ShowMe South Africa

Ons Het al Alles geproe

Dirk en Reinet Nagtegaal het geen bekendstelling nodig nie. Regsgeleerdes, en entrepreneurs, koskenners en skrywers wat geldelik ook ruim bygedra het tot die ontwikkeling van die Afrikaanse kunste. Vanjaar was vir hulle ‘n moeilike jaar, want kanker is by Reinet gediagnoseer. Maar steeds lééf hulle – in hoofletters en met ‘n paar uitroeptekens!
Dirk en Reinet Nagtegaal - Ons het al alles geproe
Dirk en Reinet Nagtegaal

By die Nagtegaals is kuier ‘n vrolike affêre. In ‘n pragtige huis, ‘n klein klippie se gooi van die Atlantiese Oseaan af, weet ‘n mens sommer hier word baie gelag en gekuier, en veral geleef, selfs in ‘n tyd toe daar ‘n dood-skaduwee oor hulle gehang het.

Die liefde tussen Dirk en Reinet is tasbaar. Jy voel dit in die atmosfeer, lees dit in hul lyftaal en die manier waarop hulle mekaar se sinne voltooi. Die laaste paar maande, vertel Dirk, het hulle nog nader aan mekaar gebring. Dit was ‘n reuseskok toe kolonkanker in Maart vanjaar by Reinet gediagnoseer is. “Die dokters het haar drie tot ses maande gegee om te leef,” vertel Dirk.

“Dan dink jy net heeltyd oor die dood,” vertel Reinet. “Dis seker wat gebeur wanneer ‘n leeu ‘n bok vang. Daar is ‘n mental shutdown, en jy word meer logies, minder emosioneel. As jy op die dood wag, vrees jy niks meer nie, want alle vrees spruit uit vermyding van die dood.”

Reinet vertel hoe wonderlik haar ondersteuningsnetwerk was. Sy beskryf haar man en kinders, Jan-Jan en Jackie en skoondogter Vera, as ‘n “logiese linkerbrein ondersteuningsnetwerk” wat dit vir haar baie makliker gemaak het om die skok te verwerk.

“Die hulpeloosheid van wag is baie erg. Dis natuurlik makliker om te verwerk sodra jy eers besluit het om om jou lewe te veg.”

Die kanker in Reinet se kolon kon suksesvol verwyder word, maar chemoterapie en chirurgie sou nodig wees om die lewer te probeer red, en sy wou eers niks daarvan weet nie. “Maar my skoondogter het bly se ek moet vitamien C-behandeling kry en vir chemoterapie gaan sodat die vyf kolle op my lewer kan krimp.”

Twaalf weke se chemoterapie later kan jy byna nie glo Reinet is so ernstig siek nie. “Sy ry fiets en draf al weer,” vertel Dirk trots, en kyk met sagte oë na sy vrou. “Gister het sy seker twee kilometer gedraf.”

Die dag voor ons onderhoud het die uitslag gekom: vier van die vyf kolle op haar lewer het so gekrimp dat daardie deel van die lewer weg-gesny kan word. Hulle is baie opgewonde oor die goeie nuus, en gaan dit net na ons onderhoud vier met ‘n naweek-wegbreek saam met Jackie en Vera en hul twee kleinkinders, Dirkie (5) en Finn (2).

Reinet is vasberade om die kanker te klop. “Dit kan bestuur word. Elke tweede mens het deesdae kanker. Die belangrikste is net om jou kop daarom te kry. En sodra jy eers besluit het om terug na die lig te roei, kry jy weer hoop.”

Dirk vertel hoe Reinet die stryd op alle vlakke gevoer het. “Sy het selfs haar organe name gegee en hulle hardop aangemoedig om gesond te word,” vertel hy.

Reinet vertel laggend dat sy een van die min kankerpasiente is wat tydens chemoterapie gewig aangesit het. “Ek het geglo ek eet my naarheid weg.”

Dis die ander ding van die Nagtegaal-huishouding: kos is hier nie net vir versadig word nie. Dis een van hul liefdestale, die verpersoonliking van liefde en saamwees.

“Dirk is ‘n feeder,” vertel Reinet. “Vir my is kos een van die sexyste goed wat daar is. Jy gebruik al jou sintuie wat jy nodig het om te oorleef as jy kook en eet. Dirk sal die oggend opstaan met ‘n idee van wat hy daardie dag wil kook, en dan sal hy my die hele dag daarvoor lus maak.”

Elke dag se bestanddele word vars gekoop, of gepluk uit hul kruie-tuin – sommer so geplant op ‘n stukkie strand net voor hul stoep – of die groentetuin, neffens die kombuis. Kos is vir al die Nagtegaals ‘n belangrike element van hul daaglikse lewe, soos jy ook kan sien in Dirk se kookboek Kok en Skinker (Joho!, 2009) en Loorita se Griekse voorskoot, wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het.

