ShowMe South Africa

Vreesloos en uitgesproke

Deur: Ilse Salzwedel. Foto: Johan Wilke. Hierdie artikel is geneem uit die Maart  2012 weergawe van Rooi Rose Tydskrif.

Lindiwe Mazibuko is ‘n vars bries in Suid-Afrikaanse politiek. Sy is uitgesproke, welsprekend en word as ‘n besliste kandidaat vir die DA-leierskap beskou.
Wie is Lindiwe Mazibuko?

Vreesloos en uitgesproke Lindiwe MazibukoLindiwe Mazibuko is op 31 die vierde jongste lid van ons parlement en sedert 27 Oktober 2011 die parlementêre leier van die DA. Sy is ook skaduminister van plaaslike ontwikkeling en grondhervorming, en bekend vir haar politieke uitgesprokenheid en welsprekendheid. Sy het in 2008 as navorser by die DA begin werk, en is binne maande tot nasionate segspersoon vir die party bevorder. Sedert 2009 is sy ‘n verkose lid van die parlement vir die Durban-Noord-kiesafdeling. Die wat weet, meen sy is die toekomstige leier van die DA.

Sy is ‘n klip in die skoen van baie van haar politieke opponente, en is al onder meer ‘n “fake black”, “coconut” en die DA se “tea girl” genoem. Selfs haar perfekte Engelse uitspraak (sy was ‘n leerling van die private skool St. Mary’s) was al onder skoot, en politieke veterane het al gesmaal dat sy niks van die struggle weet nie, en ook nooit in ‘n township gewoon het nie.

Jy hanteer hierdie soort beledigings baie koelkop. Hoe kry jy dit reg?

Dit pla my regtig nie wat mense sê wat my nie eens ken nie. Ek glo ons almal het ‘n reg om ons eie identiteit uit te kerf. Om swart te wees is nie ‘n erewapen wat jy onder die huidige regering kry, of ‘n prys wat jy vir ‘n paar truuks wen nie. En ook nie ‘n skandvlek nie. Ek is swart, ‘n vrou, 31 jaar oud – dis wie ek is. En ek het as kind toevallig in Umlazi-township gewoon. Maar om in ‘n township te woon is tog nie ‘n maatstaf vir swart-wees nie! Wat van ander swart mense wat ook nie in ‘n township woon nie?

Kom jou politieke belangstelling van jou ouers af?

Nee, hulle was glad nie polities nie. My pa was ‘n bankier en entrepreneur wat ‘n paar ondernemings in Umlazi besit het. My ma was nog altyd ‘n verpleegster – sy verpleeg steeds. My politieke belangstelling het begin toe ek met die tweede Irakse oorlog in Brittanje gewoon het. Die gogga het gebyt toe ek die skakerings van meerderwaardigheid en minderwaardigheid en godsdienstige chauvinisme in al die internasionale debatte en politiek gesien het. Ek het gedink hoe baie dit met dinge in SA ooreenstem.

Terug in SA wou ek ‘n politieke joernalis word. Ek het op 24 by die Universiteit van Kaapstad vir ‘n B.A.-graad in mediastudie ingeskryf met Frans en Latyn as vakke. In Latyn het ek net so baie geleer van politiek deur die debatte, argumente en toesprake van wysgere soos Aristoteles. Daarna het ek vir die nagraadse kursus in politieke kommunikasie ingeskryf. Daarvoor het ek ‘n studie oor Marokkaanse politiek gedoen, en ook een oor die DA – spesifiek oor Joe Seremane, Athol Trollip en Helen Zille.

Toe word jy politieke navorser vir die DA. Wou jy aktief in die politiek wees?

Nee, ek was heel gelukkig agter die skerms, maar ek wou ‘n rat in die wiel wees wat verandering in SA meebring, en het besef daar is ‘n groot tekort aan mense wat bereid is om ‘n rat te wees. Ek het geweet die politiek betaal nie (sy lag), maar van my heel eerste dag as DA-navorser het ek gevoel, geweet ek maak ‘n verskil. Dis baie bevredigend om te weet jou verslag lei byvoorbeeld daartoe dat korrupsie blootgelê word, ‘n Buitelander sê nou die dag vir my dit voel vir haar of sy in ‘n geskiedenisboek leef vandat sy in SA werk. En ons is die mense wat elke hoofstuk in hierdie boek help skryf. Ons moet die leisels stewig hou ter wille van volgende geslagte.

Jy is skynbaar vreesloos en baie uitgesproke.

Ek sien myself nie so nie. Ek is maar net grootgemaak om te glo dat niks buite my bereik is nie. Soos om oorsee te gaan studeer. Toe ek op 19 genooi is vir sangoudisies by onder meer die Trinity College of London, het ek nie eers gedink ek sal dit nie kan doen nie. Ek het nie gedink aan geld nie, net geglo ek moet ten minste probeer. Ek is aanvaar, maar het nie geld gehad vir die studie nie, en het toe ‘n werksvisum gekry en gewerk en Europa verken.

