Deur: Ilse Salzwedel. Fotos: Didi Potgieter, Richard Cholwich. Artikel uit die Julie 2012 weergawe van Rooi Rose.
Op 18 Julie vier ons Nelson Mandela se geboortedag, en op die dag word mense aangemoedig om 67 minute van hul tyd aan ‘n goeie saak te wy. Maar moenie jou goeie dade beperk tot net hierdie een dag nie! Ilse Salzwedel vertel van vyf jongmense wat daagliks hul naaste se lewe aanraak
‘Om ‘n verskil te maak, is baie belangriker as ons bankbalans”
Louise en Meyer Conradie (albei 25) is die stigters van Mosaic in Ikageng, ‘n township buite Potchefstroom. Mosaic bestaan uit ‘n kleuterskool vir MlV-geinfekteerde en geaffekteerde kinders, asook werkskeppingsprojekte. Hul stigting raak 200 gesinne in Ikageng.
Louise is ‘n maatskaplike werker, en Meyer het ‘n nagraadse diploma in besigheidsbestuur. Hulle het die kleuterskool twee weke voor hul troue drie jaar gelede begin.
“Gandhi het gesê jy moet die verandering wees wat jy in die wêreld wil sien,” vertel Louise. Maar hulle wil nie net aalmoese gee nie, maar gesinne onafhanklik kry van enige welsynsorganisasie en staatstoelaes.
“Ons wil ‘n volhoubare model skep om Suid-Afrika se ouerlose geslag te help ontwikkel, want dis duidelik dat die regering se beleid van allerhande toelaes nie werk nie.”
Mosaic is ‘n geregistreerde, nie-winsgewende organisasie met tien pleeghuise (waar veertig kinders versorg word) onder sy vlerk. Dertig mense verdien ‘n inkomste uit die werkskeppingsprojekte (wat handwerk, tuindienste en bouspanne insluit), en 120 kleuters woon die kleuterskool gratis by. Die veertig pleegkinders woon ook smiddae ‘n naskoolprogram by waar hulle ekstra lesse kry in wiskunde en Engels. Skaak- en swemlesse en sokker is ook op die middagprogram.
Dorah Moeng is een van die projek se suksesverhale. Twee jaar gelede kon sy haar eenvertrek-sinkhuisie verruil vir ‘n drieslaapkamerhuis wat Mosaic se bouers en vrywilligers vir haar gebou het. Haar inkomste by Mosaic sorg vir haar eie kind en drie pleegkinders se opvoeding, kos en klere. Tog kry sy dit reg sonder enige finansiële bystand of kos van Mosaic.
Die werkskeppingsinisiatiewe skep werk vir die ouers en dek die administrasiekoste van die projek om dit selfonderhoudend te hou. “Ons wil ook nie afhanklik bly van skenkings nie,” sê Louise. Die vroue brei en bak koekies, en die pleegpa’s werk in die tuindienste- of bouspanne, en bou saam met plaaslike en internasionale vrywilligers baksteenhuise vir pleeggesinne met twee of meer weeskinders in hul sorg.
Mosaic South Africa is ook in die VSA as nie-winsgewende organisasie geregistreer. Dus kan hul produkte daar verkoop word, en Amerikaanse donateurs borg kleuterskoolkinders se skoolgeld en samel geld in om huise te kom bou. Elke jaar kom ‘n klomp vrywilligers ook om huise te bou en met ander werk te help.
Die Conradies sê geen geld kan die bevrediging koop wat hulle uit Mosaic kry nie. “Net om te hoor hoe die pleegkinders, wat voor Mosaic nooit gedroom het oor ‘n toekoms nie, nou daarvan begin droom om dokters, onderwysers en maatskaplike werkers te word, maak dit reeds die moeite werd. Hul skoolprestasie verbeter elke kwartaal. Van die kleintjies, wat baie siek en verwaarloos by die kleuterskool aangekom het, hardloop vrolik rond na ‘n maand se goeie kos, versorging en liefde. Dis regtig net wonderlik om te sien hoe ‘n gesin se lewe geheel en al verander word deur ‘n netjiese huis, ‘n waardige werk en bystand op sosiale vlak.”
Hoekom doen hulle dit? “Ons lewe volgens die Woord, en in Handelinge 20:35 staan dat ‘n mens in werklikheid ontvang as jy gee. Jy gaan nie vervulling vind in die bevrediging van jou eie selfsugtige behoeftes nie. Ware vervulling lê daarin om betrokke te raak by iets groters as jyself,” verduidelik Louise. “As meer mense betrokke raak by hul gemeenskappe, sal meer mense werk hê en beter geskool wees, en hulle sal nie by misdaad betrokke wil wees nie. So ‘n wêreld is baie moontlik, en dit begin by my en jou!”
