Local is gewis lekker, en heldsprodukte ook. Ons het fantastiese produkte uit ons ryk verskeidenheid natuurlike bestanddele ontwikkel.
Hulle staan selfs hul man op die internasionale mark.
Environ
Dr. Des Fernandes, ‘n plastiese chirurg, het Environ Skin Care in 1990 gestig, want die rome wat destyds beskikbaar was, het nie die resultate gelewer waarna hy op soek was nie. Hy het die reeks begin met twee basiese rome wat hoe dosisse vitamien A bevat het. Vandag is daar sowat sewentig produkte in meer as agt reekse en Environ word na meer as sestig lande uitgevoer.
Dr. Fernandes het ook vir ‘n paar ander eerstes gesorg wat hom ‘n goue reputasie onder kenners soos terapeute en dokters gegee het. Die Environ DF-masjien kombineer sonophoresis en iontophoreses wat meehelp dat aktiewe bestanddele die vel dieper binnedring en dis baie doeltreffend in die behandeling van littekens, oneweredige veltoon en rekmerke.
Maar ons is veral dankbaar dat dr. Fernandes ‘n toonaangewende, doeltreffende en bekostigbare plaaslike reeks produkte vir mense van alle rasse en ouderdomme geskep het.
www.environ.co.za Tel: 021 6711467
Africology
Die Africology Spa-reeks kry sy inspirasie uit Afrika en gebruik die helende eienskappe van ons plaaslike bestanddele om veroudering tee te werk.
Rencia Droganis is passievol oor die natuur en wou ‘n reeks skep wat geen chemiese bestanddele of geurmiddels bevat nie, nie op diere getoets word nie, en harmonie tussen liggaam en gees bewerkstellig. Haar benadering tot maatskaplike verantwoordelikheid en die ontwikkeling van individue en gemeenskappe in Afrika het haar die Les Nouvelles Estetique Spa Humanitarian-prys besorg.
Die Africology-reeks word in meer as 190 spa’s en salonne landwyd en internasionaal verkoop. Rencia beoog om later vanjaar Africology-winkels te open.
www.africology-sa.com Tel: 011 326 4779
The House of Aloes
Aalwyn is al eeue lank bekend vir sy helende, anti-inflammatoriese, anti-bakteriese en antivirale eienskappe wat die plant so uiters geskik vir velsorg maak. Die Egiptenare het die gebruik van aalwyne reeds op die piramides uitgebeeld.
Alcare is ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy wat die eerste aalwynfabriek in 1986 op Albertinia geopen het. Die Kaapse aalwyn groei wild in die omgewing en geen insekdoders of kunsmis kom naby die plante nie. Die maatskappy gebruik steeds die antieke metodes om aalwyn te oes en die maatskappy glo ook in omgewingsvriendelike metodes en billike arbeidspraktyke.
Die meeste van hul formules vir gesondheidsprodukte is deur die Suid-Afrikaanse Medisyne beheerraad goedgekeur en sommige produkte word selfs deur mediese fondse ondersteun. Alcare word na Europa, Asië en die VSA uitgevoer.
www.alcare.co.za Tel: 028 7351454
Tip Top
As jy in ag neem hoeveel internasionale naelsorgprodukte daar is, moet jy jou hoed vir die fenomenale sukses van hierdie Suid-Afrikaanse maatskappy afhaal.
Die Tip Top handelsnaam sluit Tip Top, Keri-Kure, Shombali en Tip Top Feet in. Voorkomskonsultant Joan Kahn het die maatskappy byna 26 jaar gelede gestig nadat sy ‘n gaping in die mark vir doeltreffende naelsorgprodukte raakgesien het. Joan se filosofie van “moenie die naelprobleem met naelpolitoer bedek nie, behandel eers die probleem”, het meegewerk tot die sukses van haar onderneming.
Die Tip Top-produkte bevat geen gifstowwe of skadelike chemiese bestanddele nie.
www.tiptopnails.co.za Tel: 011 440 5643
Oh So Heavenly
Oh So Heavenly het die eerste keer in 2001 ‘n paar bad- en lyfprodukte in Clicks bekend gestel. Sedertdien het die reeks ongelooflik gegroei en is nou die suksesvolste bad- en lyfreeks by Clicks. Die handjie-vol produkte het intussen 140 produkte en talle reekse geword.
Spesiale produkte word ook vir geleenthede soos Moedersdag en Kersfees bekend gestel. Die handelsnaam fokus net op vroue, en vanjaar reik hulle ook hul Positively Pink-reeks uit wat ontwikkel is om geld vir die kanker welsynsorganisasie Look Good … Feel Better (www.lgfb.co.za) in te samel. Hulle het reeds meer as R100 000 geskenk en ‘n persentasie van die verkope van elke Positively Pink-produk sal ook aan die organisasie geskenk word.
www.ohsoheavenly.co.za Tel: 031 566 5424.
TheraVine
Die helende eienskappe van druiwe word met groot sukses in die unieke TheraVine Spa-reeks gebruik. Wyn is ‘n fantastiese antioksidant en kragtige teenverouderingsbestanddeel. Die reeks bevat hoë konsentrasies druiwepolifenolie, afkomstig van druiweblare, -pitte en -skille, sowel as helende olies van Kaapse plante.
