About ShowMe    Contact ShowMe    My ShowMe Dashboard    Business Directory    Category Sitemap

South Africa

Your world in one place

Wat Sakeslimmes Reg doen

Teks: Ilse Salzwedel.  Artikel uit die September 2015 uitgawe van rooi rose Tydskrif.

Droom jy van ‘n eie onderneming of wonder jy hoe om jou onderneming se deure oop te hou in moeilike ekonomiese tye? ‘n Paar bekende sakemense deel hul kennersraad.

Top 5  suksesgeheime van 40 sakeleiers

Theo Vorster, ‘n sakeman, aanbieder van Sakegesprek met Theo Vorster en skrywer van Sakegesprek het Suid Afrika se veertig top-sakeleiers na hul suksesgeheime uitgevra. Hier is vyf gemendelers:

• Passie Volgens hom kom dit eerste by almal met wie hy in sy boek praat. “Bestee eerder meer tyd daaraan om jou passie te vind as om iets te doen waarvan jy nie hou nie.”

• Werk hard Vorster onderskryf Malcolm Gladwell, skrywer van boeke soos Outliers, The Tipping Point en Blink, se teorie dat dit sowat tien duisend uur se werk verg om iets perfek te bemeester, en sê dis iets wat suksesvolle sakemense gemeen het. “Dis beslis ‘n geval van practice makes perfect.”

• Visie Jy moet ‘n visie vir jouself en jou besigheid hê, iets wat hy ‘n meesterplan noem. Besluit of jy die beste op die dorp wil wees, of die beste in die wereld. Volgens hom is werklik suksesvolle mense gewoonlik nie tevrede totdat hulle die heel beste op hul gebied is nie.

• Sien verandering as ‘n geleentheid Hy beskryf dit as die heel belangrikste eienskap wat werklik suksesvolle sakemense gemeen het. “Die meeste mense met wie ek gesels het vir die boek, het hul besighede na 1994 begin. Omarm die verandering, en maak dit jou beste vriend, anders gaan jy maar sukkel.”

• Moed Dit verg moed om jou sakedroom te volg. “Jy moet dapper wees, en jy moet meer weet as enigiemand anders van dit wat jy wil doen. Besef dat dinge voortdurend verander – bly op die hoogte van die jongste tendense.”

Bron: http://mattr.biz/articies/490/sas-most-successfui- ceos-share-5-secrets-to-their-success

Vir ‘n nuwe onderneming kort jy mos net ‘n goeie idee, of hoe? Maar dis nie heeltemal so maklik nie. Ekonomië wereldwyd kry swaar, en hier in Suid-Afrika sit ons met ‘n klomp unieke faktore wat die ekonomie beinvloed. Tog is daar steeds heelwat geleenthede in ons land vir mense met ondernemingsgees, deursettingsvermoe en die nodige sakekennis. Hier is goeie raad om al die slaggate op die pad na sukses te vermy.

Brand Pretorius

rooirosevoormalige hoof van die McCarthy groep

Brand is al deur vier universiteite vereer met ere-professorate, en selfs na sy aftrede dien hy steeds in die direksies van verskeie groot Suid-Afrikaanse maatskappye. Hy is ook die skrywer van Aan die Stuur, ‘n boek met praktiese wenke oor sakesukses en leierskap. Hier is sy raad:

• Doen behoorlik navorsing oor jou doelmark en mededingers – Dit is noodsaaklik dat jy die profiel, behoeftes en aankoopgedrag van jou potensiele kliente perfek verstaan.

• Maak seker jou produk of diens voldoen aan die behoeftes van die mark – Dit moet onderskei kan word en beter wees as dit wat jou mededingers bied, dit moet relevant wees vir die klient en moet waarde bied.

• Beplan deeglik – Stel ‘n behoorlike sakeplan saam met kundiges op. Ondersoek die moontlike geleentheid deeglik, en identifiseer vooraf al die moontlike risiko’s, asook die oplossings daarvoor.

• Maak jou somme deeglik – Jy moet genoeg bedryfskapitaal hê om die besigheid aan die gang te kry en te hou, en om dit te laat groei.

• Hou uitgawes so laag moontlik Beperk vaste koste, en wees konserwatief met veranderlike koste en leningskapitaal.

