Die artikel is uit die Maart 2011 uitgawe van die Rooi Rose
Is kunsmatige versoeters gesonder as suiker? Veroorsaak suiker hiperaktiwiteit by kinders? Kan jy kanker kry van kunsmatige versoeters?
Hier is die ware prentjie en ons wys jou hoe jy die land-myne kan omseil sonder dat die lewe ‘n bitter pil hoef te wees. Deur Anet Schoeman
Suiker
Is suiker die sondaar wat ‘n geslag vetsugtiges help skep het? Suiker het ‘n Gl (glikemiese indeks) van 65. Dis gemiddeld, en glad nie so hoog as wat baie mense vermoed nie. As dit binne perke as deel van ‘n gebalanseerde word, behoort dit geen probleme te skep nie. Ongelukkig is dit maklik om verfynde koolhidrate soos suiker in groot hoeveelhede in te neem.
Jeske Wellman, ‘n geregistreerde dieëtkundige van Bryanston se die meeste vetsugtige mense neem gewoonlik heeltemal te veel verfynde koolhidrate soos suiker in. Gemorskos soos kommersiele versnaperinge, lekkers en gaskoeldranke is met suiker gelaai. Suiker is ook dikwels weggesteek in kos – jy kan nie sien as een koeldrank meer suiker as ‘n ander bevat nie. Dis ook nie iets wat jou versadig laat voel nie.
Tog kan suiker ‘n belangrike rol in ‘n gebalanseerde dieët speel. ‘n Studie aan die Queen Margaret-universiteit in Edinburg het bevind dat ‘n dieët wat laag in vet en hoog in koolhidrate is en wat met oefeninge gepaardgaan die beste gesondheidsvoordele vir oorgewig mense inhou. Hoewel suiker gewoonlik uit gewigsverlieseetplanne gesny word, het dit uit die studie geblyk dat die smaak van suiker mense gehelp het om by hul gesonde eetplan te hou. Matige hoeveelhede suiker kan dus tot jou voordeel wees.
Kunsmatige versoeters
- 1 Canderel-pilletjie (1,2 kJ) = 1 teelepel suiker (70 kJ)
Saccharine, aspartame, cydamtes, acesulfame Ken sucralosis – ons hou die Engelse benamings om identifikasie op etikette maklik te maak) word as versoeter in die plek van suiker gebruik omdat dit byna geen energiewaarde het nie. Omdat die bestanddeel baie soeter as rietsuiker is, word kleiner hoeveelhede vereis vir dieselfde graad van soetheid. Suiker verskaf die “mondgevoel” van kos en as die suiker onttrek word en deur kunsmatige versoeters vervang word, gebruik vervaardigers baie keer vette om hierdie “mondgevoel” terug te wen. Dus: lees jou etikette om seker te maak dat die produk wat nou “suikervry” is, nie skielik dubbel die hoeveelheid vet bevat nie.
- Kan kunsmatige versoeters kanker veroorsaak?
Die alarmklokke het gelui toe studies in die vroee jare sewentig getoon het dat sakkarien in kombinasie met siklamaat blaaskanker by rotte kan veroorsaak. Maar latere studies kon dit nie by mense bewys nie – dit het net in laboratoriumrotte voorgekom en nie in die menslike liggaam nie. Die Amerikaanse Food and Drug Administration (FDA) het sakkarien, aspartaam, asesulfaam kalium, sukkra-lose, neotame en siklamaat in 2000 as veilig vir menslike gebruik verklaar.
- 1 Stevia-pilletjie (1,2 kJ) = een teelepel suiker (70 kJ)
Stevia is deel van die gousblomfamilie en kom natuurlik voor in Suid- en Sentraal-Amerika. Die kruie-ekstrak is driehonderd keer soeter as suiker en Japan gebruik dit al die afgelope dertig jaar as ‘n algemene versoeter in koeldrank (ook Coca Cola) sonder enige aangetekende gevalle van negatiewe reaksies. Hoewel stevia aanvanklik in lande soos Amerika verbied is, het die Amerikaanse FDA stevia-ekstrak, rebaudioside A, in Desember 2008 as ‘n voedselbyvoeging goedgekeur. Die Europese European Food Safety Authority (EFSA) het die gebruik van stevia-ekstrak in April 2010 goedgekeur met ‘n daaglikse inname wat nie meer as 4 mg/ kg liggaamsgewig oorskry nie.
As jy ses koppies tee of koffie per dag drink met twee teelepels suiker in elk, drink jy meer as 20 kg suiker in ‘n jaar!
Suikeralkohole
(Lactitol, xylitol, isomalt, malitol. Sorbitol, mannitol.) Die suikermolekules is almal aan ‘n alkoholmolekule verbind. Dit maak die suiker moeiliker om te verteer sodat die suiker stadiger in die bloedstroom vrygestel word (dus verlaag dit die Gl). ‘n Persentasie van hierdie suikers word glad nie verteer nie en het dus minder kJ as gewone suiker. Maar dit kan die maagwand irriteer en maagkrampe, diarree en winderigheid veroorsaak. Mense wat 100g dieëtsjokolade eet, kla gereeld van hierdie simptome. Hou liefs jou inname dop.