Vir meer iniigting, kyk by www.mosaicsa.org
Jes Foord is op 2 Maart 2008 wreed verkrag deur vier mans toe sy en haar pa met hul honde langs ‘n dam in die omgewing van Pinetown gaan stap het. Maar Jes het besluit om haar naam bekend te maak om ander verkragtingslagoffers te help, en net ses maande later haar eerste motiveringspraatjie gegee. Die Jes Foord Foundation is in 2009 amptelik geregistreer en het reeds duisende lewens geraak.
Net in 2011 het sy 25 000 skoolkinders en 10 000 volwassenes toegespreek, en meer as honderd verkragtingslagoffers het in 2011 regstreekse hulp gekry by die spesiale eenheid vir verkragtingslagoffers wat die stigting by die St. Augustines Netcare-hospitaal in Durban bedryf. Tel daarby beradingsdienste en handsakke met koestergoed soos toiletware, ‘n kamerjas en pantoffels wat aan verkragtingslagoffers uitgedeel word, en jy sien watter verskil Jes en haar span in SA maak.
“Al wat ‘n mens na ‘n verkragting wil doen, is om jouself te was. Baie van die slagoffers bly in gebiede waar daar nie eens altyd lopende water is nie,” vertel sy oor die handsakprojek.
‘Ons moet saamstaan, en die verandering wéés’
By St. Augustines is daar beraders en ‘n traumadokter wat die slagoffer medies ondersoek. Die polisie kom neem selfs die slagoffer se verklaring daar af, in skrille teenstelling met Jes se eie ervaring van ‘n polisiekantoor en ‘n ondersoek deur die distriksgeneesheer, wie se spreekkamers oorkant ‘n taxi-staanplek in Pinetown is.
“As ek nie daardeur is nie, sou ek nie gedoen het wat ek vandag doen nie,” sê sy oor haar nagmerrie-ervaring.
Haar motiveringspraatjies en die stigting het haar voltydse beroep geword. Sy hou veral daarvan om met hoërskoolkinders te praat.
“Ek praat oor my eie ervaring, maar ook oor hoe ‘n mens trauma soos siekte of verkragting oorkom. En oor groepsdruk en drank en dwelms. Met seuns doen ek voorkomende praatjies. Ek vra altyd: ‘Sal jy jou ma of jou suster verkrag?’ Dan kom die antwoord in ‘n koor: ‘natuurlik nie.’ Dan herinner ek hulle daaraan dat elke verkragte vrou iemand se ma of suster is.”
Sy glo haar praatjies help slagoffers wat nog nooit die moed gehad het om daaroor te praat nie, en vertel van ‘n 52-jarige vrou wat by een so ‘n praatjie opgestaan het en voor ‘n saal vol mense vertel het dat sy as twaalfjarige verkrag is. Daardie dag was die heel eerste keer in haar lewe dat sy iemand daarvan kon vertel.
“Toe eers kon sy begin met berading en om haar lewe se stukke op te tel. Ek het nog kontak met haar, en dit gaan baie goed met haar.”
‘n Ander keer het ‘n 16-jarige meisie na ‘n praatjie by ‘n skool kom vertel dat sy sedert sy agt is deur haar stiefpa verkrag word. Jes-hulle kon help om die pa te laat vervolg en die dogter uit haar tragiese omstandighede te laat verwyder.
Sy droom daarvan om sentrums vir verkragtingslagoffers by private hospitale landwyd in te rig sodat almal wat hulp nodig het daar gehelp kan word. “Sodat hulle soos prinse en prinsesse behandel kan word, en nie soos iemand wat dit wat hulle oorgekom het, verdien het nie.”
Sy weier om SA te verlaat net om weg te kom van misdaad. “As almal weghardloop, hoe gaan ons dinge herstel? Ons moet saamstaan, en die verandering wees. Ek het so ‘n borsspeldjie van ‘n spieël in die vorm van Afrika wat ek met my praatjies dra. Ek sê altyd mense moet daarin kyk, en die gesig wees wat hulle uit Afrika wil sien terugkyk.” Jes se stigting kort toiletware en koestergoed vir verkragtingslagoffers.
As jy wil help, klik op www.jff.org.za Verkragting-slagoffers kan ook gratis bystand kry deur hul webwerf of facebookblad.
110 maniere waarop jy maklik kan help
Solidariteit is in Junie vanjaar 110 jaar oud, en het besluit om dit te vier deur die Solidariteit Helpende Hand Doen Goed-veldtog. Hul slagspreuk is “Doen Goed, Voel Goed, Wees Goed”, en as jy idees soek om jou deel vir Suid-Afrika te doen, gaan loer gerus by www.helpendehand.co.za.
‘Goed wat vir ons dikwels ‘n klein dingetjie is, is iemand iewers se grootste droom’
Craig Bain (29), ‘n gekwalifiseerde regsgeleerde en bestuurskonsultant van Johannesburg, is ‘n vrywilliger by Reach for a Dream, en help om terminaal siek kinders se drome te bewaarheid.
Craig het in Kaapstad grootgeword in ‘n huis waar albei sy ouers baie betrokke was by liefdadigheid en gemeenskapswerk. Bishops, waar hy skoolgegaan het, het leerlinge ook aangemoedig om by welsynsprojekte betrokke te wees. As student aan die Universiteit van Kaapstad het hy vir die eerste keer met Reach for a Dream te doen gekry.