Hul kinders – en selfs die twee kleinkinders – is net so kreatief in die kombuis, danksy ‘n jare lange, daaglikse kombuisritueel. Sedert hul kleintyd kon die Nagtegaal-kinders vir hulself kook net waarvoor hulle lus was. Hulle al vier was dan saam in die kombuis, aan’t kook en gesels.

“Ons enigste vereiste was dat almal se kos op dieselfde tyd moet klaar wees sodat almal saam kon eet,” vertel Dirk. Met die etery aan tafel is daar dan lustig oor-en-weer geproe. Tot vandag is die saam-kokery ‘n kosbare deel van hul lewe, selfs al woon die kinders nie meer by hulle nie.

Die gebruik, vertel Dirk, het eintlik indirek by sy ma ontstaan. “Ons was vier seuns. Ek spot altyd en sê ek was my ma se dogter, want ek het al van omtrent twee jaar oud af kos gemaak. My pa was ‘n Hollander, maar ‘n avontuurlike eter. Hy wou alles proe. My ma het elke aand gevra waarvoor is ons lus, en dan vir elkeen presies dit gemaak.”

Kos is ‘n lekkerte wat hulle graag met vriende deel, en so het Loorita se Griekse voorskoot ontstaan. Loorita, die akteur Nico Panagio se ma, en haar man, Nic, het huisvriende geword toe Jan-Jan en hul dogter as tieners uitgegaan het. Kos was ‘n gedeelde passie en die grondslag van ‘n jare lange boesemvriendskap.

“Ek en Dirk is smulpape. Hy het op ons eerste afspraak al vir my gekook, en Loorita se hele lewe het om goeie kos en smake gedraai,” sê Reinet. “Dit was ‘n hele ervaring om saam met haar en Dirk te gaan uiteet. Hulle sou enigiets doen om ‘n goeie resep uit ‘n kok te kry.”

Nadat die Nagtegaals Pretoria vir Melkbosstrand verruil het, het Loorita en Nic elke Desember by hulle kom vakansie hou sodat daar gekook en gekuier kon word. Met die skryf van Dirk se Kok en Skinker het Loorita hom help ontwikkel aan van die resepte, en die idee van ‘n kookboek met haar lekkerste Griekse geregte en ‘n kostoer na Griekeland is gebore.

‘Ek het haar sien instap en vir my vriende gesê ek gaan met haar trou’

Maar die lewe neem sy eie onvoorspelbare loop, en omtrent vyf jaar gelede is aggressiewe pankreaskanker by Loorita gediagnoseer. Sy is kort daarna oorlede, en die Nagtegaals moes die kosvakansie Griekeland toe sonder haar onderneem. “Maar toe ons met hierdie kookboek begin, was sy meteens weer met ons in die geur en smaak van elke gereg en elke glas wyn.”

Die boek is ‘n ode aan ‘n goeie vriendin, vol Griekse resepte met ‘n lekker Suid-Afrikaanse kinkel.

Die Nagtegaals is bekend as mense wat met hul talente woeker. Dirk, Reinet en Jackie is almal gepubliseerde skrywers (met ‘n paar bekronings tussen hulle) en al vier lede van die gesin is gekwalifiseerde regsgeleerdes en betrokke by die familie-onderneming Lipco, ‘n maatskappy wat regsbemiddeling doen. Hulle was ook ten nouste betrokke by die Afrikaanse kunste, onder meer deur die Nagtegaal-teksprys vir nuwe dramatekste. Nou het hulle nog iets om op hul ellelange CV’ste sit: restauranteienaars.

“Dirk wou nog altyd ‘n restaurant gehad het,” vertel Reinet toe ons oor hul restaurant, die baie gewilde Damhuis op Melkbosstrand, gesels.

“Hulle sê altyd die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag, en ek sê ‘n vrou se pad na haar hart loop deur haar mond,” sê Dirk.

“Daar is iets sielkundig goddelik daaraan om gevoer te word,” meen Reinet, wat vertel hoe Dirk selfs haar kleinste koswens sal waar maak. “As ek nege-uur in die aand sê ek dink pannekoek sal nou lekker wees, sal hy opstaan en vir my gaan bak. Ons ly mos aan nagverhongering. Ek kan nie vir jou sê hoe gereeld word daar in hierdie huis in die nag gekook nie,” lag Reinet.

Hul lewe is vol en gelukkig. “Ek dink ons het nou al alles gesmaak wat ons wou,” se Reinet. “Ons was betrokke by teater, boeke, kos, die regte…” En Dirk, wat eintlik ook ‘n argitek wou wees, kon ‘n droomhuis reg op die strand van Melkbosstrand ontwerp en laat bou.

Ons praat oor die liefde. Hoe en waar, wil ek weet, het dinge vir die Nagtegaals begin? “Op 28 Januarie 1977,” se Dirk dadelik. “Dis ons lucky day – ons vier dit groter as huweliksherdenkings, want dis die dag waarop ons mekaar op ‘n studentepartytjie in Sunnyside, Pretoria ontmoet het.”

