About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Rooi Rose ‘n vrou vir alle tye

Teks: Martie Pansegrouw.  Artikel uit die April 2012 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.

Die storie van rooi rose is so verweefd met die storie van ons land, ons Afrikaanse vroue, dat daar eintlik geen onderskeid te make is nie. rooi rose is die verpersoonliking van die Afrikaanse vrou.

Die vrolike vyftigsDis April 1942. ‘n Skugter Afrikaanse nooientjie maak haar opwagting in die strate van die stad. Hoewel klein van statuur en ietwat skraal om die middellyf is sy die verpersoonliking van een man se droom. Die man was ‘n skrywer bekend as Mark Preston, en in sy eie liriese woorde was sy met die eerste oogopslag vir hom “… te mooi. Pragtige donkerrooi rose wat soos ‘n ruiker vir ‘n minnares druip, met die woorde pragtig in ‘n ligrooi lint geborduur, tussen die lowergroen blare”.

Dit sê heelwat oor die uithouvermoë van ‘n baie besondere man dat rooi rose ooit die lig gesien het.

Mark Preston was kort na sy 21ste verjaardag in ‘n ernstige motorongeluk. Sy beserings was van so ‘n aard dat hy drie jaar lank in die hospitaal was. Oor ‘n tydperk van 31 jaar sou hy 32 operasies ondergaan – maar hy sou altyd nog pyn beleef en nooit weer normaal kon loop nie. Ten spyte hiervan het hy sy droom om ‘n tydskrif vir vroue uit te gee verwesenlik.

So maak rooi rose dan haar eerste verskyning. Sy’s maar klein en dun en kan aanvanklik net haar verskyning maak as die Kontroleur van Papier dit goeddink, want dis oorlogtyd. Die eerste 4 000 eksemplare vlieg behoorlik van die rak af. Sy’s maar doodgewoon en sonder aanstellerigheid, want sy praat die taal van die Afrikaanse vrou van die platteland wat in die stad moet oorleef.

In haar M.A.-verhandeling (1985) oor “Die ontstaan en ontwikkeling van Sarie Marais as massatydskrif vir die Afrikaanse vrou” het Lizette Rabe dit so oor rooi rose: “Volgens alle getuienis was rooi rose meer gemik op sensasie en goedkoop liefdesverhale as om ‘n tradisie van goeie vroueblad-joernalistiek te wil skep en voort te sit.”

Die eerste rooi rose se slagspreuk was dan ook “Die drama van die lewe in sy naakte waarheid.” Rabe betreur dit dat rooi rose se “vryetydsleesstof” nie veel vir die “ontwikkelde” Afrikaanse vrou gedoen het nie.

Mark PrestonIn die eerste uitgawe praat Preston juis daarvan dat dit maar moeilik gegaan het om ‘n ou plekkie in ons eie Afrikaanse tuin vir rooi rose te verkry. Die boompie was reeds daar, gereed om tussen die sierlikes en veelkleuriges ‘n stukkie aarde te bekom – al sou dit dan eenkant en alleen in die hoek van ons uitgebreide letterkundige tuin wees.” (Uit My God en Ek, Mark Preston 1950.)

Toestemming vir drukoplae word verder verlaag tot slegs 2 000 eksemplare, en dis net nie aanvaarbaar vir mnr. Hendrikus Potgieter (Preston se werklike naam) nie. Die tweede uitgawe moet maar wagtend in ‘n laai bly lê totdat daar meer papier beskikbaar sou wees. Selfs na die oorlog sou die beskikbaarheid van papier nog ‘n netelige kwessie wees en streng beheer is nog tot vroeg in die vyftigerjare aan die orde van die dag.

Eers teen Augustus 1944 word druktoestemming weer verleen op grond daarvan dat rooi rose ‘n “bestaande tydskrif” is, en die nooi kan haar in die huise en die harte van Afrikaanse vroue begin tuismaak. Heel vroeg al, reeds in die eerste uitgawe, word gevra vir bydraes van die lesers: “Ons wil graag van u lewenservaringe te wete kom – enigiets wat in u lewe gebeur het wat ander lesers kan leer, lei of besiel.” En hierin lê volgens my die sleutel tot sukses vir ‘n vrouetydskrif opgesluit: Betrek jou leser, laat haar deel van jou wêreld voel – so weet jy ook presies vir wie jy skryf.