• Wees obsessief oor positiewe kontantvloei dit is die lewensbloed van jou besigheid!

•’n Doeltreffende en bekostigbare bemarkingsplan is noodsaaklik – Raadpleeg kenners hieroor. Die skep van ‘n voldoende en volhoubare aanvraag vir jou produkte of dienste bly een van die vernaamste suksesfaktore in besigheid, en daarom moet mense daarvan weet.

• Kies jou personeel reg – Hulle moet die nodige kennis en vaardighede hê, maar dis ewe belangrik dat hulle dieselfde beginsels en waardes as jy onderskryf.

• Gebruik die regte tegnologie – Die internet, digitale bemarking, slimfone, sosiale media en ander tegnologiese hulpbronne maak dinge deesdae soveel makliker.

• Hou jou kliente tevrede – Fokus daarop om goeie verhoudings met hulle te skep wat op vertroue, respek en uitstekende diens gegrond is.

• Wees ‘n kwaliteitleier – Vir Brand is dit ‘n ononderhandelbare deel van sakesukses. “Lei deur jou voorbeeld, respekteer en bemagtig jou personeel en gee vir hulle om. Sonder hul lojaliteit sal jou onderneming nie volhoubare sukses behaal nie.”

Suzaan Heyns

rooirosebekroonde modeontwerper

Suzaan het modekenners en -liefhebbers gaande sedert sy in 2008 haar eie luukse-modereeks bekend gestel het. Haar ontwerpe het haar al verskeie pryse besorg, onder meer die Anglo Gold- toekenning vir die kreatiefste klerereeks by die Afrika-modeweek. In 2011 het die tydskrif Glamour haar as hul “Style Star” aangewys, en in 2013 is Suzaan vereer met die 16de jaarlikse Business Day BASA Innovation Award.

Business Day BASA Innovation Award.

■ Fokus op dit waarmee jy goed is, en delegeer die res na iemand wat jy vertrou – “Kry iemand met ‘n kop vir syfers betrokke. My sakevennoot, Moira Jensen, hanteer die finansiele en administratiewe kant van ons onderneming sodat ek ten volle op die kreatiewe kant kan fokus. Dis immers waarmee ek goed is. Dit maak nie saak hoe mooi die rok is wat ek ontwerp nie – ek moet dit bemark en verkoop.”

• Leer ken jou mark en luister na hulle  “Ons kry ‘n daaglikse verslag van ons winkel (in Melrose Arch) wat vir ons ‘n idee gee van wat ons kliente soek. My kliente het verskillende agtergronde, en party soek byvoorbeeld ‘n langer mou, of ‘n effens langer rok. Dis klein detail wat ek maklik kan aanpas sonder om kreatiwiteit in te boet. Jy moet vinnig reageer op wat die mark vra.”

• Behou jou integriteit en identiteit – “Albei is ewe belangrik. Ons klein onderneming kan nie met groot, internasionale besighede meeding nie, maar ons kan uniek wees. As jou produkte spesiaal en van topgehalte is, sal kliente terugkom. Tree altyd met integriteit teenoor jou kliente op.”

• Hou jou pryse realisties – “Dit kom terug na integriteit. Moenie jou pryse laai net omdat jy bekend is nie – onthou dat jou kliente jou ondersteun het toe jy nog onbekend was.”

• Wees ‘n mentor – “Ons glo aan internskappe. Daarsonder gaan die bedryf nie groei nie. Jy moet teruggee wat jy geleer het.”

• Koester verhoudings binne jou bedryf “Mense dink verkeerdelik dat die modebedryf baie mededingend is. Ek werk maklik saam met ander ontwerpers en vra hulp as iets nie my sterk punt is nie. My eweknieë is my lewenslyn.”

