ShowMe South Africa

Sexy slim en skitterend

Deur: Suzanne Venter. Fotos: Leana Clunies-Ross. Artikel uit die November 2012 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.

Dae lank het die swemmers Chad le Clos en Cameron van der Burgh se olimpiese prestasies (en lywe) ons vasgenael gehou en van pure plesier en trots laat gil. Die twee sterre het met Suzanne Venter gepraat oor roem, vroue en hul sekssimboolstatus. Chad se joviale pa Bert, het ook ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi.
Ons goue man Chad le Clos (20)

Ons goue man Chad Le ClosBaie mense vergeet jy is maar net twintig, daar is soveel dinge wat ‘n ou van jou ouderdom nog moet ervaar, maar het alles nou verander?

Vir seker, baie mense beskou my nou as ‘n rolmodel. Ek kan nie net die gewone studentedinge doen nie. Maar aan die ander kant: Ek het hierdie lewe gekies, Ek wou van kleins af ‘n Olimpiese kampioen wees en ek het geweet saam met die keuse kom baie verantwoordelikhede. Ja, dit is moeilik, maar jy leer om aan te pas en dis eintlik baie cool.

Jy het eensklaps beroemd geword nadat jy die legendariese Michael Phelps geklop het en goud en Silwer by die Olimpiese Spele gewen het. Maar jy het ook onmiddellik ‘n sekssimbool geword. Hoe hanteer jy dit?

Ek moet bieg, ek is mal oor al die vroulike aandag, dis waarskynlik die beste deel! (hy lag). Maar alles het oornag gebeur en ek moes baie vinnig grootword, en dis nogal swaar. Ek het nie ‘n benul gehad van wat op my wag nie. Ek het my lewenslange droom bereik, en dis al klaar oorweldigend. Ek het geweet dit gaan groot wees, maar ek het nie besef hoe groot nie. Ek kry steeds boodskappe van Amerikaners wat sê hulle kan nie glo ek het hul held gewen nie.

Wat dink jy as jy vir jouself in die spieël kyk?

Ek is tevrede met wat ek sien, maar ek sien myself maar net as ‘n doodgewone ou, niks besonders nie.

Beskryf ‘n mooi vrou

Kyk, persoonlikheid is eerder vir my belangrik. Dit help nie iemand is beeldskoon maar het nie ‘n persoonlikheid nie. Ek wil iemand hê by wie ek net myself kan wees; iemand by wie ek gemaklik voel, en omgekeerd.

Wat maak ‘n vrou onweerstaanbaar?

Ek het ‘n sagte plekkie vir sangeresse. Ek weet nie hoekom nie, maar ek word heeltemal gaga.

As jy kon kies, saam met watter sangeres sou jy ‘n aandjie wou deurbring?

Oe, toe ek jonger was vir seker Britney Spears, maar nou sal dit Selena Gomez wees. Ek hou van daardie soort voorkoms. (Mmm, ons wonder wat sal haar kêrel, Justin Bieber, met sy maer, wit lyf daarvan sê.)

Hou jy van ‘n vrou met selfvertroue?

Ja en nee. Ek hou van ‘n vrou met selfvertroue, maar nie iemand wat vreeslik flankeer nie. As sy my meisie is, moet sy myne wees, nie almal s’n nie.

Jy oefen hard, lei ‘n gesonde lewe en lyk besonder goed. Het jy ‘n spesifieke mode- of grooming gewoontes?

Ek hou daarvan om netjies aan te trek en hou van ‘n pak, jeans en hemde met ‘n goeie snit. Dis vir my belangrik dat klere lekker moet sit. Verder gebruik ek sommer lyfwasseep vir my gesig, gewone room en skeerroom. Ek hou ook nogal van Polo Cologne en Angel for Men.

Ek wou van kleins af ‘n Olimpiese kampioen wees en ek het geweet saam met die keuse kom baie verantwoordelikhede. Ja, dit is moeilik, maar jy leer om aan te pas en dis eintlik baie cool.

Is jy ‘n boobs, boude en bene ou?

Ek is ‘n oë, boude en bene ou.

As ‘n vrou jou vra of sy vet lyk, wat sal jy antwoord?

Ek sal reguit wees. (Bert lag hom amper van sy stoel af.) As dit iemand na aan my is en hulle lyk nie goed nie, dink ek jy moet liewer eerlik wees. (Bert kruip nou omtrent op die vloer van die lag.)

Kan jy sien as iemand ‘n boob job gehad het?

Een van my vriendinne het ‘n paar jaar gelede een gehad en sy het my vertel wat die verskille is, maar voor dit het ek glad nie geweet nie. Ek het nie ‘n pyn daarmee nie.

Wanneer is ‘n vrou vir jou sexy?

Daar is verskillende maniere van sexy wees, dit het meer met ‘n houding te doen as enigiets anders. Charlize Theron en Megan Fox is sexy, Cameron Diaz is cute.

Hoe voel jy oor grimering?

