Deur: Vickie de Beer en Cobus Smit. Bygestaan deur Jana van Sittert en ICA student Julia van Marseveen. Foto’s deur: Lien Botha. Artikel uit die Oktober 2014 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Hoe lekker! Stap met jou mandjie tuin toe en sit kos vars uit die grond op tafel. Dis nie so moeilik om jou eie kos te kweek nie en met ons heerlike resepte kan jy die vrug van jou arbeid nog meer geniet
Jy kan die vreugde smaak van jou eie kos pluk en voorsit. Ons wys jou hoe maklik dit is.
Ons hou dikwels soveel verskonings voor waarom ons nie ons eie kos kan kweek nie, maar eintlik is daar nie ‘n rede nie.
Grond
Swak grond is geen verskoning nie. Gebruik net genoeg kompos – al is jou grond die vetterigste sand of die kliphardste klei. Bou lasagnebeddings met jou tuinvullis en kombuisafval om die gehalte van die grond te verbeter. Onthou om altyd eers die grond met ‘n deklaag van dooie gras, strooi of houtsnippers te bedek wanneer jy plant. Die deklaag hou die grond lekker los en word later kompos wat die grond verder voed. Gooi altyd ‘n bietjie kompos in elke plantgaatjie, druk die grond goed vas, gee die plantjie water en siedaar, nie lank nie en jy pluk die vrugte van jou eie handearbeid.
Van spasie gepraat…
As jy jou tuin beplan, ongeag die styI, hou in gedagte dat die beddings nie breër as ‘n meter moet wees nie, anders is dit te moeilik om daarin te werk. Jy behoort nooit op beddens te spring of loop nie – onthou jy nie jou ma het jou so geleer nie? Wel dit geld ook in jou tuin, al spel jy beddings ‘n bietjie anders!
Dit is belangrik dat daar ook ander soorte plante naby jou groente staan sodat voëls, akkedisse en ander jagters daar kan skuil om te help goggas vang!
As jy ruimte goed wil benut, is dit ‘n goeie idee om goed wat rank (soos bone, ertjies, pampoene, botterskorsies en tamaties) op te lei – anders lê die ranke net op die grond en vrot.
Plante blom en dra ook baie meer as die hele plant son kry, dis beter deurlug en kry nie so maklik siektes nie en dis baie makliker om te oes.
Mense gebruik maklik die verskoning dat hulle nie plek het om hul eie kos te plant nie, maar groente en vrugte groei baie maklik in houers.
Vir groente wat in die grond ontwikkel, soos beet en wortels moet die houer net diep genoeg wees. Blaarslaai en ander kleiner plante soos kruie groei uitstekend in vertikale plantpanele of in potte.
Daar’s nie plek nie
‘n Gebrek aan ruimte is ook nie ‘n verskoning nie. Niks keer jou om vertikaal teen die muur te plant nie – dit het ons jou al gewys (sien vertikale tuin) – of sommer op jou stoep se dak nie. Gebruik ‘n plastiek- of netlonsak wat nie herwin kan word nie en vul dit met goeie potgrond. Pons so agt gate eweredig versprei in twee rye van vier daarin. En plant daarin. Maak nog twee gate in die middel tussen die twee rye. Vul twee glasbottels met water en maak dit sonder die prop met die nek in die gate staan. Die water sal net uitloop as die grond uitdroog. Vul net die water aan as die bottels leeg raak.
Saad
Jou oupa en ouma het sommer plantsaad geoes en onder vriende en familie uitgeruil. Dit was voor die dae van groot maatskappye wat dink hulle het plante uitgedink en nou die verspreiding van saad beheer en sommer ook die goed so geneties manipuleer dat hulle nog allerhande ander behoeftes ook ontwikkel het. Gelukkig het van die ou sade deur geslagte heen behoue gebly en is dit weer vrylik beskikbaar. Erfenissaad is nou die gonswoord.
Daar is talle pragtige (herontdekte) groentesoorte beskikbaar: wortels, ja nie geelwortels nie, want hulle kom in die reënboog se kleure, pienk blomkool (dit was glo eens pienk en toe het iemand besluit dit moet liewer wit wees en dit so geteel!) en geel broccoli. Daar is selfs ertjies met die mooiste pers blommetjies wat amper soos pronkertjies lyk.
