About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Verraaiers?

Deur: Suzanne Venter. Fotos: Verskaf. Artikel uit die Maart 2013 uitgawe Van Rooi Rose Tydskrif.

As jy al ooit die verkeerde besluit om die regte redes geneem het, sal jy jou kan vereenselwig met die storie van Jacobus van Aswegen wat in die fliek Verraaiers vertel word. Dis ‘n reuse-produksie en vertel ‘n aangrypende storie uit ‘n onbekende deel van ons geskiedenis. 

As jy al ooit die verkeerde besluit om die regte redes geneem het, sal jy jou kan vereenselwig met die storie van Jacobus van Aswegen wat in die fliek Verraaiers vertel word.Verraad is ‘n harde, veroordelende woord. ‘n Woord wat in die Anglo-Boereoorlog die lot van talle Afrikaners bepaal het, want Boere het Boere veroordeel en tereggestel.

Die aangrypende stuk geskiedenis word vertel in Verraaiers, die nuwe fliek uit die pen van Sallas de Jager, en is op Albert Blake se boek Boereverraaier: teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog gegrond.

Sallas en sy pa, Piet, was die vervaardigers en Paul Eilers die regisseur. Die driestuks het in 2011 die suksesvolle fliek Roepman gemaak.

Verraaiers vertel die storie van Jacobus van Aswegen, ‘n gesinsman en gerespekteerde kommandant in die Anglo-Boereoorlog. Toe Jacobus (Gys de Villiers) van lord Kitchener se beplande “verskroeide aarde”-beleid hoor, besluit hy om terug te gaan na sy plaas toe om sy vrou en twee dogters te beskerm. Sy besluit lei tot ‘n aanklag van hoogverraad teen hom en sy seuns (Andrew Thompson en Viljé Maritz).

Die rolverdeling sluit van die land se topakteurs in, soos Deon Lotz, Rika Sennett, Carel Trichardt, Marcel van Heerden, André Roothman, Paul Lückhoff, Albert Maritz, Jacques Bessenger en Niel-Bennett Grib.

1 Draaiboekskrywer en vervaardiger Sallas de Jager by regisseur Paul Eilers. 2 Paul Liickhoff (generaal Andries Cronje) en Gys de Villiers (Jacobus van Aswegen).

Blake se boek het die De Jagers aangegryp. ‘n Vriendin, Jeanette Ferreira, het aanbeveel dat hulle na die boek kyk, want twee hoofstukke het rolprentpotensiaal. Albert het baie moeite gedoen en vir Piet en Sallas gaan wys waar die verraaiers geskiet is en ook waar hulle begrawe is. (Van die grafte is in Klerksdorp naby die gedenkteken van die vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het.)

“Dit was vir ons belangrik om hierdie storie te vertel,” sê Sallas. “Die tydperk waarin die verhaal hom afspeel, Junie 1900 tot Maart 1901, het die grondslag gelê vir ‘n siklus in die Suid-Afrikaanse geskiedenis van mishandelde kinders wat mishandelende ouers word – ‘n tendens wat ons vandag nog sien. Wat my meer geroer het en gedryf het om die draaiboek te skryf, is nie die historiese belang nie, maar die universele verhaal van ‘n man wat die verkeerde besluit om die regte redes neem.”

1 Danie Bester was ook 'n vervaardiger. 2 Johan Baird het die rol van die eintlike verraaier in die storie vertolk - Gert Coetzee. 3. Deon Lotz (generaal Koos de la Rey). 4. Andrew Thompson (Henry Ahrens) - dit was die laaste rol wat hy vertolk het voordat hy selfmoord gepleeg het.

Die fliek is gegrond op ware gebeure, so is die Van Aswegen-familie in die fliek gegrond op die Theunissen-familie in die boek, maar natuurlik is van die feite verdraai, want dit is ‘n fliek.

“Ons maak ‘n storie, nie ‘n dokumentêr nie, hoewel sommige karakters se name dieselfde gebly het, soos die van die Skot Boyd,” sê Piet.

Hoewel Verraaiers hom teen die agtergrond van die Apglo-Boereoorlog afspeel, is dit nie ‘n oorlogfliek nie. “Dwarsdeur die ontwikkeling van die draaiboek wou ons ‘n universele storie vertel wat vir elke geslag van waarde is, maak nie saak of hulle van die Anglo-Boereoorlog weet of nie,” sê Piet. “Medemenslikheid gaan verlore, en ons het iets daaroor probeer sê – oorlog is waansin en ‘verraad’ is ‘n stukkende woord.”