Die voorbladfoto waaroor Hendrikus Potgieter so in vervoering was, het ook daardie jaar as kunsfoto in sewe lande in fototentoonstellings die eerste prys verower.

Die vroeë uitgawes is propvol verhale oor liefde en romanse, iets waaraan die oorlogmoeë en brandarm Afrikaanse vrou ‘n behoefte gehad het. Daar word ook gereeld lesers se eie stories gedeel oor hul lewens wat beslis nie tekortgeskiet het aan drama en ontnugtering in die groot en wrede stad nie. Vir sommige lesers was dit eens te veel, ‘n lesersbrief uit 1951 verwys na die verhale as “soetsappige romantiese prullewerk”! Boonop word die lesers se sterre voorspel deur “Prof Tricardo”! Die lewens van silwerdoeksterre uit Hollywood word as glansryk en romanties voorgehou. Teen die vyftigerjare beloof rooi rose “die allerbeste joernalistiek van die romantiek van ons eie land.”

Maar teen hierdie tyd is rooi rose nie meer slegs Potgieter s’n nie. Hy moes ondertussen aandeelhouers bekom om die koste te help dra, en hy vra vir A. M. van Schoor en M. V. Jooste en deur hulle Afrikaanse Pers Beperk om in te koop in rooi rose. Reeds in die eerste balansstaat opgestel deur ‘n onafhanklike ouditeur in Februarie 1945 blyk dit dat genoemde here ‘n wins gemaak het uit die projek. Die wins selfs na aftrekking van hul aandele aan die besigheid was net meer as £309. Kort hierna maak Afrikaanse Pers (van wie Van Schoor en Jooste werknemers was) hom ‘n aanbod van £175, en so verkoop hy rooi rose aan APB. Tot aan die einde van sy lewe sou dit aan hom krap dat hy so min vir sy geliefde hartsdogter aangebied is.

En so stadig maar seker word die klein, fyn nuweling ‘n fris Afrikanermeisie wat al hoe meer haar vrou kan begin staan in ons land. Haar voorkoms bly maar valerig in die swart en wit van die dag, opgekikker met die mashoof in rooi om ten beste op die rak uit te staan. Sy kos nou 6 pennies en bevat ‘n redaksionele rubriek “Van rose en roosdorings” waarin oor die lewe gefilosofeer word en wat vir dekades lank die tydskrif sou kenmerk. Sy praat die taal van die vrou van haar dag, effens hoogdrawend. Briewe van lesers verskyn ook van heel vroeg af en lees soms vir vandag se oor heel komieklik in die formele aanspreektaal van daardie tyd.

Van die bekendste skoonhede van die tyd verskyn op haar voorblaaie: Katharine Hepburn, Ava Gardner, Mae West, Ingrid Bergman. Lesers gaan gereeld na rolprentteaters en daar verskyn advertensies en resensies van dramas wat reisende geselskappe deur die hele land neem. Skrywers soos Vincent van der Westhuizen en Kas van den Bergh se verhale is in hierdie tyd reeds gesog en baan die weg vir baie ander wat hul letterkundige tande sou sny op die bladsye van rooi rose. Gelukkig is daar nou ook heelwat papier en uitgawes is propvol advertensies wat die dametjie se middel sommer tot ver oor honderd bladsye per maand laat uitswel. Elke uitgawe bevat iets oor dekor, tuin en huis, en ‘n klompie “reseppe” en brei- of hekelpatrone.

rooi rose woon steeds in Johannesburg. Gedurende die eerste dekades was dit nooit die gebruik om aan te dui wie die redakteur of selfs die redaksielede was nie. Formidabele redakteurs soos Martie Snyman hou die leisels in hierdie tyd. Sy sou ook bekendheid verwerf as die legendariese “Anna Malan” en raad uitdeel aan dese en gene met probleme. Haar opvolger is die welbekende Bennie Fritz en rooi rose woon nou in Milpark, Johannesburg. Vanaf die laat-vyftigs word rooi rose baie meer dikwels oor die lengte en breedte van ons land gewaar, om die waarheid te sê, al om die twee weke. Daardie ritme sou sy hou tot aan die einde van die eerste jaar van die nuwe millennium.