Dirk het destyds medies studeer, en Reinet drama. (Hulle het later saam regte studeer.) “Ek het haar sien instap en vir my vriende gesê ek gaan met haar trou.” ‘n Dag of twee later het hy haar genooi vir ‘n ete wat hy self gekook het, en hier sit hulle nou, byna 35 jaar later.

Wat hou hulle bymekaar? “Verhoudingsbestuur,” antwoord Reinet dadelik, doodernstig. “Ek glo met my hele hart aan kommunikasie. Ons hou formele vergaderings en praat oor goed wat pla. Dis ‘n goeie resep. Dan bly jy stil oor die klein goedjies wat pla, en sit dit op jou lysie van goed om op die vergadering te bespreek. Die stilbly is dan makliker, want jy weet jy gaan een of ander tyd daaroor kan praat.”

Hulle het vroeër jare baie gereeld vergadering gehou, maar deesdae is dit al hoe minder nodig. Die vergaderings was nie altyd in raadsale nie. “Ons het naweke weggegaan om te gaan praat, en selfs eenmaal Etosha toe,” vertel Dirk. “Teen die tyd wat ons daar gekom het, was die vergadering gelukkig nie meer nodig nie!”

Dirk glo dit is noodsaaklik dat paartjies mekaar die vryheid gun om te wees wie hulle wil wees. “Jy moet jou maat dit gun om die beste mens te word wat sy kan, en jy moet haar drie honderd persent daarin ondersteun. Ek kan nie glo dat so min mans dit verstaan nie. Die meeste mans wil hul vroue vasdruk. Die bevryding van die vrou het mans ook vryer gemaak, want hoe meer vryheid die vrou het, hoe meer vryheid het die man ook. Ek het vir Jan-Jan geleer: ‘Love your wife, love your life’.”

“Liefde vra algehele vryheid,” meen Reinet. “As jy iemand kan liefhê met vryheid, lê die wenpaal oop voor jou.”

“Die liefde ken nie woorde soos ‘moenie’, ‘nee’ of ‘pasop’ nie,” sê Dirk.

“Ja, hou daardie woorde vir jul verhoudingsbestuur-vergaderings,” beaam Reinet. “Onthou, elke liewe woord wat tussen jou en jou maat gesê word, bly hang. Moenie iets sê wat ‘n maat sal seermaak nie.”

Nie dat dit beteken hulle stry nie. “As iemand vir my sê hulle stry nooit in hul huwelik nie, vra ek altyd watter een is dan dood,” sê Reinet.

Nog ‘n gulde reël, vertel Dirk, is om soms die hof te verdaag. “Regtig! Dit werk so in die regswêreld ook. Jy kry ‘n ander perspektief op iets as jy gou ‘n draai gaan loop.”

Hulle steur hulle nie veel aan tradisionele rolle nie. “Dirk kook, en ek is die nutsman,” vertel Reinet. “Ek glo jy moet in voeling wees met jou vroulike en jou manlike kant.”

Dirk vertel hoe baie hy by Reinet se pa geleer het. “Hy was die oopkopste, mees liberale uit-die-boks-denker wat ek geken het. Hy het nie aan lyfstraf geglo nie, en sou nie sommer se iets is taboe nie, tensy hy dit goed deurgekyk en deurdink het. Ek was ‘n dubbel-gereformeerde van Potchefstroom wat baie streng grootgemaak is.”

Die Nagtegaal-kinders is net so onafhanklik en onkonvensioneel grootgemaak. Jackie het op 16 haar debuutroman Daar’s vis in die punch geskryf (bekroon met kykNET se prys vir Jong Afrikaanse Skrywers en die gesogte MER-prys vir Jeugliteratuur). In haar matriek-jaar het sy en Jan-Jan ‘n woonstel in Stellenbosch gedeel.

“Ons het ‘n maand voor Jan-Jan se matriekeksamen Kaap toe getrek, en hy het agtergebly met net ‘n huishoudster, en steeds vier onderskeidings gekry. Ek het altyd vir my kinders gesê ‘sorg dat jy A’s kry, en jy kan self besluit wanneer jy skool toe gaan’.”

Vandag is hulle ‘n hegte gesin vol uitblinkers wat nie toelaat dat Reinet se siekte hul lewensvreugde demp nie. “Krisisse hou ‘n mens nederig. Dit stuur jou lewe op ‘n ander pad waar jy nuwe skoonheid ontdek,” sê Dirk.

“Dis nodig, want dit verruim jou kapasiteit vir vreugde,” sê Reinet.

Toe ek later deur Loorita se kosboek blaai, val my oog op hierdie woorde: “Lag soveel jy kan, want as jy ophou lag, gaan jy nooit weer die spiere ontdek wat jou glimlag beheer nie.”

Deur: Ilse Salzwedel. Foto: Johan Wilke. Artikel uit die Januarie 2013 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.