ShowMe South Africa

Rhoda Kadalie is polities vreesloos

Onderhoud:  Ilse Salzwedel. Foto: Johan Wilke.   Stilering: Cornél Dunn.

Oorsprong: Die artikel is geneem uit die November 2011 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.

Rhoda Kadalie is polities vreesloos, en die eertydse prominente stem in die struggle is deesdae een van die ANC-regering se felste kritici. Ilse Salzwedel wou weet wat sy van oudaarts-biskop Desmond Tutu se welvaartbelasting, Malema en menseregte dink.

Rhoda Kadalie is polities vreesloos, en dié eertydse prominente stem in die struggle is deesdae een van die ANC-regering se felste kritici.Rhoda Kadalie is nie net ‘n politieke meningsvormer nie, maar veg al die afgelope drie dekades vir menseregte en geslags-gelykheid in Suid-Afrika. Sy skryf haar politieke moed aan haar ouers toe. “As toegewyde Christene het hulle ons geleer om op te kom vir wat ons glo reg is, en om net God te vrees.”

Haar naam het in die struggle bekend geword, en van 1976 tot 1995 was sy akademikus aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), waar sy die Eenheid vir Geslagsgelykheid gestig het. Madiba het haar in 1995 as ‘n menseregtekommissaris vir die Wes- en Noord-Kaap aangestel, en sy is bekend vir haar ondersoeke na die skending van menseregte in tronke, op plase en in plekke van veiligheid vir kinders.

Sy is sedertdien die uitvoerende hoof van die Impumelelo Innovations Award Trust wat vindingryke inisiatiewe om armoede te bekamp help bevorder deur onder meer donateurs te kry.

Rhoda het drie eredoktorsgrade, en Kanada het haar in 2003 met ‘n menseregte-toekenning vereer.

Armoede neem toe, en die kloof tussen ryk en arm word al groter. Wat dink jy van welvaartbelasting?

Vir oudaartsbiskop Desmond Tutu om welvaartbelasting te propageer is een ding, om korrupsie ten sterkste te veroordeel, iets heeltemal anders. SARS se inkomste is groter as ooit – waar gaan ons geld heen? Ons kan agt stadions van die hoogste standaard in twee jaar bou, maar ons kan nie die mees basiese dienste, soos toilette, klinieke, skole en huise vir die armes voorsien nie. Ek verpes dit om belasting te betaal in ‘n land wat die publiek se geld blatant steel. Die ANC het geen visie of plan om met beskikbare hulpbronne in die sosio-ekonomiese regte van armes te voorsien nie. Die hulpbronne beland eerder in die sak van die ANC-meelopers en lojaliste! Ons begrotingsprioriteite is verkeerd, en ons, die burgers, hou die regering nie verantwoordelik nie.

Die ANC se graag hulle gaan regeer tot in ewigheid …

Natuurlik is dit elke evrydingsbeweging se droom om vir ewig te regeer, Kyk na die Arabiese wêreld en Ghaddafi – terwyl hy regeer het, het die VSA al agt presidente gehad. Kyk na Zimbabwe. Mugabe gaan nie sy mag opgee nie. Hierdie mense kan nie tussen party en staat onderskei nie, en in Afrika veral, is ‘n posisie in politiek die maklikste toegang tot rykdom. So, swart leiers klou aan hul posisies vir al wat hulle werd is. Bevrydingsbewegings is sleg vir die bou van ‘n demokrasie, want hulle verwag ewige lojaliteit omdat hulle daarop aanspraak maak dat hulle die onderdruktes bevry het.

Jou rubrieke in verskeie publikasies wys jou ontnugtering met die huidige regering. Wat is die oplossings vir die probleme?

Vir ‘n demokrasie om te bly voortbestaan, moet ons ‘n sterk parlement hê en daar moet portefeulje-komitees wees wat die uitvoerende gesag tot verantwoording kan roep. Ons moet ‘n onafhanklike en kragtige burgerlike samelewing hê, vreeslose en ondersoekende media, ‘n onafhanklike regbank, en sterk, aktiewe opposisiepartye.

Watter rol speel lojaliteit as dit by verkiesings kom?

Ongelukkig stem die publiek nog vir die ANC al lewer hy nie dienste vir die armes nie. In die afgelope twee verkiesings was daar ‘n groot “nee-stem”, want swart mense sal eerder glad nie stem nie as om vir die opposisie te stem.

Hulle sal tot hulle nadeel aanhou om dit te doen, nes in Zimbabwe gebeur het. Juis daarom moet die media en samelewing opposisiepartye bevorder en mense inlig oor demokrasie en die belangrikheid daarvan om jou stem te gebruik om jou misnoeë met die regering te wys. Kinders en jongmense moet opgevoed word oor die grondwet en menseregte, dit behoort deel van die leerplan te wees.

Dit lyk of die regerende party nie die moed of die politieke wil het om teen die Malemas en Manyi’s op te tree as dit kom by openbare uitsprake nie. Hoekom is dit so, en hoe bekommerd moet ons daaroor wees?