- By The Gravel Garden in Somerset-Wes kan jy erfgroentesaad koop. Gaan kyk by thegravelgarden.co.za of thegravelgarden@telkomsa.net.
Onthou, groente en vrugte groei baie maklik in houers.
Groentesappe:
Genoeg vir 500ml Sap
Groent sap
Versap • 2 appels • 2 vinkelbolle • halwe komkommer • 2 selderystokkies • 500 g babaspinasie en • 2 geskilde lemmetjies.
Oranje sap
Versap • 3 wortels • 2 geskilde lemoene • 3 cm geskilde gemmer en • 2 appels.
Rooi sap
Versap • 100 g kersietamaties • 3 selderystokkies • 1 brandrissie, sonder saadjies en voeg • 200 ml tamatiesap by.
Pers sap
Versap • 5 groot bete • 3 appels en • ‘n halwe rooikool.
Geel sap
Versap • 1 pynappel • 2 geel soetrissies en • 2 geskilde lemoene.
Kleurryke Groentepiekels
Lê jou oes in vir later en maak heerlike slaaie of crudité-borde daarmee.
• 750 ml (3 k) witwynasyn
• 375 ml (1 ½ k) strooisuiker
• 1 steranys • 5 lourierblare
• 8 swartpeperkorrels
• enige van die volgende
Groente
• 1 bossie radyse • 8 babawortels, geel of oranje • 1 kop blomkool • 8 babakomkommers, middeldeur gesny • ‘n groot hand vol eksotiese tamaties, geskil • ‘n groot bondel groenbone • 6 gaar bababete, middeldeur gesny
1. Verhit die asyn, suiker en speserye in ‘n groot kastrol oor lae hitte. 2. Roer tot die suiker opgelos is en kook vir 4 min. 3. Blansjeer die sagte groente in gesoute, kokende water en verpak in gesteriliseerde glasbottels. 4. Gooi die warm asyn-mengsel oor die groente en laat heeltemal afkoel. 5. Sit ‘n paar peperkorrels en ‘n lourierblaar in elke bottel.
6. Draai styf toe en verkoel.
Beetslaaisous
Genoeg vir 500ml
Sit die slaaisouse met die piekelgroente voor.
• 3 klein bete, gekook en geskil • ‘n klein hand vol dille en basiliekruid • 15 ml (1 e) appelasyn • 1 appel, versap • 250 ml (1 k) sonneblomolie • sout en peper
1. Kap die beet, dille en basilie saam in ‘n voedselverwerker tot glad. 2. Gooi die appelasyn en -sap by en meng deur. 3. Gooi die sonneblomolie stadig in ‘n dun stroompie by terwyl die masjien hardloop sodat dit ‘n emulsie vorm. 4. Geur met sout en peper.
Romerige Kappertjieslaaisous
Genoeg vir 300ml sous
Die kappertjies was volop in die tuin, maar jy kan ook basiliekruid of roketblare gebruik.
• 250 ml (1 k) crème fraîche • 250 ml (1 k) klein kappertjieblare, gewas • 2 knoffelhuisies • 6 kruisementblaartjies • uitgedrukte sap en skil van ‘n halwe suurlemoen • sout en peper
1. Verwerk die crème fraîche, kappertjieblare, knoffelhuisies, kruisement en suurlemoensap en -skil in ‘n voedselverwerker tot glad en romerig. 2. Geur met sout en peper.
Crudité-Potjies
“Plant” jou jonggroente in klein terracottapotjies gevul met ertjiedoopsous of in die tuisgemaakte ricotta.
Eertjiedoopsous
• 500 g bevrore ertjies (petit pois) • sout • 30 ml (2 e) olyfolie • 30 ml (2 e) lemmetjiesap • 30 ml (2 e) vars koljander, gekap • 5 ml (1 t) fyn komyn • 5 ml (1 t) fyn koljander
1. Blansjeer die ertjies in gesoute, kokende water. 2. Dreineer en dompel dadelik in yskoue water. 3. Gooi die koue ertjies in ‘n bak en kap ruweg met ‘n stokmenger. 4. Gooi die olie, sap, koljander en komyn by en meng. Geur met sout en peper. 5. Skep in potjies en “plant” die baba-groente daarin.
