorm verloor nie. Laat afkoel en herhaal met die res.
  2. Verhit die oond tot 180 °C. Spuit ‘n 8 ml x 180 ml (¾ k)-muffinpannetjie met kleefwerende kossproei.
  3. Meng die suiker, olie en eier met ‘n elektriese menger of handklitser tot lig en donsig.
  4. Voeg die meel, koeksoda en kaneel by en meng tot die deeg begin bymekaarkom. Gooi die melk by en meng tot glad.
  5. Vou die neute en pere in en verdeel die deeg tussen die pannetjies. Bak vir 15-20 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom. Laat afkoel.
  6. Smeer die onderkante van die gedroogde peer-skyfies met appelkooskonfyt en plak rondom elke koekie sodat die peertjies ‘n kroontjie vorm.

Romerige Salm Terrien

Genoeg vir 6 klein of 1 middel-slag-terrien

samterrien

  • 15 ml (1 eetlepel) water
  • 5 ml (1t) gelatienpoeier
  • 310 ml (1¼k) suurroom
  • 5-10 ml (1-2t) suurlemoensap
  • hand vol dille
  • 150 g gerookte salm, in dun repies gesny
  • sout en gemaalde swartpeper na smaak

Voorverhit die oond tot 180°C.

  1. Gooi die water oor die gelatien en laat staan vir 5 min. Smelt vir ‘n paar sekondes in die mikrogolf op die ontvriesstelling (wees versigtig – dit mag nie kook nie).
  2. Meng die suurroom, suurlemoensap en dille in ‘n mengbak. Gooi die gelatien in ‘n dun stroompie by en meng deeglik. Meng die salm deur en geur na smaak.
  3. Spuit 5 ml x 90ml houers met kleefwerende kossproei. Gooi die mengsel in die houers en bedek met kleefplastiek sonder dat dit aan die oppervlak raak. Verkoel vir minstens 2 uur of tot geset.
  4. Sit voor met pistasie melbabrood.

Pistasie Melbabrood

Genoeg vir 1 middelslag-broodjie

Sny die melbabrood met ‘n elektriese mes in papierdun lappies.

  • 3 eierwitte
  • 90 ml strooisuiker
  • 170 ml koekmeel
  • 100 g geskilde pistasieneute

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit twee 14 cm x 7 cm broodpannetjies met kleefwerende kossproei.

  1. Klop die eierwitte tot stywe punte vorm.
  2. Voeg die strooisuiker by en klop weer tot die suiker deurgemeng is.
  3. Vou die meel en pistasieneute in. Gooi die mengsel in die broodpannetjies en bak tot ‘n toetspen skoon uikom en die broodjie ligbruin is.
  4. Laat afkoel en draai met kleefplastiek toe. Vries oornag.
  5. Sny die brood in papierdun snytjies en droog in die oond by 100 °C. Die broodjie moenie verkleur nie; net krakerig word.

Gemmer-en-Klapper Kolwyntjies

kolwyntjies

Maak 18

  • 225 ml (¾ k + 3 e) sagte botter
  • 200 ml (¾ k +1e +1t) strooisuiker
  • 5 cm vars gemmer, fyn gerasper
  • 4 eiers, liggies geklop
  • 375 ml (1 ½ k) bruismeel

Versiersuiker

  • 310 ml (1 ¼k) versiersuiker
  • 310 ml (1 ¼k) botter
  • 125 ml (½k) fyn klapper vars of gedroogde klapperkrulle vir versiering

Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer 2 middelslag muffinpannetjies met kolwyntjie-papiertjies uit.

  1. Room die botter, suiker en gemmer in ‘n elektriese menger, of met ‘n klitser tot lig en donsig.
  2. Gooi die eiers stadig by terwyl jy aanhou klits. As die mengsel begin skei, voeg ‘n bietjie meel by. Sif die meel by terwyl jy stadig bly klits.
  3. Skep die deeg in die muffinpannetjie en maak gelyk bo-op. Bak vir 12-15 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom. Laat op ‘n draadrak afkoel.
  4. Versiersuiker: room die suiker en botter tot lig en donsig. Meng die klapper deur. Skep ‘n opgehoopte teelepel vol versiersuiker op elke kolwyntjie.
  5. Versier elke kolwyntjie met die klapper-krulle.

Stroperige Teekoekies

Maak 8 klein koekies

stoperige teekoekies

Ons het hierdie koekies in klein vormpies gebak, maar kolwyntjiepannetjies werk ook goed.

  • 80ml(1/3 k) suiker
  • 2 eiers
  • 60 ml (4 e) botter, gesmelt en afgekoel
  • 60 ml (1¼k) suurroom
  • 125 ml (½ k) koekmeel
  • 2,5 ml bakpoeier
  • 125 ml (½ k) gedroogde appelkose, gekap

Teestroop

  • 125 ml (½k) heuning
  • 5 ml (1t) lemoenskil tee (soos Origin se Blood Orange) geweek in 125 ml (½k) kookwater en dan deur ‘n siffie gegooi
  • 5 cm gemmer, gesny

Voorverhit die oond tot 180°C. Spuit 8 pannetjies met ‘n inhoudsmaat van 80 ml (1/3 k) elk, met kleefwerende kossproei.

  1. Klop die eiers en suiker tot lig en romerig. Meng die botter en suurroom by. Klop goed en meng die meel, bakpoeier en appelkose by.
  2. Bak vir 25 minute tot goudkleurig en ‘n toetspen skoon uitkom. Laat op ‘n draadrak afkoel.
  3. Teestroop: laat kook die heuning, water, tee en gemmer vir 5 minute in ‘n kastrol oor matige hitte. Haal die gemmer uit en kook af tot ‘n dik stroop.
  4. Gooi die stroop oor die koekies en maak seker elke koekie is heeltemal met stroop bedek.

Deur Vickie de Beer. Blomme Marieda Steyn. Foto’s deur Johan Wilke. Hierdie artikel is uitgehaal uit die Mei 2010 uitgawe van Rooi Rose.

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.