Paul stem saam. “Verraaiers gaan nie oor die oorlog nie. Sallas het die draaiboek vreeslik slim geskryf, dit is ‘n fassinerende storie oor mense. Ek het soveel geleer uit die navorsing, en ook dat jy nooit te vlak na iets moet kyk nie, maak nie saak wat dit is nie, daar is altyd iets diepers. Kyk, op die ou end sal die fliek vir almal interessant wees – jonk en oud, want dit gaan oor onvertelde stories, en dat ons elke dag keuses maak wat ons nie kan verander nie, en die invloed wat dit op ons lewe het.”

Gys de Villiers (Jacobus van Aswegen)

Jacobus van Aswegen in VerraaiersIn Verraaiers vertolk jy die rol van kommandant Jacobus van Aswegen wat besluit hy is klaar met die oorlog en teruggaan na sy plaas toe om sy vrou en kinders by te staan. Wat het jy uit die fliek geleer?

Ek dink in enige konfliksituasie moet jy kies: óf jy staan by die saak waarin jy glo, of jy beskerm jou gesin en besittings. In hierdie geval glo ek die man was reg om huis toe te gaan. Die tydsberekening was dalk net verkeerd. Ek glo ook daar is altyd ‘fanate’ wat te ernstig is oor goed en geen ander manier as hul eie sien nie. Kommandant Van Aswegen het hom teen sulke fanatici vasgeloop.

Hoe voel jy oor die oplewing in die rolprentbedryf?

Dis ‘n baie positiewe tyd vir Afrikaanse flieks en dis vir my verblydend dat ons meer genre-flieks maak, soos Verraaiers en Wonderwerker. Ek gaan ook binnekort in Jimmy in Pienk te sien wees, so ek kla nie. Ongelukkig is dit steeds net Leon Schuster wat werklik geld maak. Hy het ‘n gehoor wat oor kleurgrense en tale strek, terwyl kunsflieks steeds maar sukkel by die loket. Wat mense ook moet besef, is dat ons afsetgebied klein is. Wanneer Amerikaners ‘n fliek maak, sien die hele wêreld dit, terwyl Afrikaanse flieks net ‘n Suid-Afrikaanse, Afrikaanssprekende gehoor trek. So, kom ons ondersteun ons eie flieks, asseblief! Ek glo jy moet net aanhou en eendag sal die gehore inheemse produkte op dieselfde vlak as oorsese block busters ondersteun.

Dink jy daar is iets wat almal uit die fliek kan leer?

Ja, ek dink ons kan leer dat oorlog verskriklik is en dat as jy ‘n rigting gekies het, jy jou keuse moet lééf.

Paul en die De Jagers het ook baie lof vir Danie Bester, die vervaardiger en eienaar van The Film Factory wat met Bosbok Ses Films saamgespan het om Verraaiers te vervaardig.

Vir Danie is dit belangrik dat ‘n fliek die gehoor emosioneel meevoer. “Jy wil mense raak. Wanneer hulle by die teater uitstap, moet dit voel asof iets met hulle gebeur het, asof hul ervaring en insig in die lewe anders as voorheen is. En ek dink ons het met Verraaiers daarin geslaag.”

Die grootste deel van die fliek is op die plaas Kranspoort buite Bronkhorstspruit geskiet. Dit was ‘n enorme produksie met omtrent vyfhonderd mense, perde, diere… Van die tonele is ook in die Willem Prinsloo-museum geskiet. Daar was selfs kenners wat elke uitrusting geÏnspekteer het om seker te maak dit is getrou aan die tyd.

Paul is dankbaar dat hy sulke goeie akteurs en tegnici gehad het op wie hy kon steun. “Die stresvolste van alles was om te besluit watter skoot om te gebruik, dan neem jy ‘n besluit namens veertig mense, en as jy die besluit geneem het, is hy geneem. Dit het my snags wakker gehou. Dis ‘n groot en lekker verantwoordelikheid. Ek het vir almal verduidelik wat ek wil hê en dan werk ons saam om ‘n skildery te maak, ‘n mooi prent. Jy weet dit gaan oor gee en neem, almal moet veilig voel sodat hulle hul beste kan lewer.”

Daar is baie tonele in die fliek wat ‘n mens se asem wegslaan en jou hart roer. Vir Paul was daar ook vele, onder meer ‘n toneel waarin Jacques Bessenger net onbedaarlik begin huil het. “Dit was ongelooflik. Ek het vir die kameraman gese hy moet aanhou skiet, dit was magic.”

Die rolprent is ‘n kragtoer en die passie van elkeen wat daaraan gewerk het, kan jy op die skerm sien. Suid-Afrikaanse gehore kan uitsien na ‘n Afrikaanse fliek wat die grense gaan verskuif.