Fruktose
Fruktose (vrugtesuiker) is ‘n komponent van gewone suiker en word anders as suiker ge-metaboliseer en het ‘n kleiner uitwerking op bloedglukose as gewone suiker. Dus is die Gl laer. Dit is ook 1,7 keer soeter as suiker, maar as dit verhit word, is dit net so soet soos suiker. Te veel fruktose het ook sy nadele: ongemak van die maagdermkanaal en moontlike beskadiging van die oë weens volgehoue of gereelde hoë bloedvlakke. Moenie meer as 10 g (twee gelyke teelepels) fruktose op ‘n slag inneem nie.
Hoë fruktose mieliestroop (high fructose corn syrup) is ‘n gemanipuleerde suiker wat van mielies afkomstig is en het nie meer ‘n lae Gl nie. Dit kom in baie kommersiele koeldranke en kos voor omdat dit goedkoop is en ‘n hoe relatiewe soetheid het. Dit word in baie gesondheidkringe voorgehou as die oorsaak vir gesondheidsprobleme soos hartvatsiektes en vetsug. Maar studies kon niks meer bewys as dat dit ‘n maklike bron van suiker is wat verbruikers in groot hoeveelhede inneem nie. Dus, dis die hoeveelheid wat ingeneem word en nie die samestelling nie wat die probleem is nie.
- Porsiegrootte is die sleutel
Dieëtkundige Jeske Wellman se die geheim is porsiegroottes. “Dis maklik om vir ‘n kleintjie ‘n houertjie met jellielekkertjies te gee om horn agter in die motor stil te hou. Maar ‘n gemiddelde kommersiële porsie is gewoonlik 126 g en die energie-ekwivalent van ses snye brood. Jy sal nooit vir ‘n kleuter soveel brood gee nie. Koop eerder stringe met individuele pakkies – hoe kleiner hoe beter – en gee dit vir kinders. As die porsie kleiner is, eet mense stadiger en proe meer intens omdat alles nie oorhaastig ingesluk word nie.”
Suikervry
Lig loop vir ‘n produk wat aankondig dat dit “suikervry” is. Gewone suiker is afkomstig van suikerriet (sukrose wat bestaan uit fruktose en glukose). Vrugte bevat ‘n kombinasie van fruktose en glukose en die suiker in melk word laktose genoem. ‘n Produk wat “suikervry” is, kan dalk net vry van rietsuiker wees, maar kan steeds enige of al die ander soorte suikers bevat. Nuwe regulasies kan dit binnekort onwettig maak om ‘n produk as “suikervry” te klassifiseer as dit enige van die ander vorms van suiker bevat.
Suiker en Diabetes
Suiker veroorsaak nie diabetes nie maar ‘n oormaat suiker kan. Tipe 2-diabetes word veroorsaak deur die liggaam se onvermoë om glukose in die bloed op te neem. Dit kan wees weens ‘n tekort aan insulien, of ‘n situasie waar jou insulien nie meer sensitief vir die glukose in jou bloed is nie en dit nie kan omskakel nie. Te veel suiker speel beslis ‘n rol in die ontwikkeling van tipe-2 diabetes by onaktiewe, oorgewig mense. Maar so ook enige verfynde koolhidrate wat uiteindelik in glukose omgesit word. Tipe-1diabetes is ‘n outo-immuunsiekte en is ‘n reaksie in die liggaam wat jy nie kan keer nie en het niks met jou suikerinname te doen nie.
Suiker en hiperaktiwiteit
Suiker veroorsaak nie hiperaktiwiteit nie, maar dit kan die simptome vererger. Glukose is die brein se brandstof en ‘n oormaat glukose in die bloed gaan jou konsentrasie affekteer en jou nie lekker laat voel nie. Kinders weet nie altyd hoe om hul ongemak te verwoord nie, en raak dan buierig, huilerig en wild.
Ek is lus vir iets soets
Vra jouself af hoekom, se Jeske. Is dit omdat jy ‘n maaltyd oorgeslaan het en honger is? Het jy ‘n drang na soetgoed omdat jy gewoond is om elke middag vieruur ‘n sjokolade saam met jou koffie te eet? Is dit dalk aan jou emosies gekoppel? Eet jy omdat jy ontsteld, ongelukkig of gefrustreerd is? As jy verstaan wat die dryfveer vir jou behoefte is, is dit makliker om ‘n oplossing te kry. Dalk moet jy ‘n protei’en by jou middagmaal sit sodat jy nie teen die middel van die middag flou en honger voel nie. Of miskien is ‘n vrug genoeg om jou soetlus te stil. As jy steeds lus is vir soetgoed, maak vooraf vir jou kleiner porsies, soos om ‘n pak mini-sjokolades te koop en net een werk toe te neem.
Dink voor jy drink
Lig loop vir suiker in jou tee en koffie. As jy ses koppies tee of koffie per dag drink met twee teelepels suiker in elk, drink jy meer as 20 kg suiker in ‘n jaar, of daagliks 972 kJ wat gelykstaande is aan omtrent drie snye brood. As jy baie aktief is, behoort dit nie ‘n probleem te wees nie, maar ongelukkig is die meeste mense maar onaktief en pak hierdie ekstra kJ gewoonlik om jou middellyf. Die beste idee sou wees om minder suiker of verkieslik geen suiker in jou koffie of tee te gooi nie. As jy nie kan nie, is kunsmatige versoeters ‘n moontlikheid.