About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

The Parlotones – van Roodepoort tot Wêreldroem

As Roodepoortse tieners het die Parlotones eens geraas gemaak in ‘n garage, maar vandag maak hulle groot musiek!

Hulle is wêreldwyd suksesvol met ‘n paar platinum albums en ‘n skare bewonderaars, maar Suid-Afrika sal altyd die plek van huis en hart wees.

Dit het alles in net meer as ‘n dekade met vier “gewone” Wes-Randse boytjies gebeur: Die wêreldroem, topverkopers, platinumalbums en musiekvideo’s, die internasionale groupies, reuse rock konserte en die jillende skares wat vandag deel is van die Suid-Afrikaanse rock-fenomeen, The Parlotones. Ons eie supergroep.

Die spreekwoordelike oornagsukses was hulle nie: “Ons glo dat sukses 80% houding en 20% talent verg. Dit help nie jy dink die wêreld skuld jou iets omdat jy talentvol is nie, jy moet eerder vasbyt en hard werk,” se Kahn Morbee (31), die hoofsanger en liriek-skrywer van die groep.

Hy en die tromspeler, Neil Pauw (32), het mekaar op hoërskool ontmoet en in sy ouers se garage in Roodepoort begin “musiek maak”. Kahn en Neil lag: “Ons het natuurlik gedink dat ons goed was, maar het aaklig geklink. Nou wil die bure (wat destyds so op hul tande gekners het) hê ons moet terugkom en ‘n vertoning in dieselfde straat hou!” se Neil.

Paul Hodgson (33) wat kitaar speel, het hom by hul garage-sessies aangesluit en kleinboet Glenn Hodgson (27), wat die klawerbord en baskitaar speel, het teen die einde van 1998 kom saamspeel. Vir die volgende elf jaar het die vier “vasgebyt en hard gewerk”: vier aande per week, van 18:00 – 22:00, het hulle die kitare en die tromme geslaan en die aanvanklike “garage-geraas” het musiek begin word.

Tussendeur het hulle matriek gemaak, Kahn en Paul het altwee kommunikasieleer aan RAU geswot terwyl Neil sy internskap by Mercedes Benz gedoen en by ‘n tegniese kollege klas geloop het. Kahn het later ‘n verkoopsagent en finansiële raadgewer geword, Paul het rekenaarprogramme vir tandartse geinstalleer en Neil het gevorder tot diensbestuurder by Mercedes Benz. Glenn het onder-wys geswot, maar die vier het nie vir een oomblik hul musiekdrome uit die oog verloor nie.

Die eerste groot geleentheid om hulself op hierdie gebied te bewys was ‘n Battle of the Bands-kompetisie by die Randburgse Waterfront (nou bekend as Brightwater Commons), waar hulle glad nie goed gevaar het nie. “En ons het weer twee keer daarna probeer en elke keer verloor,” spot Kahn.

Maar stelselmatig het hul musiek al gewilder geword en later moes hulle hul beroepe laat vaar om voltyds musiek te maak. Vandag het hulle aanhangers onder verskillende ouderdomme en kultuurgroepe in veral Duitsland, Engeland en ander Europese lande.

Die grootste televisienetwerk in Duitsland het hulle intussen genader om ‘n Wêreldbeker-sokkerliedjie vir hulle op te neem. Hulle skryf darem ook sommer vir die lekker en in die gees van die tyd ook een vir Suid-Afrika – en hoop almal sal daarvan hou.

Mense dink maklik hulle is weird, maar eintlik is hulle eerder uniek met ‘n positiewe lewensbenadering.

“Ag, ons is maar net doodgewoon, selfs al dra ons grimering op die verhoog,” sê Glenn.

En hoe het wêreldroem hulle geraak? “Ons lewe het nie veel verander nie. Die grootste verskil is dat ons elke oggend wakker word en uitsien na dit wat ons moet doen omdat ons doen waarvan ons hou,” sê Kahn.

Die groep se naam, Parlotones, kom van die Italiaanse woord, parlo, wat “praat” beteken, en tone verwys na golfklanke. “Ons praat die taal van musiek,” se Kahn. En dit is inderdaad so. Dis opvallend hoe hulle met liedjies daarin slaag om met mense op alle vlakke van die samelewing te “praat”, asof jy na iemand luister wat presies verstaan en weet hoe jy voel. Vol rou emosie en baie trefkrag.

“Die doel met elke liedjie is dat mense hulle daarmee moet kan vereenselwig – as ons dit regkry, of as dit mense wat swaarkry beter laat voel, is dit altyd ‘n bonus,” se Kahn.

“Ek skryf hoofsaaklik uit ervaring – myne, en die van die mense om my. Ons is net doodgewoon en het baie gemeen met almal daar buite,” vertel Kahn.

Hulle sing dat almal mooi is, maak nie saak hoe jy lyk nie; dat jy dinge moet doen, bewustelik moet leef, en nie al jou drome begrawe tot eendag kom nie; van ‘n wêreld waar mense nie vingers wys en die skuld op ander pak nie, maar erken dat ons almal eenders is en foute maak.

“Ek word altyd geinspireer deur stories van mense wat suksesvol is, ondanks hul sosiale status of ander dinge wat hulle terughou. Dit het ‘n baie groter uitwerking as ‘n motiveringspreker wat ‘n boek skryf oor hoe om suksesvol te wees, en tog is sy enigste groot prestasie die boek wat hy geskryf het,” sê Kahn.