Tuisgemaakte Ricotta
Jy sal nooit weer gekoopte ricotta eet as jy eers jou eie geproe het nie.
– Resep uit “Roast Duck on Sunday “deur Zuretha Roos en Annalie Net
• 3 liter volroommelk • 375 ml (1½ k) room • 375 ml (1½ k) dubbelroom Griekse jogurt
• 10 ml sout • 30 ml vars suurlemoensap
1. Jy het ‘n silwerskoon melkdoek of moeseliendoek van sowat 40 cm x 40 cm nodig. 2. Hang die doek oor ‘n vergiettes of sif wat oor ‘n groot bak lê. 3. Meng die melk, room, jogurt en sout in ‘n groot sopkastrol. 4. Verhit oor matige hitte tot die mengsel begin kook. 5. Roer heeltyd met ‘n houtlepei, want die melk mag nie aanbrand nie. 6. Kook die melk vir 2-3 min. en roer deurentyd. Die melk sal begin skif en daar sal fyn stremsel (curds) sigbaar wees. Indien dit nie gebeur nie, kan jy nou die suurlemoensap inroer om die proses aan te help. 7. Trek van die hitte af, laat effens afkoel en gooi versigtig deur die doek. Kantel die bak sodat al die wei af dreineer. 8. Bring die punte van die doek bymekaar en draai styf op sodat die kaas ‘n bolletjie vorm. 9. Bind met kombuistou vas en hang vir 1-2 uur bo-oor ‘n bak sodat dit kan dreineer.
Nog ‘n idee
Voeg • 125 ml (½ k) gemengde en gekapte sagte kruie, soos
• Italiaanse pietersielie • basiliekruid • dille en • vars koljander by die ricotta.
Pampoen kaaskoekies
Kors
• 200 g soutbeskuitjies, fyn gemaal • 200 g geroosterde amandels, fyn gemaal • 130 g gesmelte botter • sout en gemaalde swartpeper
Vulsel
• 250 ml (1 k) mascarponekaas
• 125 ml (½ k) volroom geroomde maaskaas • 500 ml (2 k) gaar pampoenpuree • 3 eiers • 10 g (4 t) meel
Voorverhit die oond tot 160 °C.
1. Spuit twee diep muffinpanne met kleefwerende kossproei en voer elk met 2 strokies bakpapier uit.
Kors
2. Meng die beskuitjiekrummels, amandels en botter en geur met sout en peper. 3. Voer die boom en kante van die voorbereide panne met die krummelkors uit. 4. Maak seker die papierstrokies hang oor sodat jy die tertjies maklik kan uitlig. Sit vir 20 min. in die yskas.
Vulsel
5. Meng die mascarpone, maaskaas, pampoen, eiers en meel tot baie glad. 6. Verdeel die vulsel tussen die tertkorse. Bak vir 60 min. tot die vulsel gestol is. 7. Laat in die pannetjies afkoel en sit vir 3 uur of oornag in die yskas. 8. Haal 20 min. voor opdiening uit en garneer met ertjiespriete en babakruieblaartjies.
Tuinoesbrood
Genoeg vir 1 groot brood
Gebruik jou oes uit die tuin om ‘n lekker groentebrood te maak. Verander die bolaag na gelang van jou oes.
• 500 g broodmeel • 375 ml warm water • 10 g (1 pakkie) kitsgis • 10 ml sout • 125 ml basiliekruidpesto • vars groente uit die tuin soos jong preie, jong beet en worteltjies, klein eiervrugte en kersietamaties nog aan hul stingels
1. Sit die deeghaak aan die elektriese menger. 2. Sit die meel, gis en sout in die bak en voeg die water stadig by terwyl die masjien hardloop, meng deurentyd. 3. Knie die deeg vir 10 min. tot dit ‘n gladde, werkbare deeg vorm. 4. Maak met ‘n lappie toe en laat vir 2 uur op ‘n warm plek rys. 5. Knie die deeg af en voeg die pesto by, meng weer in die menger met die deeghaak tot deurgemeng. 6. Sprei die deeg op ‘n oondpan van 25 cm x 35 cm uit en druk met jou vingers plat. 7. Laat weer rys. 8. Verhit die oond tot 200 °C. 9. Pak die groente van jou keuse op die brood uit. 10. Sprinkel olyfolie en Maldon-sout oor en bak vir sowat 40-45 min. tot goudbruin en gaar.