Verraaiers wys van 22 Februarie 2013 in teaters landwyd. Lees ook ‘n onderhoud met Albert Blake, die skrywer van die boek Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog, op www.rooirose.co.za

Rika Sennett (Gerda van Aswegen)

Rika Sennett (Gerda van Aswegen)Jy het die rol vertolk van ‘n vrou met ‘n man, seuns en skoonseun wat oorlog toe gaan, en net ingee toe alles te veel word. Wat het jy uit die ervaring geleer?

Verraaiers is ‘n tragiese verhaal. Oorlog is twak, dit vernietig alles en almal daarin. Gerda is ‘n vrou van haar tyd. Die man is die hoof van die huis en hy neem die belangrike besluite. Sy is verantwoordelik vir huis en haard en die kinders. Haar gesin is haar alles. Toe die oorlog byna haar hele lewe insluk, raak sy van haar kop af. Haar krag het in haar gesin gelê en dit word van haar weggeneem. Die oorspronklike vrou was volgens Albert Blake se boek, Boereverraaier, nooit weer dieselfde nie.

Hoekom dink jy moet oud en jonk na Verraaiers gaan kyk?

Ek ken die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog redelik goed. My oupa en sy broers het ook in daardie oorlog geveg. En ek het natuurlik Albert Blake se boek Boereverraaier gelees. Dit is aangrypende geskiedenis wat ons iets van onsself vertel en almal sal boei.

Was dit lekker om saam met jou dogter Hannah in die fliek te speel?

Dit was só lekker! Ek het haar nog net as my kind ervaar en nog nooit as kollega nie. Ek moes briek trap as die “ma” wou oorneem, maar toe was ek so verras om te sien met watter toewyding en professionaliteit sy haar werk benader. Dit was regtig ‘n lekkerte en voorreg!

Jacques Bessenger (Robert Machlachlan)

Jacques Bessenger (Robert Machlachlan)In Verraaiers vertolk jy die rol van die Skot Robert Machlachlan wat met ‘n Boeremeisie trou en dan betrokke raak in ‘n oorlog waarvan hy nie deel wou wees nie. Jy speel ‘n sagte, sielvolle karakter en is heeltemal anders as die monsteragtige Renier wat jy in die televisiereeks Erfsondes vertolk het. Vertel ons meer van die ervaring.

Ja, die twee karakters is teenpole. Ek het die laaste reeks van Erfsondes en Verraaiers in dieselfde tydperk geskiet. Een dag Renier, die ander dag Robert. Dit was ‘n interessante ervaring. Ek dink dit het baie bygedra tot die skep van Robert. Omdat Renier so donker was, was dit vir my maklik om Robert lig te maak. Ek dink ook mense is geneig om te vergeet dat die akteur nie die karakter is nie, en dat jy meer as een rol kan vertolk.

Jy het in een toneel in trane uitgebars omdat jy jou so in die rol ingeleef het… Wat het jy uit Verraaiers geleer?

As akteur het ek net weer besef dat jy net moet vertrou op die verloop van ‘n storie en die regisseur en jou medespelers om jou met die skep van ‘n karakter te help. Na Verraaiers het ek meer waardering vir ons geskiedenis en ek het ook besef dat my land en volk ‘n moeilike pad moes stap tot waar ons vandag is. Dit maak my nederig.

Hoekom dink jy moet mense na die fliek gaan kyk?

Mense móét die fliek gaan kyk om te sien hoe ver ons in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf gevorder het, Verraaiers is ‘n enorme produksie! En om te leer van ‘n deel van ons geskiedenis waarvan ons min weet.

Viljé Maritz (Carel-Jan van Aswegen)

Viljé Maritz (Carel-Jan van Aswegen)Jy vertolk die rol van een van Jacobus van Aswegen se seuns. Was dit lekker om iets van daardie tydperk waarvan jy nog net in geskiedenisboeke gelees het te beleef?

Dit was ‘n enorme ervaring en ek was so geseënd om met sulke professionele en nice mense te werk. My hart is in ons land en dit was lekker om navorsing te kon doen en my in daardie karakter te kon inleef. Dit was baie emosioneel om te besef hoe ver ons gekom het. What a ride!

Sal jongmense ook hou van ‘n fliek wat hom in die Anglo-Boereoorlog afspeel?

Dit is goed om te weet waardeur ons voorvaders was en ek kan hulle belowe, ná so ‘n ervaring gaan jy baie trotser wees op jou land en waardering he vir alles wat hulle moes deurmaak. 

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.