TheraVine is sowat vyf jaar gelede begin, en is vandag in meer as 250 spa’s landwyd beskikbaar en word ook na die VSA, Nieu-Seeland, Europa en Hongkong versprei.
www.theravine.co.za Tel: 021 886 6623.
Willa Krause
‘n Mens kan werklik sê die Willa Krause-maatskappy is ‘n gesinsonderneming. Willa se dogter, Liesl, is die bemarkingsbestuurder; haar man, Siebert, die besturende direkteur en Willa se seun, Ludwig, is verantwoordelik vir navorsing en uitvoere en sy vrou, Francel, is ‘n grafiese ontwerper en grimeerkunstenaar.
Willa het Argilla Pottery in 1978 begin, maar velprobleme van die hitte en stof in die fabriek gekry, Sy kon nie produkte kry wat hierdie probleem kon oplos nie, en het toe haar eie reeks ontwikkel.
Teen-veroudering is die hooffokus van al haar produkte en die nuwe Age Control-reeks is ‘n groot sukses. Willa Krause-produkte is beskikbaar by 250 salonne en het 2 000 konsultante wat die haarsorg-, velsorg-, baba-, verslankings-, fyngeurprodukte en grimering bemark.
www.willakrauseskincare.co.za 012 5441300.
Annique
Die baie bekende en suksesvolle maatskappy, Annique Rooibos Health and Skincare, het gegroei uit ‘n Suid-Afrikaanse ma se “ontdekking” in 1968 dat rooibos tee met haar baba-dogtertjie se koliek en slaaploosheid klaarspeel.
Vandag word die ma, Dr. Annique Theron, se produkte na meer as 24 lande uitgevoer en het sy in 1997 ‘n trippel goue prys by ‘n internasionale uitstalling in Geneve gewen, en is terselfdertyd as die Beste Vroue-uitvinder van die Jaar aangewys.
In 1971 het Annique die eerste rooibosvelsorgreeks ontwikkel en begin met ‘n paar rome en 12 konsultante wat die produkte uit hul huise verkoop het – ook ‘n eerste in Suid-Afrika. Vandag is daar duisende konsultante en meer as drie honderd produkte wat uit velsorg-, lyf-, haar-, verslanking-, grimering-, gesondheid- en babareekse bestaan.
www.annique.com Tel: 012 345 9800.
African Extracts Rooibos
Anders as die meeste maatskappye wat eers plaaslik op dreef kom en later na die buiteland uitbrei, was African Extracts Rooibos van 2001 af net in gesondheidswinkels in Engeland beskibaar.
Toe bemark hulle die produkte in die VSA, Rusland en Duitsland waarna dit eers hier bekend gestel is. African Extracts Rooibos is in agt lande beskikbaar en die verkoopsyfer groei jaarliks met 50%.
www.africanextracts.com Tel: 021 514 3100.
Charlotte Rhys
Charlotte Rhys het hulle die afgelope tien jaar gevestig as ‘n handelsnaam wat luukse velsorg-, bad- en leefstylprodukte verskaf, en het onlangs ook ‘n eksklusiewe reeks spaprodukte bekend gestel.
Die groep se gegeurde kerse en kamer- en linnesproeie is veral gewild. Hulle het oorspronklik met een produk begin, en nou is daar meer as honderd produkte in agt reekse.
Die maatskappy fokus op die beskerming van natuurlike hulpbronne en volhoubare ontwikkeling.
www.charlotterhys.com 021 7021338.
Rain
Rain vier vanjaar sy tiende bestaansjaar. Hul hooffokus is bad- en lyfprodukte, maar hulle vervaardig ook badkamer-en lyfsorgbykomstighede.
Marthalie Hopkins het die maatskappy in Ladybrand begin, maar dit word deesdae uit Swellendam bedryf. Rain se missie en handelsmerk is: “Handgemaak in Suid-Afrika.”
Die maatskappy lei ook mense van plaaslike gemeenskappe op sodat hulle ‘n inkomste kan verdien en ‘n beter lewe kan lei. Daar is agt Rain-winkels in Suid-Afrika en een in Amsterdam.
www.rain.com Tel: 028 514 2926.
Koop trots Suid-Afrikaans
Kyk by hierdie groot winkels vir ‘n verskeidenheid plaaslike handelsname asook hul eie huisproduk.
- Clicks www.clicks.co.za 0860 254 257
- Woolworths www.woolworths.co.za 0860 100 987
- Dis-Chem www.dischem.co.za 0800 201170
- Pick n Pay www.picknpay.co.za 0800 112288
Nog plaaslike handelsname wat jy gerus op die proef kan stel
- Enchantrix www.enchantrix.co.za 021 7090393
- Imbali www.imbalibodycare.com 082 885 9917
- EyeSlices www.eyeslices.com 011 315 0394
- SoiL www.soil.co.za 031 201 2778
- Pure Beginnings www.purebeginnings.co.za 031 705 4435
- nutri women www.nutriwomen.co.za 0800 611711
- Caribean Tan www.caribbeantan.co.za 011 8406900
- Body Botanixwww.body-botanix.co.za 072 431 7299
- Vitaderm www.vitaderm.co.za 021 788 8321
- Elixir www.elixirskincare.com 021 788 8321
- Nimue www.nimueskin.com 011 656 1111
Deur Elaine Nixon-Campbell. Foto’s deur Cameron McDonald. Hierdie artikel kom vanuit die Julie 2010 uitgawe van Rooi Rose.