Mense dink maklik The Parlotones is weird, maar eintlik is hulle eerder uniek met ‘n positiewe lewensbenadering. “Ag, ons is maar net doodgewoon, selfs al dra ons grimering op die verhoog,” sê Glenn.  Die grimering het toevallig gebeur. Hulle was by ‘n temapartytjie en het gedink dit lyk oulik en het toe met die voorkoms geeksperimenteer.

“Daar is so baie ander bands en almal sing met denims en T-hemde. Ons wou ons eie identiteit skep,” sê Neil.

Die groep het ook al ‘n Afrikaanse liedjie, “Lisa se klavier”, van Koos Kombuis op hul kerfstok en sal baie graag ‘n Afrikaanse album wil maak. Kahn, wat van Belgiese afkoms is, het selfs al ‘n paar Afrikaanse liedjies geskryf, maar die uitspraak is vir hom ‘n probleem en hy sal eers daaraan moet werk voordat hulle dit kan opneem. “Dit sal lekker wees om dalk een of ander tyd iets saam met ander Afrikaanse sangers soos Robbie Wessels te doen,” sê Kahn.

En al het hulle al die wêreld deurkruis, bly Suid-Afrika steeds die beste. “Kyk, daar is haakplekke, maar dis maar so met alles in die lewe. Niks is ooit perfek nie, maar Suid-Afrika is besig om in die regte rigting te beweeg,” sê hy.

“Dis steeds die beste plek om te bly. Inteendeel, hoe meer ons reis en hoe meer lande ons sien, hoe lekkerder is dit om huis toe te kom,” sê Paul.

Indien jy een van die min is wat nie die Parlotones se musiek ken nie, moet jy jou ore spits as jy weer televisie kyk – al drie die liedjies wat vir die advertensies vir Pick n Pay (“Sun Comes Out”), Outsurance (“Beautiful”) en Kentucky Fried Chicken (“Life Design”) gebruik is, word deur die Parlotones gesing.


Kahn Morbee

Kahn se ouma het horn grootgemaak. Op 80 is sy hul grootste bewonderaar. Sy meisie se naam is Candace.

Gunstelingplek:

Dis vir seker nie Doebai nie! Johannesburg sal ‘n gunsteling bly.

Wat maak enige vrou onweerstaan-baar?

Dit gaan oor die mens. lemand wat dalk baie mooi is, is nie altyd oulik nie en kan baie “lelik” raak as sy begin praat. En iemand wat nie regtig aantreklik is nie, kan baie mooi word as jy haar eers beter leer ken. Goeie versorging is altyd belangrik.

Hou jy van sport?

Ek is mal oor sport, veral rugby, krieket en sokker. As Johannesburgse patriot is die Leeus my span! Deesdae speel ek gholf, ook saam met Neil en Glenn.


Neil Pauw

Neil het nog nie trouplanne nie, maar wel ‘n meisie, Giselle.

Gunstelingkos:

Lamstjoppies met groente en geroosterde aartappels. Ek is mal oor geroosterde aartappels.

Gunstelingdeel van die vroulike liggaam:

Ek kyk nogal na vroue se neuse. Dit kan iemand maak of breek. Gelukkig hou ek van my meisie se neus.

Wat moet ‘n vrou nie doen nie as sy jou wil beindruk?

Te veel grimering aansit, veral rooi en pienk lipstiffie. Ek kan my net nie voorstel hoe dit moet wees om so ‘n mond te soen nie. En ‘n slegte asem.

Watter waardes is vir jou belangrik?

Ek het nog altyd daaraan geglo om respek vir ouer mense te hê.


Paul Hodgson

Paul is getroud met Eloise, ‘n Afrikaanse meisie. Hulle het ‘n vyfjarige dogtertjie.

Gunstelingplek:

Ek hou baie van Switserland, maar om net op my stoep te sit en ‘n boek te lees, veral wetenskapfiksie en fantasie, is ook altyd lekker. Ek is eintlik maar ‘n nerd.

Watter Afrikaanse sangers respekteer jy?

Straatligkinders en Robbie Wessels. Hy lyk cool, ek sal hom graag wil ontmoet.

Watter waardes is vir jou belangrik:

Eerlikheid en integriteit.

Wat irriteer jou?

Mense wat vir my vinger wys en swak organisasie.


Glenn Hodgson

Glenn is getroud met Natasha.

Wat dink jy van grimering?

Met die Parlotones is dit meer soos’n ritueel om grimering aan te sit en gereed te maak vir die groot oomblik as ons op die verhoog klim. Maar ons sal dit nooit andersins dra nie. Wat vroue betref, is minder meer.

Julle het so ‘n groot invloed op tieners en kinders. Probeer jy om ‘n goeie voorbeeld te stel?

Ja, ek probeer om ‘n goeie rolmodel te wees, maar dit is nie altyd moontlik om perfek te wees nie. Ho-pelik sal almal daar buite kan sien dat ons ook maar net mense is.

Wat sal jy eerste gryp as jou huis brand?

My vrou en ‘n broek.


Geskryf deur Suzanne Venter. Foto’s deur Robert Hamblin. Hierdie artikel is uitgehaal uit die Maart 2010 uitgawe van Rooi Rose.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.