Deur: Alita Steenkamp. Foto: Peter Whitfield. Die artikel is geneem uit die Januarie 2012 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Mcintosh Polela, die woordvoerder van die Valke, die polisie se elite-ondersoekeenheid, het ‘n woordjie vir misdadigers en mense wat korrupsie pleeg.
Hy is jonk, dinamies en altyd in die spervuur. In die meer as ‘n jaar wat Mcintosh die Valke se woordvoerder is, moes hy al vure doodslaan oor die feit dat hy sy naam al twee keer verander het, en dat hy ‘n aksent het wat niks verklap van sy grootwordjare in ‘n klein, plattelandse gemeenskap in die Drakensberge nie. Mcintosh sê dat hy as mens nooit tevrede is nie, “Ek het geleer om nooit te aanvaar wat ek het nie, want daar is altyd meer om te doen.”
Jy het grootgeword as Steven Shezi, later het jy jou naam na Mcintosh Nzimande verander en nou is jy Mcintosh Polela. Hoekom so?
In my boek My Father, My Monster vertel ek hoe my pa my ma doodgemaak het toe ek amper vyf was. Toe ek later besluit om ‘n joernalis te word, het die McNamaras, ‘n familie wat hulle oor my en my suster ontferm het, en my onderwysers voorgestel ek moet my naam verander totdat ek gereed is om my pa te ontmoet. Ek het deur baie boeke geblaai op soek na ‘n naam, maar toe luister ek na ‘n onderhoud met die reggaekunstenaar Peter Tosh wie se regte naam Winston Hubert Mcintosh is, en net daar het ek op die naam besluit. Ek was as joernalis bekend as Mcintosh Nzimande, maar later het ek die kans gekry om my van te verander na iets waarop ek ook trots kon wees. Die Polela-rivier het deur ons dorpie geloop, en ek het daar langs die rivier ‘n nuwe lewe gekry toe ek besluit om nie my lewe te neem nie.
Het die swaarkry in jou kinderdae jou gemotiveer om vandag betrokke te wees by ‘n organisasie wat om reg en geregtigheid veg?
Die werk het my gekry sonder dat ek daarna gesoek het. Ek het vroeg al geweet hoe jy jou medemens nie moet behandel nie. Van kleins af het ek probeer om die teenoorgestelde te doen as wat aan my gedoen is. In daardie omstandighede het ek as kind gedink dit is normaal, mense mag so met jou maak. Toe ek die McNamaras en van my onderwysers ontmoet, het ek besef dit moenie so wees nie. Ek dink dit het my beslis voorberei daarop om teen die onregverdige behandeling van mense te veg.
Waar lê die oorsprong van jou aksent?
Dis ‘n mengsel van verskillende invloede. Die McNamaras is van Skotse oorsprong en hulle het beslis ‘n rol gespeel. My onderwysers by die hoërskool en die uitspraakklasse waarheen die Katolieke kerk my gestuur het, het alles ‘n invloed op my Engels gehad. Ek kan nie my eie aksent plaas nie.
Hoe voel jy oor die kritiek wat Lindiwe Mazibuko, parlementêre leier van die DA, oor haar aksent gekry het?
Mense sukkel soms met hul selfbeeld en dan kritiseer hulle ander om beter oor hulself te voel. Ek wens mense wil ophou om in die huidige Suid-Afrika kommentaar oor iemand se aksent te lewer. Ons lewe in ‘n gemengde gemeenskap en jong mense wat soos Lindiwe grootgeword het, kan nie geblameer word vir die manier waarop hulle praat nie. Suid-Afrika is besig om reg onder ons oë te verander, ons kan nie meer in hokkies geplaas word nie.
Is die Valke op die oomblik so suksesvol soos wat hulle behoort te wees?
Ons is ‘n nuwe organisasie wat nog probeer om behoorlik op dreef te kom. In ons kort bestaan het ons wel al ‘n merkbare verskil gemaak. Die Valke het op ‘n omstrede manier op die toneel gekom, want die eenheid is na die ontbinding van die Skerpioene ingestel en daarom twyfel baie mense aan ons. Die besluit om die wapentransaksie weer te ondersoek het sekere politici uitgeboul. Die Valke is nie baie gewild by die politici nie. Luitenant-generaal Anwa Dramat, bevelvoerder van die Valke, is instrumenteel in wat ons doen. Ons beveg misdaad sonder om selektief te wees oor wie ons gaan ondersoek.
Kan ons meer doen? Ek dink so. Daar is nog soveel om te doen. Daar is sakelui en politici wat in die teenoorgestelde rigting gaan as waarheen hierdie land wil beweeg. Dis hulle wat ons moet plattrek. Ons het al ‘n paar platgetrek, maar nog nie genoeg nie.