Ek dink dit hang van elke individu af en wat by haar werk. Baie vroue lyk eintlik heel goed sonder grimering. Ek dink ons is bevoorreg om van die mooiste vroue ter wêreld te hê; vroue wat natuurlik mooi is.

Hoe sal jy ‘n oulike meisie benader, en wat sal die reëls vir haar wees?

Ek sal na haar toe loop en sê “You remind me of a broom because you swept me off my my feet” (en toe bars hy uit van die lag). Ek het ‘n ruk gelede deelgeneem aan ‘n foonpoets met Wackhead (Darren Simpson) van 94.7 Highveld Stereo, en dit was een van die goed wat ek vir die meisie oor die foon moes sê. Ek sal maar na die meisie toe loop en ‘n geselsie aanknoop. Dis nie nou vir my belangrik om ‘n meisie te kry nie. Wanneer ek aan ‘n groot kompetisie deelneem, hou ek nie regtig daarvan om met mense te praat nie. Ek het al ‘n ernstige verhouding gehad en dit het nie gewerk nie, en met goed soos facebook waar jy heeltyd kan sien wat ander mense doen, is dit net nog moeiliker. Ek kan nie toer en oefen en sien hoe my meisie kuier nie, dit sal my mal maak.

Verkies jy dat meisies jou jag, of wil jy die jagwerk doen?

Ek dink almal hou daarvan om gejag te word, dis altyd lekker om te weet iemand stel in jou belang, maar ek hou ook daarvan om die jagwerk te doen. Ek dink so ‘n bietjie van albei is ‘n goeie balans. Wat dink jy, Pa?

Bert: (Hy lag) Ag, laat ons nou eerlik wees, Chad. Jy hou daarvan om gejag te word en meisies jag jou heeltyd. Jy is mal oor vroue.

Chad: Dinge is nou anders, en ek is glad nie gewoond daaraan nie, so ek geniet maar die oomblik. Maar ‘n vrou moet jou nie agtervolg en sulke goed nie.

Wat het jou ma jou van vroue geleer?

My ma, Geraldine, is ‘n baie spesiale vrou, en sy is nogal anders. Sy het my nog altyd gewaarsku dat vroue gevaarlik is.

Pa Bert le Clos oor vroue
  • Pa Bert le Clos oor vroueEk is versot op vroue, alle vroue, almal het iets wat wonderlik is (hy raak skoon bewoë toe hy dit sê). Ek is regtig mal oor vroue, soos kos, en is gek na albei. (Chad skud net sy kop.)
  • Die heel belangrikste is om ‘n meisie of vrou te kry by wie jy jouself kan wees.
  • Moenie dink iemand gaan verander nie. As jy ‘n man in ‘n pub ontmoet wat rugby kyk, en hom weer en weer daar sien, moenie verwag hy gaan skielik ophou om in ‘n pub rugby te kyk nie. Dis wie hy is.
  • Vroue kan gevaarlik wees, hulle kan jou heeltemal vernietig. Kyk maar, as mense skei lyk die vrou altyd goed, sy glimlag, verloor gewig en die man lyk treurig. En as jy hom vra, “wat is fout, broer”, sê hy “my vrou het my gelos.”
  • Elke vrou is anders en jy moet elke vrou behandel soos wat sy behandel wil word. Dis hoekom vroue so ongelooflik mooi is, en interessant, hulle is almal anders en almal het iets wat jou vasvang, party meer as ander, en dan word dit gevaarlik.
  • Ek dink grimering is noodsaaklik. As ‘n vrou mooi oë het, gaan haar oë mooier lyk met die regte grimering, soos die swart goed wat jy om die oë aansit. Ek het nie ‘n probleem met grimering nie, maar is nie mal daaroor as mans grimeer nie. Kyk na die Sanger Adam Lambert – hy is ‘n mooi man, maar nou beplak hy hom met ‘n drie duim dikke laag grimering, dit maak hom lelik, net so is dit met vroue. Moenie die goed opplak nie, gebruik dit om jou goeie dele te beklemtoon.

Chad oor Prinses Charlene van Monaco. Ek ken haar nou al twaalf jaar, ons het dieselfde afrigter, Graham Hill, en ek het altyd saam met haar geoefen. Sy is fantasties en het ons onder haar vlerk geneem. Voordat ons Londen toe is, het ons vir ‘n paar weke in Monaco gaan bly en voorberei, dit was fantasties. Sy is baie sweet en dierbaar, nog net dieselfde Charlene wat ek van altyd af ken. En sy is nogal snaaks, dis altyd pret om by haar te wees. Dit klink ook of sy dalk meer betrokke wil raak by swem in Suid-Afrika.

‘n Man wat sy man kan staan Cameron van der Burgh (24)

'n Man wat sy man kan staan Cameron van der BurghWat dink jy as jy vir jouself in die spieël kyk?