Passie, harde werk, visie en moed bly voorvereistes vir sakesukses. Suksesvolle mense sien elke verandering as ‘n opwindende uitdaging

Leonie Van Rensburg

rooirosevan Graffiti-boeke in Pretoria

Leonie is ‘n bekende in Afrikaanse boek-kringe. Sy sorg ook elke maand dat rooi rose-lesers die jongste boeke teen die beste pryse kan aankoop. Sy het haar dieptekennis van die kleinhandelbedryf oor jare by verskeie bekende boekwinkel-groepe opgebou voordat sy in 2005 haar eie boekwinkel begin het. ‘n Jaar later het sy ‘n aanlyn-boekwinkel begin wat in Afrikaanse boeke spesialiseer en dis tans die grootste kuberboekwinkel in die land. Leonie se maandelikse Boek en Koekboekbekendstellings is van die grootstes in die land, en ‘n gesogte platform vir skrywers. Maar die pad tot hier was nie noodwendig maklik nie, en Leonie het al kosbare lesse geleer.

• Kyk na die kern van jou besigheid – “Beplanning, personeel, kontantvloei- en voorraadbeheer is die kern. Beplan en begroot deeglik, sny alle onnodige uitgawes en bly binne jou begroting. Ek moes byvoorbeeld al noodgedwonge na ‘n kleiner winkel in ‘n kleiner sentrum trek en sny aan personeel en voorraad net om die wereldwye ekonomiese insinking te oorleef.”

• Goeie voorraadbeheer is ononderhandelbaar “Wees heeltyd op die hoogte van wat met jou voorraad aangaan. Herbestel betyds en probeer om altyd voorraad te hê van items wat in aan- vraag is. Ek bestel eerder gereelder kleiner hoeveelhede en sorg so dat ek binne my begroting bly.”

• Bly in voeling met jou mark – “Luister na jou kliente en bly op die hoogte van nuwe tendense.”

• Wees ‘n leier, nie ‘n slawedrywer nie  “Moenie van jou personeel verwag om iets te doen waarvoor jy nie kans sien nie. Behandel hulle met respek. Probeer personeelprobleme onmid- dellik oplos en moenie negatiwiteit in jou maatskappy duld nie.”

• Die regte bemarking – “Ek glo nog al die jare dat n’ tevrede klient die beste promosie is. Ek bestee bitter min aan bemarking en advertensies, maar besef dat sosiale media ‘n kragtige bemarkingsmiddel is.”

• Bid oor alles en vertrou dat jou gebede verhoor sal word – “Moenie jou ore uitleen aan doemprofete nie. As ek het, was ek nie nou hier nie. Glo in jouself en doen jou bes!”

Kry hier inspirasie

• Aan die stuur (in Engels beskikbaar as In the Driving Seat) deur Brand Pretorius (Tafelberg, 2013).

• Sakegesprek (in Engels beskikbaar as Mind Your Business) deur Theo Vorster (Jonathan Ball Publishers, 2009).

• Die Branson Centre of Entrepreneurship (www.bransoncentre. org) bied inspirasie, mentorskap en kursusse vir Suid-Afrikaanse entrepreneurs aan.

• Entrepreneur Magazine (www.entrepreneurmag.co.za) is ‘n gratis aanlyn-tydskrif.

Nog winke wat werk

• Nismark, of iets van alles? Dis aanloklik om soveel moontlik te doen, maar besluit op jou nismark en hou daarby . Word die heel beste daarin en bou jou handelsmerk.

• Groothandel, of ‘n paar eksklusiewe afsetpunte? ‘n Groothandelaar wil jou produkte verkoop, en jy kan jou geluk nie glo nie! Maar is dit altyd ‘n goeie idee? Vra jou of jy die kapasiteit het om genoeg produkte te lewer vir groothandelverkope. Kan jy meer personeel en toerusting en ‘n groter perseel bekostig? Dikwels is stadiger, bestendige groei ‘n beter langtermynopsie.

• Lees die fynskrif in elke kontrak. Moet niks sommer net aanvaar nie.

• Hou jou vinger op die finansiele pols. Sorg dat jy die boekhouding verstaan om probleme betyds te keer. As jy niks van boekhou weet nie, doen ‘n kursus.

• Netwerk, netwerk, netwerk. Wanneer jy met ‘n nuwe besigheid begin, laat weet al jou kontakte daarvan. Moet niemand uitlaat nie, want jy weet nooit watter sinergieë en samewerkingsmoontlikhede hulle dalk raaksien nie.

Facebook IconTwitter Icon

Share

I Love ShowMe
Facebook
Twitter
LinkedIn
WhatsApp
Telegram
Pinterest

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.