SA for Hope benodig geld om vragte voer te skuif asook blikkieskos, troeteldierkos en voer vir diere in enige vorm.
As dit nie vir boere was nie, sou Jan Publiek in die stad nie kos van die rak af kon koop nie, en wat sit jy dan voor vir jou gesin?
Dis vir die boere wat so ‘n onontbeerlike rol in ons samelewing speel dat Pieter du Plessis, ‘n direkteur van die hulporganisasie SA for Hope, weer ‘n pleidooi lewer.
Groot dele van die land het reën gekry, maar daar is steeds gebiede wat nog nie ‘n druppel reën gesien het nie en waar die droogte voortduur.
“Soms is dit maklik om in ‘n supermark of restaurant in te stap en ten duurste te betaal vir produkte of etes. Ons vergeet egter die prys wat dit kos om daardie produkte in die winkels en restaurante te kry. Insetkostes, arbeid, duurder brandstofpryse, hoër elektrisiteitstariewe, droogte, verspoelings, hael en verskeie ander faktore het ‘n impak op die boer se uitgawes,” sê Du Plessis.
“Daar is baie boere wat nog elke dag op hul knieë is vir ‘n uitweg. Hulle is gebreek en afhanklik van organisasies soos SA for Hope om hoop te bring. Hulle veg om oorlewing, nie net teen die natuur nie, maar ook teen finansies en dan ook op ‘n persoonlike vlak en veral in hul huwelike en verhoudings. Dit is een van die hardste oorloë om te baklei – om alles bymekaar te hou as alles uitmekaar val.”
Die enigste manier waarop SA for Hope ‘n verskil kan maak, is as mense hulle kontak, bydra, en saam gaan op uitreike.
Daag mekaar uit om skenkings te gee
Du Plessis sê boere is dankbaar vir die geringste skenkings en hy doen ‘n beroep op die publiek en besighede om nou in die feesgety wanneer baie jaareindfunksies geniet word, aan die boere en hul werkers te dink.
Mense kan geldinsamelings hou, al is dit hoe klein. “Daag jou kollegas, vriende en familie uit, al is dit net R100 wat elkeen skenk, kan ons ‘n lewensverskil maak.”
SA for Hope is ‘n geregistreerde 18A-maatskappy en kan die nodige belastingsertifikaat uitreik sodat die skenkings weer teruggeëis kan word van die Inkomstediens. SA for Hope benodig geld om vragte voer te skuif asook blikkieskos, troeteldierkos en voer vir diere in enige vorm.
Bron van Inligting: Knysnaplettherald