Ja, ek dink dit gaan nogal interessant wees om oor ‘n paar jaar in die spieël te kyk. Ek het ‘n baie gesonde eetlus, maar oefen nou ses uur per dag: vier uur in die swembad, ‘n uur met gewigte in die gim en dan doen ek vir nog ‘n uur joga of pilates. Wanneer ek nie meer professioneel swem nie, gaan ek nie meer so baie oefen nie en dan gaan dinge seker verander. Die meeste sportmanne sit gewig aan as hulle uittree omdat hulle steeds dieselfde hoeveelheid eet, maar baie minder oefen.

Jy kry baie aandag van vroue, maar jy het ‘n meisie?

Ja, ek verkies dit so. Jana ondersteun my baie, ek wil liewer iemand te hê waarop ek kan staatmaak. Ons ken mekaar al jare, en sy is nie net lief vir my omdat ek ‘n swemmer is nie. Môre is daar ‘n nuwe, sexy ou op die toneel en dan vergeet almal wat nou so te kere gaan van my. Ek en Jana is lief vir mekaar oor die mense wat ons is, nie net die looks nie. En sy was daar vir my voor ek bekend geword het en sal ook daar wees wanneer alles oorgewaai het.

‘Ek dink baie jongmense het nie meer respek vir mekaar nie, en nie respek vir vroue en die rol wat elkeen moet vervul nie, hulle raak verward, en dis hartseer.’

Beskryf ‘n sexy vrou

Iemand wat weet wie sy is en selfvertroue het – selfvertroue omdat sy weet wie sy is, wat sy wil hê, en waaraan sy glo; nie selfvertroue wat gevorm word deur wat almal om haar van haar dink of sê nie.

Wat maak ‘n vrou onweerstaanbaar?

Ek dink ‘n vrou wat lekker kan lag, haarself kan geniet en gemaklik in haar vel is, is ongelooflik sexy.

Hoekom is Jana vir jou onweerstaanbaar?

Haar skoonheid, sy is ongelooflik mooi, en fisieke aantrekkingskrag is tog belangrik, veral aan die begin. Maar wat my gefassineerd hou, is dat sy nie ‘n “ja”-meisie is wat net sê wat ek wil hoor nie. Sy sê dikwels vir my goed wat ek nie wil hoor nie, en dit daag my uit en moedig my aan om ‘n beter man te word, ‘n beter swemmer, en om as mens te groei.

Jy oefen hard, leef gesonden lyk baie goed. Het jy  spesifieke grooming-gewoontes?

Ek glo daaraan om ‘n bietjie te groom. Ek is dikwels in die openbare oog en wil darem goed lyk. Ek versorg my vel, ook omdat ek steeds goed wil lyk wanneer ek ouer word. Ons is elke dag in die son en swembad en ek gebruik ‘n goeie sonblok en in my badkamersakkie sal jy ook Clarins for Men en Head and Shoulders kry.

Hoe lyk ‘n goed versorgde vrou vir jou?

‘n Vrou wat respek het vir haarself, sal haarself ook outomaties goed versorg, iemand wat daarna streef om die beste te wees wat sy kan wees.

Is jy ‘n boobs, boude en bene ou?

Nee, ek is eintlik meer ‘n gesig ou. Ek meen, wanneer jy met iemand trou, gaan julle ouer word en die boobs en boude gaan papper word. Maar ‘n mooi gesig sal altyd mooi bly, selfs as jy ouer word. Op die ou end is dit die gesig wat jy heeltyd sien en waarmee jy praat, jy praat nie met ‘n paar boobs nie.

Wat het jou ma jou van vroue geleer?

Cameron Van Den BurghOm vroue te respekteer. Vir my gaan respek vir vroue ook daaroor om nie honderde one night stands te hê nie; om nie advantage te vat en saam met haar te slaap nie. As jy wil seks hê, moet dit nie net ‘n fisieke ding wees nie, daar moet ook ‘n emosionele konneksie wees. Vir vroue is sulke goed baie emosioneel en dit moet gerespekteer word en nie misbruik word nie.

Jy is deel van ‘n nuwe generasie mans en vroue. Dink jy daar heers soms verwarring oor wie watter rol moet vervul?

Ja, ek is deel van ‘n nuwe generasie, maar is grootgemaak met ‘n sterk sin vir waardes, soos respek vir vroue. Ek dink baie jongmense het nie meer respek vir mekaar nie, en nie respek vir vroue en die rol wat elkeen moet vervul nie, hulle raak verward, en dis hartseer.

Jana is meer kunstig, en nie so sportief soos jy nie, is dit vir jou ‘n probleem?

Nee, glad nie, ek verkies dit so. As ek met ‘n swemmer uitgegaan het, sou ons saam geswem het, al ons vriende sou swemmers gewees het, en by die huis sou ons hoofsaaklik oor swem gepraat het. Ons sou 24/7 “geswem” het en ek sou mal geword het. Jana stel my bloot aan ander interessante dinge.

Gebruik jou vriende jou soms as ‘n wingman om meisies op te chat?

Ja, heeltyd. Ek moet die ys breek en met die meisies begin gesels, dan my vriende aan hulle voorstel en eers dan sal ek sê, “O, en hier is my meisie, Jana.”

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.