Ek dink my vreesloosheid is die een ding wat ek uit my privaatskool-opvoeding gekry het. Dit het my ambisie geleer. As jy iets wou hê en bereid was om hard daarvoor te werk, kon jy dit doen. So, ek sou eerder sê dit kom van my ouers se obsessie met opvoeding af. My ma dink jy het eers klaar geleer as jy ‘n graad het… of dalk twee.

Wat dryf jou polities?

Ek glo regtig die DA is die volgende regering. Ons het ‘n nuwe regering nodig. Die volgende paar jaar is van kritieke belang, en ons moet onthou transformasie is nooit heeltemal klaar nie. Ons moet hierdie deeg aanhoudend knie om te verseker dat dit sal bly rys. Ons moet onthou die aflosstokkie is deur die veterane na ons toe aangegee. Ons mag dit nie verloor nie, en moet dit veilig vir die volgende generasie aangee.

Om swart te wees is nie ‘n erewapen wat jy onder die huidige regering kry, of ‘n prys wat jy vir ‘n paar truuks wen nie. En ook nie ‘n skandvlek nie’

Wat sien jy as die grootste probleme in SA?

Daar is twee groot kwessies. Armoede, werkloosheid, die gebrek aan ekonomiese groei en die gebrek aan gehalte-onderwys is verweef en vorm saam een van ons grootste probleme. Hulle voed mekaar. Die ander een is onverdraagsaamheid: rassisme, seksisme, homofobie … Dit is en bly ‘n nagevolg van ongelykheid in die verlede, maar net soveel in die hede.

En die oplossings hiervoor?

Die regering moet besef ons het ‘n onderwyskrisis. Ons het ‘n noodplan nodig. Almal wat swak onderwys gekry het, gaan dit die res van hul lewe saamdra. Hulle sal nooit kan werk kry met wat hulle op skool geleer is nie. Daar moet gewerk word aan wat nou in skole gebeur, en die wat reeds deur die swak onderwysstelsel is, moet die kans kry om hul vaardighede te verbeter sodat hulle kan werk kry.

Dis ook van uiterste belang dat die huidige arbeidswetgewing hersien word. As jy vir ‘n werklose vra of hy weke lank wil honger ly omdat hy nie op die pos- en salarisvlak aangestel kan word wat Cosatu vereis nie, gaan hy beslis nie ‘n leë maag kies nie. Die regering en Cosatu kan nie net aanhou verwag dat die private sektor mense moet aanstel teen salarisse wat hulle nie kan bekostig nie, of wat vaardighede kort nie.

Ons huidige arbeidswette smoor mededinging, en die klem op vaardigheidsontwikkeling binne die werkplek blokkeer groei. As iemand in ‘n pos bly sit wat hy nie kan doen nie, kan hy nie boontoe beweeg en ‘n nuwe mens ‘n kans gee om die arbeidsmark te betree nie. Die regering het ‘n giftige verhouding met Cosatu. As die ANC moet kies tussen ekonomiese groei en om mag te verloor, sal hy die mag kies. Dis belaglik. Die ANC kies homself herhaaldelik bo die inwoners van SA.

Ons gee die regering baie maklik die skuld as iets verkeerd loop. Maar wat is ons gewone mense se verantwoordelikheid en plig?

Die ANC het in 1994 al begin om politiek aan voorspoed te koppel met hul slagspreuk van “A better life for all”. Mense wil weet wat jy gaan gee as hulle vir jou party stem, nie wat jy gaan doen om hul lewe gesonder te maak, te beveilig en te verbeter nie. Dit werk nie so nie. ‘n Regering se rol is eintlik om dienste te lewer en te beskerm. Nie om te sorg dat goedgesindes tenders en poste kry nie.

Dis ook nie ‘n politieke party of die regering se plig om morele waardes te predik nie – mense moet self hiervoor verantwoordelikheid aanvaar. Maar ons moet lei deur ons voorbeeld. So, ons moet ons uitspreek teen dit wat verkeerd is, of dit nou rassisme, korrupsie of gebrekkige onderwys is.

En die publiek moet die opposisie se hand versterk deur vir ons te stem en ons die kans te gee om in nog provinsies te wys dat ons dinge vir almal kan laat werk.

Onthou, ‘n gesonde, sterk opposisie is ‘n voorvereiste vir ‘n demokrasie. Die toekoms van die DA is onherroeplik verbind aan die toekoms van SA. Deur die regering op hul tone te hou, mense ingelig te hou en instellings soos die howe en openbare beskermer te help beskerm, beperk ons die regering se mag.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.