Hy werk een of twee naweke per maand en doen wat ook al nodig is – van kinders vergesel op hul droomuitstappie, wat ‘n sokkerkliniek of ‘n dag op ‘n rolprentstel of ‘n 4×4-uitstappie kan wees, tot geskenke toedraai en borge nader. Hy geniet dit om te sien hoeveel vreugde kinders kry uit selfs die heel kleinste droom wat waar word. Van die drome ruk ‘n mens aan die hart, soos die een arm, terminaal siek dogtertjie wie se heel grootste wens dit was om ‘n paar stukkies KFC-hoender te kon kry. “Goed wat vir ons dikwels ‘n klein dingetjie is, is iemand iewers se grootste droom.”
Dit bly vir hom hartseer dat byna al die kinders op hul databasis ‘n terminale siekte het en dikwels nie lank leef nie. Wat leer die kinders hom? “Hulle is almal so siek, maar steeds so positief oor die lewe.”
Dit raak hom diep as hy die boodskap kry dat een van die kinders by wie hy betrokke was, dood is. “Dis baie, baie swaar. Maar dis deel van wat ons doen, en ons weet vooraf dit gaan waarskynlik gebeur. Maar dis lekker om dan te weet jy kon ‘n verskil in ‘n lewe maak.”
Hy glo almal moet liefdadigheidswerk doen. “Ons is almal so geseën, en het hope geleenthede, hetsy waarmee ons gebore word, of wat vir ons geskep word. Oral om ons is verskriklike swaarkry en ellende, en mense met geen geleenthede nie. Ek dink dis ons morele plig om terug te gee aan die samelewing.”
Klik op www.reachforadream.org.za as jy wil betrokke raak.
‘Ek beskou die blog as ‘n beginpunt van onder steuning op ‘n klein skaal’
Aneen Kroese (32) van Stellenbosch is ‘n remedierende opvoeder by Somerset-Wes Primere Skool. Sy fokus op geletterdheid in die grondslagfase (Engelse en Afrikaanse kinders) en skryf in haar vrye tyd ‘n gratis opvoedkundige blog wat al duisende kinders se lewe verryk het, en onderwysers se taak baie makliker maak. Sy het die blog begin na aanieiding van vrae waarmee sy in haar eie werk gesukkel het. ‘”n Mens kan lekker na Engelse idees op die Internet soek, maar daar is min inligting en hulp in Afrikaans beskikbaar.”
Aneen het die nood gesien, en het begin om haar eie vrae in blogvorm te begin beantwoord. “Mettertyd het ouers, onderwysstudente, nasorg-tannies en ander opvoeders raad begin vra en het die blog begin groei. Dit is op ‘n paar vlakke ‘n verlenging van wat ek daagliks in die praktyk doen.”
Die blog se raad en idees is gratis. Lesers kan hul eie vrae stel, en mense kan daarop inteken en nuwe inskrywings outomaties in hul e-pos ontvang. As iemand haar nader met ‘n spesifieke probleem, probeer Aneen praktiese idees gee wat ook tuis probeer kan word.
“Maar ek gee ook voorstelle oor moontlike kundiges wat die leser moet kontak, soos opvoedkundige sielkundiges en arbeidsterapeute.”
Aneen het ‘n passie vir onderwys. “Dis heerlik om te sien dat ‘n kind ‘n nuwe vaardigheid bemeester en dit dan herhaaldelik kan toepas, selfs jare later. Soms verstaan die skametjies die nuwe kennis vinniger, en help maatjies in hul klein groepie. So word selfvertroue gekweek, en ontpop die skaam enetjie haar in ‘n leiertjie.”
Vir haar is dit die lekkerste as hoërskoolkinders wat eens in haar remediërende klassie was, kom groet en gesels, of wanneer sy ‘n opregte dankie-briefie kry – “spelfoute en al”.
Haar blog hou haar ‘n uur of twee per dag besig, en die idees kom uit haar studiejare, navorsing, onderwysgidse en van kollegas en kundiges met wie sy nou saamwerk.
“Ek vul dit ook dikwels aan met Internet-skakels na webwerwe wat by die tema pas. Daar is heelwat oorsese onderwysers wat hul eie navorsing en idees in blogvorm publiseer. Dit is ‘n wonderlike bron van inspirasie – veral as ‘n mens met ‘n tweede taal moet werk.”
Deur blog-vriendinne betrek sy ook kundiges in ander provinsies, wat dit baie doeltreffender maak. “Ek beskou die blog as ‘n beginpunt van ondersteuning op ‘n baie klein skaal. Met die moderne tegnologie (soos Internet en sosiale netwerke) sou dit wonderlik gewees het as elke skool ‘n ondersteuningsvorm of klaskamerblog gehad het om ouers van die dag se slimmigheid in te lig of raad te gee.”
Lees Aneen se blog by http://juffer.wordpress.com/