Elke fase van ANC-regering het sy eie Malema gehad. Met Mandela was dit Peter Mokaba; met Mbeki Malusi Gigaba en Fikile Mbalula; met Zuma is dit Julius Malema. Die ANC Jeugliga is verskans in die organisasie, maar die ANC het nou die struggle gewen en behoort die Jeugliga te ontbind. Maar omdat hy die “koningmaker” was by die Polokwane-kongres deur van Mbeki ontslae te raak, het die Jeugliga te groot vir sy skoene geword. Die ANC-jeug, anders as byvoorbeeld die DA-jeug, word nie oor demokrasie opgevoed nie. Ons sien deesdae op die nuus presies wat gebeur as grootmense en politieke leiers in die ANC te veel mag gee aan jeugdiges wat kwalik kan lees en skryf. Hulle rig die idiote af om te regeer, en dit kan tot ‘n ontploffing in enige demokrasie lei.

Die ANC-leierskap met sy endemiese korrupsie het Malemas en swart ekonomiese bemagtigingsvennote geskep wat voel hulle is op die land se hulpbronne geregtig. Baie van daardie ryk swart mense was nie eens in die struggle nie. Dit is die ergste vorm van entitlement, en ons sal nog ‘n revolusie nodig hê om daarvan ontslae te raak.

Wat dink jy van vakbonde?

Beheer oor die politieke arena gee leiers beheer oor die ekonomie en toegang tot die land se hulpbronne. Die vakbonde is soos prostitute. Eerder as om ‘n arbeidersparty te vorm, hang hulle aan die rokspante van die regerende party deur wie hulle goed gevestigde materiële belange het! Hulle is bang om weg te breek vir ingeval hulle agterkom hul mag is minder as wat hulle gedink het. Maar ons moet ook onthou dat baie vakbondlede aan ander politieke partye behoort en dat dit nie ‘n gegewe is dat hul lede almal ANC stem nie.

‘Ek verpes dit om belasting te betaal in ‘n land wat die publiek se geld blatant steel’

Jy het in gender-kwessies klasgegee. Is jy ‘n feminis of ‘n humanis?

Albei. Dit kan nie van mekaar geskei word nie. Ongelukkig word vroueregte dikwels nie as menseregte beskou nie, en dis hoekom party lande menseregte beklemtoon, maar vroue soos tweedeklasburgers behandel. My lewe lank voed ek mense al op oor die simbiose tussen die twee. Humanisme behoort ‘n gender-inhoud te hê wat daarop gemik is om die posisie van die vrou in die samelewing te bevorder ondanks kultuur, godsdiens of tradisie.

Hoekom gio jy in Suid-Afrika en sy mense?

By Impumelelo het ek uitsonderlike ontwikkelingsprojekte gesien wat wissel van gesondheidsorg, MIV, geletterdheid, behuising, herwinbare energie, werkskepping tot volwasse onderrig. Dit word deur ongelooflike mense ontwikkel en bestuur, ten spyte van die regering. Hulle doen wat die regering behoort te doen of al mee misluk het. Hierdie mense gee net nie moed op nie. Hulle kry ongelooflike oplossings vir hul probleme. Hierdie kampioene en uitvinders is swart, wit, Indiër en bruin, en hulle werk saam om ‘n beter samelewing te skep. Die ANC het beslis nie daarin geslaag om al die potensiaal in ons land te gebruik nie.

Ons gewone Suid-Afrikaners is maar bekommerd dat ons dalk die weg van Zimbabwe en ander sukkelende Afrika- state kan gaan…

Die erosie van ons ontwikkeling is baie meer subtiel as Zimbabwe s’n, want die ANC is nie so eksplisiet tirannies soos Mugabe nie. Maar op die menslike ontwikkelingsindeks en die sg. Global Competitiveness Survey is ons besig om te val. Die agteruitgang is meetbaar op die agteruitgang van ma’s se gesondheid, sterftes onder babas, lewensverwagting, opvoeding en wetenskap en wiskunde in SA. Agteruitgang is stadig omdat die burgerlike gemeenskap en die media, anders as in Zimbabwe, meer lawaai daaroor maak. Maar die samelewing en veral die privaat sektor het vir te lank hul oë gesluit vir die booshede van die post-bevryding SA, want hulle was doodgelukkig om hul Nelson Mandela en hul nuwe demokrasie en alliansies met nuwe kapitaal te hê. Die korrupsie, sentralisering van mag en swart ekonomiese verryking het eintlik al onder Mbeki begin. Dis die media, burgerlike samelewing, die opposisie en die regbank se taak om die regering te alle tye verantwoordbaar aan die publiek te hou. En die publiek is swart, wit, bruin en Indiër.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
X
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Other great articles from our Library ...

Good ideas
Here are six great do-it-yourself home and craft ideas to do yourself...
The man who would be king
Cyril Ramaphosa is a shoo-in as the next president of the ANC and of the country - but largely as the ANC's 'default candidate".

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.