Vanaf die vroeë sewentigs verhuis sy as lid van die toenmalige reuse Republikeinse Pers en die bekende Hyman-familie sak en pak Durban-toe. Die eerste redakteur van hierdie era was Maureen Hyman wat die tydskrif oorneem onder die wakende oog van haar skoonmoeder, Tant Baby, ‘n legende in haar tyd. Sy word opgevolg deur René Barnard (1985 tot 1989), Irma Louw (1989 – 1991), Joan Kruger 1991 – 2000 en Liezl de Swardt 2000 tot 2004. Elkeen van hierdie redakteurs sou vir rooi rose in ‘n eie kenmerkende fleurige uitrusting tooi waarmee sy van die uitgestrektheid van die plase, die gemeensaamheid van die platteland tot die glansryke strate van die stad sou kon bewandel en deel van elkeen se leefwêreld word.

rooi rose hou vir sewe dekades al ‘n spieël voor die Afrikaanse vrou in al haar verskeidenheid. In Maureen Hyman se tyd was die vrou op wie die redaksionele inhoud hoofsaaklik gerig was blykbaar tussen 16 en 35 (volgens ‘n artikel in The Clarion van 1983). Verkope het bly klim, en die fris meisie het haar in ‘n gebalanseerde volwasse vrou ontpop wat die lewe in al sy fasette wou verken.

Vanaf 1986 verhuis die dametjie weer na Doornfontein, ‘n minder mooi adres, maar vanaf 1988 woon sy in Orange Grove.

René Barnard, wat haar eers as kosredakteur onderskei het, het gewis ‘n goeie idee gehad van wie die lesers van daardie tyd was. Sy was ook die moeder van die uiters gewilde “Toptienerkok” wat skoliere van 1984 tot 1989 die geleentheid gegee het om die wêreld van onthaal en kosvoorbereiding aan te durf met die hulp van Ma en Ouma en die huishoudkunde-onderwyseres. Onder sterk mededinging was daar fantastiese pryse te wen. Irma Louw slaan ‘n glansrigting in, en betrek onder andere trend-ghoeroe Dion Chang as moderedakteur. Nou dra rooi rose beslis ‘n glansuitrusting!

Bo links: Charlize Theron se eerste voorblad. Bo regs: Die eerste maandelike glansuitgawe van rooi rose. Onder links: rooi rose word sestig. Onder regs: Die nuwe, groter voorkoms van November 2010.Die voorbladnooiens is meestal modelle, en vele se internasionale loopbane word grootliks deur die tydskrifvoorblaaie van daardie tyd weergegee. Dis ook tyd vir die Model van die Jaar-kompetisie. Groot pryse is op die spel en wedywering is straf. Dis juis aan Model van die Jaar 1991 te danke dat Charlize Theron haar eerste deurbraak maak. Sy is maar 15 toe sy inskryf, en word ‘n paar dae na die glansgeleentheid waarop sy as wenner aangekondig word eers 16. Maar sy toon reeds al die kenmerke van die formidabele vrou wat sy nog sou word.

rooi rose se laaste verhuising bring haar tuis in Caxton House in Jan Smutslaan, Craighall. Onder Joan Kruger se bekwame leiding groei rooi rose en word die vrou wat elke Afrikaanse vrou wou wees. Die blaaie is ‘n gesellige kuierplek en al meer tuisgekweekte sterre en glanspersoonlikhede maak op die voorblad en tussen die blaaie hul verskyning. Die taal word verkwiklik en pikant opgedis, en die artikels oor ‘n wye spektrum hou die aandag van die leser ‘n volle twee weke lank gevange. Joan ken haar leser deur en deur, maar sy hou ook haar vinger op die pols van die snelle veranderinge en tendense wêreldwyd.