Hoendertjies uit die tuin
• 500 g fetakaas, gekrummel
• ‘n groot hand vol gekapte kruie: kruisement, basiliekruid, pietersielie en tiemie • 5 piepkuikens • sout en gemaalde swartpeper • 10 babawortels, geskil en middeldeur gesny • 10 fyn groenbone • 5 baba-preie, gewas en middeldeur gesny • 1 suurlemoen, in wiggies gesny • 1 ui, in wiggies gesny • olyfolie • Maldon-sout
Voorverhit die oond tot 200 °C.
1. Meng die fetakaas en kruie en hou eenkant. 2. Geur die holtes van die piepkuikens met sout en peper. 3. Wikkel die vel oor die borsgedeelte versigtig met jou vingers los. 4. Verdeel die fetakaasmengsel en druk onder die vel oor die bors en boudjies in. 5. Verdeel die groente en druk in die holtes van die kuikens. 6. Bind die bene met kombuistou toe. 7. Smeer die hoenders met olyfolie en geur met sout. 8. Rooster vir 45-50 min. tot die vleissappe helder uitloop en die vel goudbruin is.
Heerlike Groentekoek
Genoeg vir 6 klein stapelkoekies
Jy ken wortelkoek, maar probeer nou ons heerlike groentekoek met beet en murgpampoentjie daarby!
• 125 g beet, geskil en grof gerasper • 125 g murgpampoentjies, grof gerasper • 250 g wortels, grof gerasper • 1 x 200 g-blik pynappelstukke, gedreineer • 3 groot eiers • 80 ml (¾ k) karringmelk • 500 ml (2 k) suiker • 375 ml (1½ k) olie • 5 ml (1 t) vanieljegeursel • 200 g makadamianeute, liggies gerooster en liggies gekap • 750 ml (3 k) koekmeel • 5 ml (1 t) koeksoda • 10 ml (2 t) bakpoeier • 5 ml (1 t) sout • 5 ml (1 t) kaneel 2,5 ml (½ t) gemmer • ‘n knypie fyn naeltjies
Roomkaas-versiersel
• 2 x 230 g-houers Lancewood-volroomroomkaas • 180 g versiersuiker, gesif • 60 ml (¼ k) heuning • 60 ml (¼ k) botter • 30 ml (2 e) lemoensap • ‘n hand vol jong tuinworteltjies, geskil (vir die karamelwortels bo-op)
Voorverhit die oond tot 160 °C.
1. Voer twee 22 cm x 33 cm-rolkoekpanne met bakpapier uit. Meng die beet, murgpampoentjie, wortel, pynappel, eiers, karringmelk, suiker, olie, vanielje en neute goed in ‘n groot mengbak. 2. Sif die meel, koeksoda, bakpoeier, sout, kaneel, gemmer en naeltjies saam. 3. Roer by die nat bestanddele in. 4. Verdeel die beslag in die voorbereide panne. 5. Bak vir 20 min. tot goudbruin, of tot ‘n toetspen wat in die middel ingedruk word, skoon uitkom. 6. Laat die koek vir 10 min. in die pan afkoel. 7. Sny met ‘n ronde koekiedrukker (deursnee van 10 cm) sirkels uit die koeke.
Versiersel
8. Meng die roomkaas liggies en voeg die versiersuiker by. 9. Roer vinnig deur maar moenie te veel meng nie. 10. Hou in die yskas tot die koek heeltemal afgekoel het. 11. Smeer ‘n lagie versiersel op elke koeksirkel en stapel 4 sirkels opmekaar.
Karamelwortels
12. Smelt die botter en heuning in ‘n middelslagpan en gooi die worteltjies en sap by. 13. Kook liggies tot dit begin karamelliseer en blink is.