Watter boodskap het jy vir korrupte mense, of wat met onwettige bedrywighede besig is?
Sodra jy by misdaad en korrupsie betrokke is, nooi jy ons om aan jou deur te klop en jou sake te ondersoek. Die Valke sal daardie uitnodiging altyd aanvaar. Ons sal op jou spoor bly. Vir die mense van Suid-Afrika wil ek sê: Ons is hier om ons werk te doen, ons is vasbeslote om dit te doen. Elke keer wanneer ek ‘n oproep kry van iemand wat die fluitjie blaas, volg ek dit op. Dit gee ons veel vreugde as die ondersoek ‘n skuldige aan die pen laat ry.
Is die Valke werklik vry van politieke inmengery?
Ons is heeltemal vry van politieke manipulasie. Die ANC het self gesê ons het nie ‘n kantoor in Luthuli-huis nie. Hulle het ook nie ‘n direkte lyn na my of Anwa Dramat nie. Die konstitusionele hof het uitspraak gelewer dat die Valke as onafhanklik gesien moet word – geen beheer moet deur een of ander parlementskomitee uitgeoefen word nie. Ons streef elke dag om dit reg te kry. Die persepsie dat ons deur politici beïnvloed word, is ‘n wanpersepsie.
Wat was tot dusver die grootste sukses van die Valke?
Anders as die Skerpioene, neem die Valke mense net in hegtenis en gee die misdadigers dan aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) oor wat die vervolging doen. Een van die grootste suksesstories van die Valke is die ondersoek na die bedrywighede van die vorige premier van die Noord-Kaap, John Block. Die hofsaak is tans aan die gang en daar het reeds ander dinge uit die hofsaak gespruit wat nou ondersoek moet word. Die tweede saak hou hiermee verband – die inhegtenisneming van die Uruguaan Gaston Savoi. Sy arrestasie het daartoe gelei dat sekere politici ondersoek word.
‘Sodra jy by misdaad en korrupsie betrokke is, nooi jy ons om aan jou deur te klop en jou sake te ondersoek. Die Valke sal daardie uitnodiging altyd aanvaar.’
Dink jy daar is hoop in die stryd teen korrupsie in ons land?
Wil jy my persoonlike mening hê? ‘n Deel van my is hoopvol maar die probleem is dat ‘n sekere ingesteldheid in ons land posgevat het, soos dat jongmense byvoorbeeld probeer om polisielede om te koop. Onlangs het ons ‘n amptenaar by Binnelandse Sake gearresteer wat omkoopgeld van ‘n Zimbabwiër wou hê, en iemand wat ‘n sakevrou in Mpumalanga wou omkoop, is aangekeer. ‘n Deel van my is dus hoopvol, want ons is in staat om sulke mense te vang. ‘n Ander deel is angsbevange dat dit ‘n permanente deel van die aard van die Suid-Afrikaanse samelewing geword het. Ons sal veg en soveel mense moontlik aankeer, maar in hulle plek sal net weer ander korruptes uitkruip.
Jy was ‘n joernalis en is nou die woordvoerder van die Valke. Mis jy die joernalistiek?
Ek het my boek begin skryf terwyl ek nog ‘n joernalis was, en toe ek klaar was daarmee het ek besef ek het nie meer die energie en dryfkrag om heeltyd stories te jaag nie. Jy betree die joernalistiek met die idee dat jy die wêreld gaan verander. Maar mettertyd besef jy die wêreld is te groot, en jy en ‘n paar duisend ander joernaliste sal dit nie kan verander nie. Wat ek nou doen, is ‘n ander soort geveg en dis baie bevredigend. Ek kan die resultate onmiddellik sien. Ek sien hoe mense wat korrupsie en onreg pleeg, toegesluit word. Tog weet ek ek sal nooit ophou om ‘n joernalis te wees nie. Al is ek nou die woordvoerder, gedra ek my steeds soos ‘n joernalis.
Hou jy van jou werk?
Baie. Tog is Mcintosh nooit tevrede nie. Ek het geleer om nooit te aanvaar wat ek het nie, want daar is altyd nog meer wat ek kan doen. Ek skryf boeke, want dit vervul my. Ek is nou besig met my tweede boek, en dit toets my vermoë om nie net tevrede te wees met my werk by die Valke nie, maar ook om te kyk wat ek nog kan doen. My skryfwerk is my bevestiging dat al geniet ek my werk baie, is daar nog veel meer wat gedoen kan word.