Stilletjies word navorsing gedoen en planne beraam, en ook ‘n nuwe redakteur aangestel: ‘n bloedjong Liezl de Swardt. En in November 2000 verras ‘n splinternuwe vrou van haar tyd, die maandelikse glans-rooi rose, vriend en vyand op die rak. Kunsghoeroe Jaco Jansen van Rensburg is die rigtinggewer van haar splinternuwe voorkoms, maar Liezl se hand is stewig aan die stuur van die nuwe vrou wat haar opwagting maak. Die res is geskiedenis. rooi rose is nogmaals ‘n vrou wat die toon aangee: gemoedelik en geselserig, bekend en bemind en tog intelligent en ‘n wêreldburger, en bo alles, beeldskoon. Sy praat die taal van die vrou van die nuwe eeu, sy skep ‘n gemeenskap van vroue wat eenders dink, tog indivualisties leef, ‘n vrou vir die tyd waarin sy leef. Liezl doen weg met modelle op die voorblad, daar is immers nou net twaalf voorblaaie, en hulle moet bekendes wees, verteenwoordigend van die Afrikaanse vrou van haar tyd. Die aanbod is ‘n klassieke vrouetydskrif, met al die pilare wat spreek van ons vroue se bedrywige, propvol moderne lewens. En dit werk! Vroue in hulle duisende koop die nuwe rooi rose.

Nie alles is so splinternuut nie. Johann Symington se rubriek spreek steeds tot elke vrou, soos in Joan se tyd al. Verhale bly ook deel van die aanbod, want waar sou Afrikaanse skrywers andersins hul vak kon (leer) beoefen? “Toptienerkok”, wat in 1992 weer verwelkom is, is steeds uiters sukses- vol, en sou so bly tot 2006 toe dit onvermydelik geword het dat dit moes uittree. Artikels bly vermaak of stem tot nadenke. rooi rose is ‘n splinternuwe vrou, tekenend van haar tyd en heeltemal verhewe bo enige ouderdomskwale, al vier sy in hierdie tyd reeds haar sestigste verjaardag, hierdie keer as topverkoper in die vrouemark.

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. rooi rose lei en die mark volg, en kort voor lank is daar hande vol glansmaand-blaaie waaruit Suid-Afrikaanse vrou kan kus en keur. Die pas word weer stywer gemaak, en rooi rose moet uithaal om by te bly. En die vinnige pas loop op ‘n wonderlike avontuur vir rooi rose uit. Sy ondergaan in hierdie tyd gereeld ‘n voorkomsverandering om nuut en vars te bly, maar inherent bly sy die die gemoedelike, ingeligte en gebalanseerde geselskap wat sy nou al so lank vir die Afrikaanse vrou is.

Maar hierdie klein spa-besoekies blyk net nie genoeg te wees vir ‘n vrou in die fleur van haar lewe nie. In 2010, kort voor haar tiende verjaardag as glans-maandblad, verskyn sy in Augustus op die rak as ‘n verruklike nuwe vrou, groter en glansryker as ooit, en waarlik stylvol, sinvol en propvol. Sy is ‘n tydskrif wat gewis die pas kan volhou, nee, eintlik nou al sewe dekades lank die pas aangee in ‘n wêreld waarin daardie pas net bly versnel, waarin vroue verwoed moet probeer bybly, en sy doen dit met panache, selfs élan. Ja, sy is ‘n vrou van haar dag, formidabel en geestelik sterk, maar ook goeie geselskap en vriendelik. Sy vermaak steeds vroue van elke geslag, stand en agtergrond. Sy bied jou die volle spektrum van vrouwees, sy’s daar vir elkeen, jou genoot en vennoot in die veeleisende lewe van vandag, jy’s deel van haar, jy’t met haar grootgeword: rooi rose.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.